’n Mens mis soveel oomblikke wanneer jy opkyk van jou kamera om die ISO-knoppie te kry of die sluiterspoed aan te pas.

Tydens die Weg-fototoer in April het ek vir Corne Erasmus en Martie Potgieter van Port Elizabeth dopgehou terwyl hulle ’n visvanger langs die Choberivier in Botswana afgeneem het. Ek het gesien hoe hulle elke nou en dan die kameras wegvat van hulle gesigte en na iets op die skermpie staar. Eers toe ek naderstaan, het ek besef hulle kyk elke keer agterop die kamera voor hulle die sluiterspoed en lensopening verstel. 

Maar jy kan die ligmeter, sluiterspoed en lensopening sien wanneer jy deur die beeldsoeker kyk – ek is al so gewoond daaraan om dit só te doen, dat ek eers nie kon verstaan waarmee Martie-hulle besig is nie!

Loer aan die onder- of regterkant (dit hang af watter soort lenskamera jy gebruik) van die beeld wat jy deur die beeldsoeker sien. Daar sien jy die huidige verstellings en jy behoort dan die sluiterspoed, ISO of lensopening te kan verander sonder om die kamera weg van jou gesig af te beweeg. Dit kos ’n bietjie oefening voor jou vingers gekonfyt raak daarin om die regte knoppies raak te voel, maar dit is oor en oor die moeite werd. Maak só seker jy mis nooit weer daai ideale foto-oomblik nie.   


Shelley Christians: Botswana
Shelley Christians: Botswana