Loerbroer...

Geduld is die sleutel wanneer jy, soos Dickey Wheeler van Horizon in Roodepoort, wag vir die regte oomblik voor die lens.

Op pad terug van Satara na Balule het ’n groot trop buffels die aandag getrek van ’n klomp motors voor ons – of so het ons gedink. Eers toe ons stilhou en vir een van die mense vra waarna hulle kyk, sien ons die luiperd in die boom, maar net sy stert. Hy het seker probeer wegkom van die buffels af. Ná ’n lang wag – en toe van die karre al gery het – het hy omgedraai en deur die mik vir my geloer...”

Soos Dickey verduidelik, kan ’n mens net ’n deel van die luiperd sien, en dis juis wat die foto so laat uitstaan.

Omdat ons almal bekend is met ’n luiperd, is dit ook nie nodig om meer te sien nie, want jou onderbewussyn voltooi die prentjie sonder dat jy regtig daaraan dink.

Uiteraard sien ’n mens die luiperd se oog eerste raak en dit is ook die fokuspunt van die foto. Maar die bas van die boom op die res van die foto is amper oorweldigend. Tog vorm die harde patrone daarvan eerder ’n kontras met die luiperd se strepe, wat dan groter klem plaas op die dier.

Dickey het die fotoraam in ’n vierkant rondom die luiperd getrek (waar foto’s gewoonlik horisontaal of vertikaal is). ’n Vierkantige foto is gewoonlik geneig om vervelig te wees, behalwe as jy sterk komposisie-elemente gebruik. Die voorste deel van die boom trek ’n vertikale lyn deur die middel van die foto, terwyl die boom in die agtergrond mooi diagonaal tot teen die luiperd loop.

Dis die groen takkie op die voorgrond wat die groot verskil maak. Nie net voeg dit kleur by nie, maar dit voel in die pad, asof jy dit wil wegdruk om die luiperd beter te kan sien. Dit pla ’n mens aanvanklik effens, maar gee die foto tog ’n tikkie ekstra diepte om daarvan ’n wenfoto te maak.


Vat die spoor!

Al is hy sterk op pad see toe, maak Danny Vermeulen van Doringkloof in Centurion steeds tyd vir ’n mooi foto langs die pad.

“Ek het dié foto in Desember laasjaar op die plaas Allendale net buite Graaff-Reinet in die Karoo geneem. Nadat ek geïnspireer is deur ’n swart-wit foto in die Desember-uitgawe, het ek besluit om my foto ook so te verander.”

Deur van die kleur ontslae te raak maak Danny van net nog ’n foto ’n beter foto. Die kleurfoto lyk bloot soos ’n kiekie vir jou familiealbum, maar die swart-wit weergawe lyk of dit in ’n galery kan hang.

Eers lyk die windpomp na die fokuspunt, maar die tweespoorpad wat verby dit loop, is visueel sterker en lei jou oog tot om die heining. Wanneer jy dan hier fokus, is daar nie veel om na te kyk nie en ’n mens staan terug om die geheel te waardeer. Só kom die foto beter tot sy reg, want die detail rondom die windpomp en watertenk – saam met al die interessante skakerings in die lug – maak dit ’n kunswerk in eie reg.