Baan die (Melk)weg

So tussen die boerdery deur toer Tom Kotzé van Schweizer-Reneke ons vasteland plat. En hy het áltyd sy kamera byderhand.

Dit het meer as 300 foto’s gekos om ’n foto soos dié een te kry waarmee ek tevrede was. Ons het by Kubu-eiland in Botswana gekamp waar ons ’n hele paar laat aande en vroegoggende opgeoffer het om foto’s van die Melkweg te neem.

’n Vriend van my, Kobus Kriek, was saam en het gehelp met die beligting. Ons het ’n geel hemp oor ’n flits getrek waarmee ons toe die stam van die kremetart verlig het.

Toe fotografie nog in sy kinderskoene was, kon ’n mens net foto’s in helder sonlig neem. Maar intussen het daar baie water in die see geloop en die digitale era het die fotografiehandboeke herskryf.

Een van die merkwaardigste stappe vorentoe is hoe ligsensitief vandag se kameras is teenoor destydse se filmemulsies. ’n Film met ’n ISO van 1 600 is beskou as ’n “vinnige film”, maar heelwat van die detail op die foto het verlore gegaan weens die greinerigheid wat dié soort film veroorsaak het.

Vandag het Nikon se D5 byvoorbeeld ’n ISO wat strek tot by ’n verbysterende 3 280 000. Dis juis dié sprong in ligsensitiwiteit wat nagfoto’s vir fotograwe nóg meer toeganklik maak. Teen ’n ISO van 3 200 wys Tom se foto die minimum grein en dit beïnvloed die fotogehalte omtrent nie. ’n Mens sien selfs die spikkeltjies van die sterre duidelik tot waar dit bo die kremetartboom omtrent ’n wolk van lig word.

Hierdie wolk – die Melkweg – wys boonop soos ’n pyl na die boom. Dit is ’n slim deel van die komposisie om jou oog te dwing in die rigting van die foto se fokuspunt. Verder gebruik Tom ’n lig om van die detail op die boom te verlig, wat die foto nóg meer gee om na te kyk.

Dit lyk of van hierdie lig ook op die gras op die voorgrond val. Dit skep ’n basis vir die kremetart wat andersins net ’n donker kol sou wees. Die kremetartbome in die agtergrond verleen nog ’n vlak aan die foto, sonder dat ’n mens dit dadelik besef. Die silhoeëtte is ’n herhaling van die fokuspunt en ’n mens sit met ’n pragtige nagfoto.

Middagstraal

Apple iPhone 5s; 4,15 mm, gelykstaande aan 29 mm in 35 mm-formaat; 1/1 250 van ’n sekonde; f2,2; ISO 32

Om die herinneringe van ’n lang staptog in ’n vreemde land te verewig het Karen Cloete van Kaapstad dié natuurtoneel afgeneem.

“Hierdie is die Rakrivier wat deur die Rakov Škocjan-natuurpark in Slowenië vloei. Die rivier ontspring in die Zelške-grotte en vloei bogronds vir sowat 3,5 km waar dit in die Tkalca-grot aan die ander kant van die Karstvallei verdwyn. Dit was herfs terwyl die laaste strale van die son op die rivier speel.”

Een van die belangrikste eienskappe van ’n slimfoon vandag is die kamera. En net soos Karen kan ’n mens al wat mooi is om jou afneem sonder om te sukkel met ’n kamerasak met ’n paar swaar lense oor die skouer.

As ’n reël is ’n steurvlek (flare) nie altyd welkom op ’n foto nie, want dit trek lyne op jou foto wat nie deel vorm van dít wat jy afneem nie. Dit gebeur wanneer die strale van die son direk in die lens skyn.

In dié geval lyk dit omtrent of iemand uit die hemele ’n skerp lig op die rivier skyn, wat net soos op Tom se foto hiernaas soos ’n pyl jou oog lei na waar om te kyk. In dié geval is dit nie steurend nie en sorg eerder vir ’n interessanter foto.

’n Mens kan die foto nóg meer dramaties maak as jy die skadugedeeltes selfs donkerder maak, soos hieronder. 

Dit laat die straal en die groen blare duideliker uitstaan. Dis nou as jy nie omgee om jou foto ná die tyd te verander nie. ’n Selfoon-app soos die een van Snapseed is puik vir dié doel – daarmee kan ’n mens ’n hele paar ander gevorderde verstellings aan jou foto maak.

Wagtend op die wind

Samsung Note 8

’n Windpomp langs die pad vertel ’n mens meer van die lewe, sê Roy Moore van Grabouw.

Hierdie foto is tussen Bredasdorp en Swellendam op die Rûens-pad geneem. Die huisie is al vervalle, maar die windpomp lyk ewe geduldig, so al asof hy rustig wag dat die wind hom kom draai. As mense die geduld van ’n windpomp kan aanleer, sal dit soveel beter met ons gaan. Die foto is nie standaard nie. Nadat ek dit met my selfoon geneem het, het ek dit effens aangepas tot hoe ek daarvan hou.”

Foto’s kan nie net beoordeel word op grond van die komposisie, beligting en die voorwerp nie. Net soos een mens van pampoen hou en ’n ander eerder sal honger bly, verskil dit van mens tot mens waarvan jy hou. Dit geld ook vir foto’s. Roy se foto is dalk nie ’n meesterstuk nie, maar dit roer ’n mens tog.

Die skynbaar eentonige toneel is ’n skatkis van visuele inhoud. Dis eenvoudig mooi, punt, en tipies wat ’n mens op ’n legkaart of olieverfskildery sal sien. Met Roy wat die kleure effens verstel het, kry die foto dieselfde tydlose gevoel van ’n mooi skildery wat teen die muur hang.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier.

Enige foto’s is welkom: van modderbesmeerde kinders in die kampplek, ’n kleurryke toneel van ’n straatsmous se handdoeke tot ’n eensame vetplantjie in die woestyn.

Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, as dit in jou familiealbum pas, is die saak reg. Tom Kotzé wen ’n Camp Cover-kamerasak ter waarde van R520 met sy foto – veels geluk!

Stuur jou foto’s en besonderhede na leon.botha@media24.com