Nikon Coolpix B700; 38,8 mm (200 mm op ’n 35 mm-kamera); 1/320 van ’n sekonde; f5,3; ISO 100

Kniediep...

Sodra hy ’n kans kry om ’n foto in die natuur te neem gryp hy dit dadelik aan, vertel die vyftienjarige Hennie Steyn van Rayton in Gauteng.

Ons het die Krugerwildtuin besoek en een oggend ’n draai gaan ry om te kyk of ons wild kan sien. Op ’n kol het ons verby ’n dam gery en ’n nimmersat gesien.

"Dit is ’n mooi voël om af te neem, maar die gladde water en die weerkaatsing van die voël het dadelik my oog getref. Ek het nie my eie kamera nie, maar ek was saam met oom Ben Arnoldi, ook van Rayton, in die kar. Ek het sy kamera gou geleen om die foto te neem.”

Die voël met sy geel snawel tref omtrent die oog – en ’n mens sien ook nie gereeld water só spieëlglad nie. Dit was dus windstil met net enkele sagte rimpels op die oppervlak. (Dit lyk of die rimpels kom van die krokodil links op die agtergrond...)

Dié rimpels vervorm die weerkaatsing van die voël tot so ’n mate dat dit amper soos ’n moderne skildery lyk. Jy sien steeds in die weerkaatsing detail van die voël sonder dat die beeld té verwronge is. Hennie sê hy het die krokodil eers ná die tyd op die foto gesien, en nou staan die arme voël nog met sy rug na die kêrel met die groot kake...

Die krokodil saam met die takkie wat in die voorgrond buite fokus is, balanseer op ’n aardige manier die foto. Die fotoraam sny deur albei – as ’n reël is dit nie ideaal nie, want ’n mens sal eerder meer op ’n foto wil sien as te min.

Tog verleen dié twee elemente waardevolle konteks oor die omgewing. Sonder dit kyk jy slegs na ’n voël wat in die water staan. Vir ’n nóg treffender foto kan ’n mens die raampie nader trek tot net bo die bene van die nimmersat én ondertoe om die hele weerkaatsing van die voël in te kry.

Dit gee die foto dadelik ’n kunstige aanslag waar ’n mens steeds genoeg detail sien om te weet dis ’n nimmersat. Omdat jy dan nie dadelik weet waarna jy kyk nie, kyk ’n mens langer na die foto terwyl jou brein dit ontrafel en ’n mens die foto verder geniet.


Samsung A5; 4,2 mm (31 mm op ’n 35 mm-kamera); 1/640 van ’n sekonde; f2,2; ISO 50

Bedaard op die water

Toe die oggend se mooi voor hom verskyn, het Gert Greeff van Melkbosstrand nie sy kamera by hom gehad nie: Hy moes ’n ander plan maak.

Ons besluit op ’n toer teen die Weskus af met die wegtrekpunt Pella in die Noord-Kaap. Ons kamp sommer teen die Oranjerivier. Ouder gewoonte staan ek vroeg op en sien dié oggend se mooi sonsopkoms.

"Ek het nie my kamera by my nie – en daar is ook nie tyd om hom gou te gaan haal nie, want daardie goue oomblik terwyl dit lig word, is baie vinnig verby. Daarom het ek besluit om sommer my slimfoon te gebruik om die mooi oomblik vas te vang.”

’n Mens ken die Noord-Kaap so: ’n landskap wat besaai is met oop vlaktes. Dié foto van Gert met die weerkaatsing op die water is ’n versinnebeelding van daardie ooptes.

Die foto het bittermin detail, maar trek tog ’n mens se aandag. Dit is grootliks die komposisie wat daarvoor verantwoordelik is, maar sonder dat ’n mens dit agterkom, speel die vertikale formaat ’n beduidende rol. Die regop formaat is minder algemeen, want ’n mens is meer geneig om horisontale foto’s te neem, én dan is ons ook gewoond aan die plat formaat van byvoorbeeld ’n TV en rekenaarskerm.

’n Mens kyk dus omtrent heeldag deur ’n horisontale “bril” na die wêreld, en dis om dié rede dat ’n regop foto die oog tref, veral as jy die formaat slim gebruik.

Boonop voel die inhoud van die foto tydloos. Die detail beslaan nie eens ’n kwart van die foto nie, maar dit wat daar is – die koppies, die rimpelingss op die water, en, as jy nader kyk, die gras wat ondertoe uit die water steek, is genoeg om jou die stille sonsopkoms self te laat ervaar.

Al kyk ’n mens spontaan eerste na die ligste gedeelte op die foto, is dit nie lank nie voor jy afkyk en die foto van onder uit die donker water na bo absorbeer tot oor die horison – en eindig teen die donker hemel. Die ene rus en vrede.


Canon 650D; Sigma 18-250 mm-lens op 31 mm; 1/60 van ’n sekonde; f5; ISO 100

Daar’s een... en nóg een!

’n Foto met die rondings van ’n brug het Niek Coetzee van Alberton lank ontwyk... tot dié dag by Die Oog-vakansieoord.

Ek en my vrou, Bessie, het Die Oog anderkant Mookgophong ’n paar dae besoek waar ek op hierdie toneel afgekom het. Die brug met sy weerkaatsing op die water het my oog getref.

"Ek soek al jare lank ’n foto waar die ronding van ’n brug onder in die water weerkaats en die prentjie ’n ovaalvorm maak. Ek het ’n hele paar foto’s geneem om die beligting en posisionering van al die komponente reg te kry.”

Die “rondings” waarvan Niek praat, is duidelik te sien – dit lyk amper soos drie groot eiers. Die drie boë van die brug en hulle weerkaatsing vorm in der waarheid ’n patroon. Vir ’n nóg treffender foto kan ’n mens ontslae raak van dít wat buite die patroon staan. Jy kan die foto aan die bokant sny tot teenaan die brug en dieselfde aan die onderkant. Dit beklemtoon die patroon verder.

Wil jy jou fotografievaardighede slyp?

Daar is nou ’n 10%-afslag op ons aanlynfotokursus se aansluitingsfooi. Gebruik die koeponkode WegFoto wanneer jy inskryf: neembeterfotos.weg.co.za/