Blik van binne

Die fotografiegogga het Desiré Smith van Krugersdorp behoorlik gebyt. Nadat sy haar eerste foto’s met haar man, André, se kamera geneem het, het sy sommer gou haar eie een aangeskaf. En kyk net hoe woeker sy!

Ek het hierdie foto op Heidelberg geneem terwyl ons op wittebrood was. Die venster met die spieël en wasbak het my aandag getrek en ek wou graag ’n foto daarvan neem. Vir die beligting het ek met die kamera se verstellings rondgespeel, want ek ken omtrent net die kamera op my selfoon. Die foto het besonders mooi uitgekom en ek is baie sentimenteel daaroor – eerstens omdat dit een van my eerste foto’s met dié soort kamera is, en tweedens oor waar ek dit geneem het. My ma, Sarie Horn, het as ons eerste Kersgeskenk vir ons die toneel geskilder.”

Met die eerste kyk slaan Desiré se foto nie juis ’n mens se asem weg nie, maar gaan staan ’n bietjie stil en kyk mooi. Soos jou oog tussen die drie fokuselemente – die venster, spieël en wasbak – rondspring, prikkel die foto jou aandag tot só ’n mate dat dit amper voel of jy ín die vertrek staan. Dis asof jy self die kalmte ervaar soos jou oog heen en weer tussen die fokuspunte spring.

Soos Desiré verduidelik, het sy ná verskeie verstellings op die kamera die foto geneem. Dié soort beligting (met die grootste deel donker en dan ’n helder kol) kan met baie kameras se ligmeterlesing smokkel.

Om die balans tussen die ligte en donker dele reg te kry is nie maklik nie. Omdat die foto boonop in ’n JPG-formaat geneem is en nie in RAW nie, verloor ’n mens heelwat van die oorspronklike detail. Dit is omdat die kamera die digitale inligting eers prosesseer en dan in ’n kompakte formaat berg waarin verreweg die meeste detail nié ingesluit is nie.

Dit is juis dan krities om die beligting so na as moontlik aan reg te kry wanneer jy die foto neem, want ’n mens is beperk met die donker- en ligverstellings wat jy ná die tyd met ’n fotosagtewareprogram kan doen.

Al wat ’n bietjie steurend is, is hoe die fles se weerkaatsing in die spieël teen die raam raak. Desiré kon net effens na regs gestaan het, maar dit neem niks weg van ’n stil en kalm toneel wat ’n mens ’n oomblik van rus gee voor die wêreld weer aangaan nie.


Tweeling in die bos

Die 10-jarige Ruan Conradie van Franschhoek leen nie sy ouers se fone om te bel of speletjies te speel nie, maar om foto’s te neem.

Samsung Galaxy A5; 3,6 mm-lens (27 mm in ’n 35 mm-kamera), 1/35ste van ’n sekonde; f1,9; ISO 64

Ons was die vakansie by die Tsitsikamma-lodge waar ons as gesin in die denneplantasies gaan stap het. Twee helderbruin bome het tussen die res van die grys bome uitgestaan en my oog getref. Dis toe dat ek my ma, Lizette, se foon leen om ’n foto van die groter toneel te neem met die twee dooie bome deel daarvan.”

Die twee bome staan gewis uit, maar die boom links voor anker die foto, want dit is die eerste voorwerp wat ’n mens raaksien. Omdat dit na regs (in die rigting van die twee dooi bome) leun, dwing dit jou oog ook na diékantse detail op die foto. Dan sien ’n mens nie net die twee dooie bome nie, maar ook dat die twee amper soos ’n tweeling uitstaan, want albei het aan die onderkant ’n ongewone ronding.

Van hier af trek die donkerte agter ’n mens se oog waarin die res van die plantasie se bome verdwyn. Buiten die voorste boom vang die ligkol regs bo ’n mens se aandag – iets wat tot ’n mate steurend is. Vir ’n foto met ’n meer grafiese aanslag kan jy die foto by die verste boomtoppe en net-net onder die stompe van die dooie bome afsny. (sien onder). Dit lyk ook of die foto se kleur aangepas is met ’n blouerige skynsel wat dit ook meer kunstig maak.


Koebaai oor die kaai

Soos hulle die wêreld met ’n Sprite Tourer-wa verken, laat Trevor Geldenhuys van Velddrif selfs nie naby die huis ’n oomblik vir ’n goeie foto verbyglip nie.

Huawei P9; 3,79 mm (39 mm in ’n 35 mmkamera); 1/50ste van ’n sekonde; f2; ISO 80

Ons bly 100 m van die Bergrivier af en neem ons vierbeendogtertjie, Bella, elke aand vir ’n stappie. Teen 5.30 nm. begin sy trippel en wag vir die uitstappie rivier toe. Op dié spesifieke dag was die water spieëlglad en die lug vol van die mooiste kleure wat ek net móés afneem. Ons is bevoorreg om so na aan die rivier met die skone natuur op ons voorstoep te bly.”

Trevor se foto weerspieël dieselfde vreedsame atmosfeer as dié van Desiré, al verskil dit hemelsbreed. Al is dit in die natuur geneem, is al die elemente wat ’n mens se aandag trek, mensgemaak.

Dit voel of die hawehoof in die lug sweef terwyl dit die helderoranje lig onderstreep. ’n Mens kan voor jou geestesoog sien hoe mense van regs op die dekpaadjie loop en dan staan ’n toe hek in die pad. Uiteraard is dit nie vir almal se gebruik nie, maar almal kan ’n mooi foto daarvan geniet.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier. Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie, net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat hande warm maak langs die vuur. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, as dit in jou familiealbum pas, is die saak reg.

Desiré Smith wen ’n Camp Cover-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk!

Stuur jou foto’s en besonderhede na leon.botha@media24.com