HIËNA VS. ROOIJAKKALS, LANGS DIE LIJERSDRAAI-DUINEPAD

Ons het in Junie 2018 in die Grootkolk-wildernis-kamp gebly en een oggend suid gemik. By die Lijersdraai-piekniekplek het ons afgedraai op die kort duinepaadjie. Ons was ongeveer 2 km op dié pad toe ons op ’n ongewone toneel afkom: ’n Jong gevlekte hiëna het langs ’n rooihartbeeskarkas (1 ) gelê.

Die hiëna was besonder donker van kleur. Die hartbees was omtrent halfpad gevreet en die aasvoëls het begin land.

Ons kon nie verstaan wat maak die jong hiëna op sy eie by so ’n toneel nie? Waar was die groot katte? Waar was die hiëna se makkers? Hy was duidelik dikgevreet en slaperig, maar die behaaglikheid is hom nie lank gegun nie...

’n Rooijakkals het versigtig nader gedraf. Hy het aan ’n paar oorskietvleisies naby die karkas gepik. Die hiëna het hom met skrefiesoë dopgehou met sy kop wat op die karkas rus. Die jakkals het dit stadig nader gewaag, maar toe hy ’n happie wil vat, kry die jong hiëna skielik lewe! Hy spring met ’n vaart op en duik op die jakkals af, maar sy poot haak vas aan die karkas en sy kakebeen klap soos hy op die karkas te lande kom.

Ons was verbaas oor die lompheid van die hiëna, wat dalk toe te skryf was aan die vol pens. Die jakkals het die hiëna aanhoudend uitgetart. Ons het bykans vier uur daar verwyl terwyl die toneel voor ons afspeel.

Die hiëna het ’n paar keer bo-oor die karkas na die jakkals gespring, net om in ’n stofwolk te lande te kom. Die jakkals kon elke keer veilig wegkom met ’n happie vleis.

Die volgende oggend was ons weer vroeg op die toneel. Die karkas was skoongevreet en die jakkals en aasvoëls het aan die oorskiet gesmul. Ons raaisel is nooit opgelos nie: Hoe het die hartbees tot sy einde gekom? Is hy deur die enkele hiëna gevang? Net die Kgalagadi weet...

– Annemarie du Plessis 

Annemarie du Plessis, Polokwane Kgalagadi, die “plek van dors”:

Spore in die sand, uitgestrekte vlaktes, kameeldoringbome, blafgeitjies teen sononder... En dan vra mense hoekom ek so gaande is oor die park? Dis hier waar ek elke jaar my siel kom soek – en vind! Die lekkerste is om in die oggend eerste op pad te wees.

Rondom Nossob en Mata-Mata is die sand padlangs sag, en sien ’n mens dus maklik enige spore. Sodra ons ’n katspoor gewaar en die spore loop in dieselfde rigting as wat ons ry, skop die adrenalien en spoorsnyvernuf in.

Ons het al menigmaal die katte só opgespoor. Jy kom om ’n draai, en daar stap hy, boude wat swaai in die pad, met sy swart maanhare wat waai in die wind! Die verrassings is oneindig, en as jy geduldig is, sal die Kgalagadi jou beloon.


JONG JAGLUIPERDS LEER JAG, ROOIPUTS

Die Kgalagadi-oorgrenspark maak ’n gevoel van avontuur in my wakker. In 2017 het ons gekamp by ons gewone kampplek, Rooiputs. Dié 4x4-kampplek is 24 km van Twee Rivieren af, langs die Nossobpad, maar lê net-net in die Botswana-deel van die park. (Solank jy die park by dieselfde hek binnekom en verlaat, hoef jy nie ’n paspoort te bring nie. – Red.)

As jy hier kamp, kan jy minstens ’n uur lank diere dophou by die nabygeleë watergate voordat gaste van die Twee Rivieren-ruskamp opdaag.

Vroeg op ons tweede oggend het ons in ons voertuig gewag totdat die horlosie seweuur wys sodat ons op die eerste wildrit van die dag kan vertrek. Ons het in die rigting van die Kij Kij-watergat gery, maar minder as ’n kilometer op pad het ons op dié toneel afgekom: ’n Jagluiperd wat toekyk hoe haar kleintjies ’n gemsbok probeer vang.

Ek het geskarrel om stil te hou en my Nikon D3200 en 400 mm Sigma-zoemlens raak te vat. Om ons het die eerste sonstrale van die dag die wit grasveld in pienk en rooi getooi. Mamma het ’n oog gehou toe die dapper jonges om ’n ruigte stap waaragter die gemsbok skuil.

Toe hulle van agter die bosse verskyn, was hulle verward omdat die gemsbok nie hol sodat hulle hom kan agterna sit nie. Die driestuks het na hulle ma gekyk, wat net streng staan en toekyk en geen poot verroer het nie. Hulle het nader aan die gemsbok beweeg, wat toe sy voorpote beslis neergestamp het.

Foto: Charmane Baleiza
Foto: Charmane Baleiza

Die boodskap was duidelik: Hier gaan ons vandag baklei. Die gemsbok se plan het gewerk, want die jong jagluiperds het die handdoek ingegooi. Die gemsbok het op sy plek bly staan, maar elke beweging van die jagluiperds dopgehou.

Foto: Charmane Baleiza
Foto: Charmane Baleiza

Toe die jonges hulle by hulle ma aansluit, het Mamma omgedraai, en hulle het gevolg – honger en gereed vir die volgende jagtog. Ons het die hele dag die jagluiperds agtervolg en vele vinnige en onsuksesvolle aanvalle op springbokke gesien. Die span het op ’n hoë duin gerus van waar hulle hulle spens dopgehou het.

Foto: Charmane Baleiza
Foto: Charmane Baleiza

Later die middag het hulle agter ons voertuig geskuil weg onder die oë van gemsbok en wildebees , weer in ’n poging om nader aan die prooi te kom. Sonder enige sukses.

Foto: Charmane Baleiza
jagluiperd
Foto: Charmane Baleiza

Twee dae later – net buite die ingang na Rooiputs – kon hulle ’n springbok plattrek. Hulle het baie vinnig gevreet om seker te maak hulle maaltyd word nie deur enige roof- of aasdiere gegaps nie.

Foto: Charmane Baleiza
Foto: Charmane Baleiza

– Charmane Baleiza 

Charmane Baleiza van Pretoria
’n Wildbesigtiging is nooit gewaarborg nie, maar die Kgalagadi bied altyd ongelooflike geleenthede. Elke dier – klein of groot – het sy plekkie in dié park. Sommige jag in die lug, ander op die grond, en alles gebeur teen ’n wonderskone agtergrond. Rooiputs se mooi nagruim sal my altyd bybly. Ná die aand met die jagluiperds moes ons omtrent in die kampterrein bontstaan vir leeus. Hulle het ongeveer ’n uur lank rondom ons 4x4 gebrul!


ROOFARENDE HOU BUFFET-ete, DALKEITH-WATERGAT

In Desember 2017 was ons ’n week lank in die Kgalagadi-oorgrenspark. Dit was snikwarm en die temperatuur het by 39 °C gedraai. Ons het by Mata-Mata gebly en besluit om so vroeg as moontlik uit te gaan, vóórdat dit te warm raak. Kort verby die Dalkeith-watergat het ons op dié grusame toneel afgekom.

Drie groot roofarende (twee volwassenes en een wat soos ’n jonge gelyk het) het ’n feesmaal gehou by ’n springbokkarkas.

Die voëls was ’n entjie van die pad af. Ons kon nie uitpluis hoe die bok dood is nie; daar was geen roofdiere in die omtrek nie. ’n Paar uur lank het ons gekyk hoe die arende hulleself knuppeldik vreet. Ek het foto’s geneem met my Canon EOS 7D Mk. II en ’n Canon 100-400 mm-zoemlens met ’n 1.4x-omskakelaar.

Twee van die roofarende het aan die sy van die springbok getrek.

Ek het gedink dis ’n maag of ’n ding wat hulle uittrek. Deur die verkyker sien ek toe dis ’n fetus. Dalk het die ma gevrek terwyl die jong bokkie gebore is. Jakkalse het opgedaag en die voëls het padgegee. ’n Mens kan die lammetjie tussen die jakkalse sien lê.

Die jong roofarend het weer sy verskyning gemaak en verder gevreet en selfs die jakkalse verjaag. Toe ons later weer terugkom, was daar nie ’n krieseltjie oor nie. Wie sou kon raai wat net ’n paar uur tevore hier afgespeel het.

– Kate Morris

Kate Morris, Somerset-Wes

Ons eerste keer in die Kgalagadi was in 2015. Sedertdien keer ons gesin elke jaar terug. Dis ’n wonderlike plek vir fotograwe: Hier’s hope roofdiere en hordes voëls by die watergate. Hier is ougat meerkatte wat hulle lêplekke met grond-eekhorings in die kampe deel – ’n mens kan hulle manewales ure lank dophou.

Ons besoek die park gewoonlik in Desember wanneer dit warm en droog is. Soms ervaar ons ’n regte Kalahari-donderstorm met weerlig wat oor die horison dans en swaar reën wat tydelike verligting bring vir die diere. Ons hou veral van die vrede en stilte. Ons ontmoet baie eendersdenkende mense daar en ruil graag stories uit rondom die kampvuur.


EDELVALKE BAKLEI OOR VANGS, POLENTSWA-WATERGAT

Ek het een oggend in Maart 2017 by die Polentswa-watergat gesit en duiwe dophou. Die duiwe het hulle glad nie gesteur aan die edelvalke wat in die omtes sweef nie, maar ek was gereed met my Nikon D750 en ’n Nikon-80-400 mm-lens.

Skielik duik een valk op ’n duif af, en kry hom beet. Hy beweeg sukkel-sukkel met die duif in een poot weg uit die lang gras terwyl hy die edelvalk in die boom dophou. Dit was ’n volwasse edelvalk wat die duif gevang het. Die volgende oomblik kom ’n tweede valk – ’n jonge – op die toneel en ’n skyngeveg vind plaas tussen die twee valke.

Die jonge kry die duif beet en die volwasse valk het daarna eers weggevlieg, maar toe teruggekeer. Die jonge het egter die prooi met sy vlerke beskerm. Die volwasse valk het die aftog geblaas en die jonge het die duif se vere begin afpluk. Ná ’n ruk is hy met sy prooi die lang gras in. My vermoede is dat die volwassene die jong edelvalk geleer het hoe om sy prooi te beskerm.

– Neville Hein 

Neville Hein, Vanderbijlpark

Die rooi duine, ooptes, groot getalle wild en ryk voëllewe, veral roofvoëls, sorg vir hope uitstekende fotogeleenthede vir ’n amateurfotograaf.

Elke oggend hoop ’n mens dat só ’n verrassing op jou wag. Die Kgalagadi is vir my ver om te ry, maar ons sien altyd vreeslik uit daarna. Ons was al in elke seisoen in die park. Augustus is my gunsteling-maand. Dis nie te warm nie, en die veld ook nie baie ruig nie. Die water is ook beperk tot die suipplekke. Nossob is my gunsteling-kamp, want van hier af kan jy suid óf noord ry.


LUIPERDS LEER JAG, KAMQUA-PIEKNIEKPLEK

Ek het dié oggend vroeg deur die Mata-Mata-grenspos gery. Die oggend het veel rustiger begin as wat ek gehoop het, maar net duskant twaalfuur het dinge skielik vuurwarm geword. Dit was by een van daardie kliprantjies op pad na die Kamqua-piekniekplek.

Ek het al vantevore luiperdfoto’s gesien wat hier geneem is en al onsuksesvol probeer om luiperds hier af te neem – en daarom was ek verheug om ’n luiperd en haar twee welpies teen die rantjie te sien loop.

Dis nie ongewoon om ’n luiperd te sien welpies verskuif in die hitte van die dag nie. Dit kan wees dat al die ander roofdiere dan rus, wat dit dus veiliger maak om hulle by ’n vangs te kry, of bloot om hulle by ’n nuwe wegsteekplek te los. Sy het plek-plek stilgestaan om uit te kyk vir gevaar. Toe draai sy en loop reguit na die voertuig toe!

Dis nie aldag dat jy Kalahari-luiperds so rustig en van só naby kan bekyk nie. Die kleintjies het ’n oomblik in die koelte probeer rus, maar hulle ma (in die park ken hulle haar as Miera) het hulle nie juis kans gegee nie.

Sy het geroep en hulle is saam in die droë bedding van die Auobrivier in. Skielik het sy van stap na volspoed oorgeslaan en binne 50 m was dit net ’n stofwolk soos sy die grondeekhoring agterna sit. In een van die foto’s sien jy net stert soos die diertjie probeer wegkom.

Die kleintjies was nie ver agter nie, seker om te sien wat maak Ma. Ons was net drie voertuie wat dié petalje dopgehou het – hier’s min mense, nog iets wat die Kgalagadi so wonderlik maak.

– Heinrich Röntgen  

Heinrich Röntgen, Umdloti

Dis ’n voorreg om tyd in die natuur deur te bring en dit op kamera vas te vang. Dié foto’s is geneem met ’n Nikon D800 met ’n 200-400 mm-f4-lens. My sluiterspoed is altyd vinnig genoeg gestel sodat ek die kamera kan optel sodra ek aksie gewaar. Ek gooi ’n handdoek oor die lensopening om stof uit te hou.

Buiten die verskeidenheid diere is die ander groot pluspunt vir fotograwe die gehalte van die lig. Jy kry nie sommer beter nie!


Kaart
Kaart