Op 29 Desember 2015 het ek uiteindelik daardie geleentheid gekry. Een van hierdie foto’s is al elders gepubliseer (ek het selfs ’n kompetisie gewen), maar hierdie is die eerste keer dat ek die volle storie vertel.

Ek was in die park met my vriende Juan en Charmaine Venter. Ons het saam gekamp by Rooiputs, een van my guntelingplekke in die Kgalagadi.

Ek het dié betrokke oggend teruggery kamp toe nadat ek ontbyt geniet het by die Melkvlei-piekniekplek. Omtrent 2 km verby die Kij Kij-watergat het ek ’n klein trop wildbeeste in die skadu van ’n paar bome gesien. ’n Koei het pas die lewe geskenk aan ’n kalfie wat nog nat op die grond gelê het.

Dit was maar 10.30 vm., maar die kwik het reeds by 38 ºC gedraai. Ek het foto’s geneem van die kalfie wat probeer opstaan. Sy bene was nog maar wankelrig. Ek het my Canon EOS Mk. II gebruik met ’n Canon 500 mm-f4-lens.

Ná ’n paar minute het die kalfie sy eerste treë geneem en ek was verras oor hoe gou hy kon hardloop! Hulle is goed aangepas in ’n omgewing vol roofdiere 2 . Ek het opnuut besef hoe wonderlik die natuur werk.

Daarna is ek terug na Rooiputs vir ’n ruskans voordat ek weer op ’n middagrit sou uitgaan. Gewoonlik verlaat ek Rooiputs vroeg in die middag om ’n goeie plek in die skadu te kry by die Kij Kij-watergat omdat roofvoëls gewoonlik teen daai tyd kom bad en keel natmaak.

Op pad na Kij Kij het ek weer dieselfde groep wildebeeste gesien. Ek het geweet daar is leeus in die omtrek en in die hoop dat hulle sal kom water drink, het ek in die skaduwee geparkeer. Geen leeus het opgedaag nie, en ek het naderhand besluit om terug te keer kamp toe. En toe gebeur iets...

Die trop wildebeeste was op pad na die watergat. Ongelukkig stap hulle toe reg verby ’n paar versteekte leeus. Die leeuwyfies het eerste aangeval en die pasgebore kalfie van vroeër die oggend gevang! En toe konfiskeer ’n maanhaar summier die vangs. Die kalfie het nog geleef.

Dit was moeilik om die gebeure te aanskou. Ek het my emosies probeer beheer en seker gemaak dat my fokus op die leeu se oë bly, en die komposisie binne die raam is. Die groot maanhaar het die welpies toegelaat om met die angsbevange kalf te speel.

Die kalfie het heeltyd probeer opstaan, maar is telkens deur die leeus platgedruk. Ek kon ’n foto neem van die leeu en die kalf wat na mekaar staar (dis my wenfoto).

Die oomblik was vlietend en ek het die sluiter op net die regte oomblik gedruk. Uiteindelik het ek die foto geneem waarna ek op soek was. Die maanhaar het die kalfie vir omtrent vyf minute gelek.

Ek het gehoop die leeu sou genadig wees en die kalfie vrylaat, maar die doodsbyt het gevolg. Ek sal vir altyd die arme kalfie se doodskrete onthou.

Ek het aanhou foto’s neem totdat daar byna niks van die kalfie oor was nie. Ek het my toerusting weggepak en vir oulaas na die toneel gekyk terwyl die venster toerol. Dit was al laat en ek het sowat 15 minute gehad om terug te ry na Rooiputs. Ek was heeltemal afgestomp met die terugry en my lyf het geruk. Toe ek by die kamp na die foto’s kyk, het ek besef hoe besonders die ervaring was.

Die volgende oggend is ek weer na dieselfde plek. ’n Wildebeeskoei – ek dink dit was die ma van die kalf – het in die duine gesoek na haar baba. Dis beslis die hartseerste voorval wat ek al in die natuur gesien het.


Johan Kloppers, Vishoek

Ek is al baie jare verbonde aan die Kgalagadi. In die laat jare sewentig het ek ’n B.Sc.-graad in soölogie en botanie voltooi.

Die ontslape prof. Fritz Eloff was toe die dekaan van die fakulteit soölogie aan die Universiteit van Pretoria en een van my dosente. Hy was altyd passievol oor die Kalahari-woestyn en het die leeus daar nagevors. Dit het my belangstelling aangewakker en ek is vandag dol op die Kalahari, vandaar my jaarlikse besoek

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het, na toast@weg.co.za