Die bekende natuurfotograaf en safarigids Brendon Cremer het dié majestueuse landskap gedurende ’n donderstorm afgeneem.

VIDEO: Brendon Cremer

Bereken jou tydsinterval só

Om ’n tydsverloopvideo af te neem moet jy weet hoe lank die totale gebeurtenis is, bv. ’n sonsopkoms wat 2 uur duur(7200 sekondes), asook hoe lank die voltooide video moet wees, bv. 20 sekondes. (Die aanbevole raamkoers vir die tydsverloopreeks is 24 raampies per sekonde – dis die standaard vir PAL-videosisteme).

Doen nou die som:

Duur van die totale gebeurtenis / (raamkoers x tydsduur van die voltooide video) = aantal sekondes tussen elke foto

7200 sekondes / (24 raampies x 20 sekondes) = 15 sekondes tussen foto’s

OF

As jy wil weet hoeveel foto’s nodig is vir die tydsverloop: Vermenigvuldig die lengte van die voltooide video, bv. 1 minuut, met die standaard aantal raampies per sekonde

60 sekondes x 24 raampies = 1440 raampies

Om jou lewe makliker te maak, kan jy kan ook ’n intervalmeter gebruik om jou tydsverloop te bereken. Hierdie toestel laat ’n mens toe om elke foto op ’n presiese tydstip te neem deur, nes met die formule hierbo, die lengte van die totale gebeurtenis asook van elke foto in ag te neem.

Hoewel nuwer kameras dikwels reeds ingeboude tydsverloop-funksies het, bly dit beter om ’n intervalmeter soos die Syrp te gebruik om ’n reeks foto’s in RAW-formaat af te neem, aangesien mens dit dan later kan verwerk.

Neem jou eie tydsverloopvideo af

  • Kamera: Gebruik ‘n hoëresolusie-DSLR soos die Nikon D850 met goeie vermoëns in lae lig vir nagfoto’s. Die Nikon D500 sal ook goed werk.
  • Lens: Vir landskapvideo’s bly ’n wyehoeklens soos die Nikon 14-24mm f2.8 die beste. ’n Lensopening van minstens f2.8 of wyer laat jou toe om foto’s van goeie gehalte te neem – selfs in swak lig.
  • Basis: ’n Stabiele basis is noodsaaklik vir 'n goeie tydsverloopvideo. Gebruik ’n goeie driepoot of iets soortgelyks om jou kamera en lens te stabiliseer.
  • Filter: Indien jy helder oordag foto’s neem, sal ’n wisselende neutrale digtheidsfilter help om jou sluiterspoed stadiger te hou en sodoende ’n meer aangename “blur”-effek te kry. 
  • Geheuekaart: Dit hang af van hoe lank jou tydsverloopvideo is en uit hoeveel foto’s dit bestaan, maar jy sal waarskynlik ’n groot geheuekaart nodig hê.
  • Batterykrag: Vat ekstra gelaaide batterye saam vir nog batterykrag. Dis veral belangrik as jy ’n lang video wil maak, aangesien die meeste enkelkamerabatterye nie genoeg krag sal hê om deur die nag te skiet nie.
  • Sagteware: Brendon gebruik LRTimelapse 4 saam met Adobe Lightroom CC om sy foto’s te verwerk en te kombineer. Daar is ook ’n aantal slimfoonprogramme op die mark wat goed werk.


Merk jou foto’s met die hutsmerk #odpshutters op Instagram om dit met Outdoorphoto te deel.

Kyk hiér na Outdoorphoto se Instagramblad.