Grové Koch van Riversdal skryf:

Nadat ek en my vrou, Marguerite, een van Weg se Botswana-artikels gelees het, het ons besluit om die skrywer, Willem van der Berg, se aanbeveling te volg en alleen die pad gevat na die Sentraal-Kalahari-wildreservaat. Dit was in Mei 2019 – ons was eers twee verruklike dae lank by die Kubu-eiland in die Makgadikgadipanne en is toe ses dae lank Sentraal toe.

Die laaste twee aande hiervan het ons by die Piperpan gekamp. Vroeg een oggend hoor ons leeus brul, sommer baie naby. Ons het alles gelos waarmee ons besig was en dadelik nader gery om hulle te gaan soek.

In die water naby die kant van die pan het ons reeds die vorige aand iets gesien wat lyk soos ’n ou stomp, maar by nadere ondersoek deur die verkyker en kameralens het ons gesien dis ’n modderbesmeerde aasvoël wat vassit!

By ons aankoms by die pan vroegoggend sit die voël nog in dieselfde posisie – roerloos. Ons was oortuig dat die arme ding reeds dood is.

Kort daarna het twee leeus opgedaag en rustig hulle dors geles. Die een het ná ’n ruk stadig om die rand geloop om te gaan ondersoek instel na die roerlose ding wat in die water sit. Hy het nader gestap, versigtig aan die voël geruik, hom vies-vies aan die nek beetgekry en uit die water getrek.

Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch

Hy was duidelik nie beïndruk met sy “vangs” nie, en het die voël netjies op die grond neergesit en weggestap. Nadat die tweede maanhaar klaar gedrink het, het hy ook omgestap, aan die aasvoël geruik... en weggestap!

Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch

Toe ons later die middag gaan kyk hoe dit met ons geredde aasvoël gaan, was hy skoonveld – seker om sy vriende te gaan soek wat hom daar vir dood agtergelaat het!

Foto: Grové Koch
Foto: Grové Koch

Marguerite en Grové Koch, Riversdal

Foto: Verskaf
Marguerite en Grové Koch, Riversdal

Ons het al vantevore deur Botswana gery op pad Caprivi toe, maar hierdie toer was ons eerste ordentlike vakansie in die land. Die Sentraal-Kalahari se wye vlaktes en natuurskoon is besonders, selfs al was dit baie droog. Saans is die sterrehemel beeldskoon.

Dan is daar die gebrul van leeus weerskante van jou tent van 2.30 vm. tot 5 vm.! Dié twee leeus was net enkele meter van ons tentjie (op die grond!).

Dit het begin met ’n uitgerekte basnoot wat ’n paar keer herhaal word en eindig met al korterwordende gorrelnote. Eers van die een kant van die tent, en dan volg die antwoord van sy broer van die ander kant af.

Jy luister maar net bewend, in stilte, met ontsag.


*Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #187 (Mei 2020) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien. 
WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za