Speldekussing in die woud

Met net een foto het sy al die mooi van die plantasies in die Magoebaskloof-omgewing saamgevat, sê Renette Botha van Pretoria.My man, Jacques, het my vir my verjaardag bederf en ons het vir die langnaweek die Magoebaskloof- en Haenertsburg-omgewing besoek. Ons het deur die plantasies gaan ry om onder meer na al die damme te gaan kyk. Op ’n kol sien ek die sonstrale deur die bome breek... en dis die oomblik wat ek my selfoon gryp en die foto neem. Die lyne, kleure en son pas mooi in mekaar en maak ’n mooi foto. Wanneer ’n mens ná die tyd weer daarna kyk, besef jy hoe wonderlik die natuur is.”

As ’n reël moet ’n foto ’n fokuspunt hê – daardie spesifieke punt waarna jy eerste kyk. Renette se foto slaag wel sonder ’n fokuspunt omdat dit besaai is met detail en as ’n geheel jou aandag trek.

Te veel detail is ook nie ’n goeie ding nie, want ’n mens kan effens verlore raak – tot so ’n mate dat jy nie verder na die foto kyk nie. In Renette se geval is die detail georden en vorm groepe patrone wat jy dan as “eenhede” interpreteer.

Die boonste helfte van die foto is visueel swaarder as die onderkant en ’n mens kan amper vóél hoe die regop boomstamme die blaredak in die lug hou. Dit gee die foto lewe. Die stam wat die blare en takke links bo in die voorgrond dra, is egter nie sigbaar nie en dit lyk amper asof dit sweef, maar danksy die patroon wat die stamme vorm, weet jy instinktief die stamme strek na links buite die raam.

Om die foto af te rond strek ’n ligstreep dwars oor die foto en laat die subtiele komposisie-element werk. Die streep loop diagonaal onder die blaredak in en verleen aan die foto ’n ankerpunt. Hierdie element word in die ligstreep op die grond herhaal – en ’n mens sit met ’n besonderse foto.


Abstrakte plooie

Sony 8230; 180 mm-lens (270 mm in 35 mm-formaat); 1/320ste van ’n sekonde; f5,6; ISO 250

Hy moes tjoepstil bly en nie roer nie, maar sy moeite is beloon met ’n mooi olifantfoto, meen Hein Henning van Brackenfell.Ek en my vrou, Jeanine, het vroeër vanjaar ’n draai by die Victoriawaterval gemaak om ons 30ste huweliksherdenking te vier. Ons het ook Chobe aangedoen en op ’n bootrit gegaan. Twee olifante naby ons het die rivier oorgesteek om op ’n eiland in die water te wei. Die twee het so 30 treë agter die boot verby geswem toe die agterste een besluit hy wil ons van nader bekyk. Ons is aangesê om stil te bly en nie te beweeg nie. Hy het op die boot afgeswem en eers baie naby aan ons weggedraai. Dis toe dat ek my kamera gryp en foto’s neem.

Met daai logge lyf vol plooie is olifante puik fotomateriaal.

As jy ’n meer abstrakte foto van dié besonderse diere wil neem, is dit altyd ’n goeie plan om in te zoem en op ’n spesifieke deel van die dier te fokus – net soos Hein hier gemaak het. Omdat ’n mens goed weet hoe ’n olifant lyk, sien jy genoeg detail om die dier maklik te eien.

Sonder dat ’n mens dit met die eerste oogopslag besef, trek die agtergrond – die watergedeelte regs – ’n mens se aandag en jou oog spring tussen die twee dele. As jy die water afsny, verdubbel die abstrakte aard van die foto tot so ’n mate dat jy vir ’n oomblik mooi moet kyk om te weet waarna jy kyk.

Sodra ’n mens dit dan as ’n olifant herken, is daar hope detail wat jy in verskillende hoeke van die foto sien en geniet: Van die hare by die oor en die twee kopbeenbulte wat ’n mens onder sy vel herken, tot die ooglid wat lyk of dit van rubber is.

Omdat die foto hoofsaaklik een kleur het, trek niks anders jou aandag af nie en ’n mens kan net sit en staar na elke plooitjie en wimper.


Verdwerg

Canon EOS 2000D; EF-S 18-55 mm-lens op 18 mm; 1/125ste van ’n sekonde; f8; ISO 6 400

’n Stoel wat die hemele in troon, kan nie wegkruip vir haar kamera nie, vertel Fredalaine Harmse van Hopefield.Ek het die foto by die Plaasmol-padstal net buite Hopefield geneem. Links op die foto is ’n groot stoel wat as Poplap se Stoel bekend staan. Die stoel is 11,5 m hoog, weeg 2,7 t en is glo die hoogste stoel in Afrika.”

Fredalaine se foto is ’n goeie voorbeeld van watter verskil die vorm van ’n mens op ’n foto kan maak.

Wanneer jy die eerste keer na die foto kyk, is daar heelwat detail wat ’n mens herken, en dan sien jy die reguit lyne van die reusagtige stoel. Hier herken jy die buitelyne van twee mense, en skielik besef jy waarna jy kyk.

Sonder die figure het jy nie ’n benul van die skaal nie, en ’n mens weet ook nie hoe ver of naby die boompies op die horison staan nie. Die water onder is sinvolle negatiewe spasie in die komposisie, maar ’n mens kan ook die foto horisontaal middeldeur sny... wat ’n heel ander karakter aan dieselfde toneel verleen.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier.

Enige foto’s is welkom: van modderbesmeerde kinders in die kampplek, ’n kleurryke toneel van ’n straatsmous se handdoeke tot ’n eensame vetplantjie in die woestyn. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, as dit in jou familiealbum pas, is die saak reg.

Renette Botha wen ’n Camp Cover-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk!

Stuur jou foto’s en besonderhede na  leon.botha@media24.com.