Met ope arms

In sy beroep as mikrobioloog hou hy normaalweg die wêreld deur sy mikroskoop dop, maar die dag toe die wind teen die Limietberg gaan lê, was Ivan Harris van Wellington slaggereed met sy slimfoon.

Ek het hierdie foto twee jaar gelede by die Bobby Harrisdam op ons plaas, Palmiet Valley buite Wellington, geneem. Toe ek die stille waters en weerkaatsing sien, het ek onmiddellik stilgehou om die oomblik vas te vang. Só ’n windstil dag sien jy selde teen die Limietberg. Ek kon nie die hele toneel op een raampie inpas nie en het my foon se panoramiese verstelling gebruik om die hele berg en dam voor my op een foto te kry.

’n Klompie fotoformate, waaronder die 35 mm-kamera s’n, is oor die jare gevestig. Die “35 mm” kom uit die dae van film, met die raampie van die negatief wat 36 x 24 mm groot is. Hierdie afmetings gee ’n aspekverhouding tussen die lang en kort sy van 3:2.

Die foto se lang kant is dus een derde langer as die breedte. Vir foto’s is ’n mens daarom vandag gewoond aan hierdie formaat, en wanneer jy hiervan afwyk, trek dit onmiddellik die aandag.

Ivan se foto is ’n goeie voorbeeld hiervan – die lang formaat staan as ’n panoramiese formaat bekend. As die lens waarmee jy die toneel voor jou wil afneem, nie wyd genoeg is nie, is daar ander tegnieke om dit wel reg te kry.

’n Mens kan byvoorbeeld die toneel in dele opbreek en verskillende foto’s neem wat jy dan met fotosagteware op jou rekenaar las om een foto te maak. Vandag se slimfone het egter ’n ingeboude panoramiese funksie, en dít is die modus wat Ivan gebruik het.

’n Mens beweeg die foonlens stadig van die een kant na die ander terwyl die foon dan die inligting as een foto berg. Dié formaat is dus ’n goeie wegspringpunt vir ’n interessante foto, maar uiteraard moet die onderwerp ook iets wees om na te kyk.

As ’n mens na Ivan se foto kyk, gebruik hy die formaat tot voordeel van die onderwerp. Die lang formaat onderstreep die uitgestrekte berge. Verder beklemtoon die berg se weerkaatsing die berge self en lyk amper soos twee geplooide hande en uitgestrekte arms wat teen mekaar druk.

Die walgedeelte links voor op die foto breek die weerkaatsing, maar dit is nie steurend nie en balanseer eerder met die droë oewer ver regs op die foto.


Fujifilm FinePix SL 1000; 4,3 mm-lens (24 mm in 35 mm-formaat); 1/550 van ’n sekonde; f2,9; ISO 100.

Berg bo, berg onder

Terwyl hulle kamp, maak Flooris en Esther Visagie van Kimberley natuurtonele vir die familiealbum bymekaar.

“Ons is pas terug van twee maande se kamp – ons het ’n maand elk by Forever Swadini en die Henk van Rooyen-oord gebly. By Swadini het ons op ’n bootrit op die Blyderivierpoortdam gegaan. Die natuur om ons was werklik mooi. Dit was herfs en van die bome se blare het al begin verkleur.”

Dis behoorlik ’n dubbele foto – sonder die weerkaatsing val die foto uit ’n kunstige hoek plat. Maar Flooris balanseer die boonste en weerkaatsinggedeelte bykans 100% en sorg vir ’n ewewig in die foto.

’n Mens moet mooi dink voor jy ’n komposisie-element in die middel van ’n foto plaas, want dit kan ’n foto minder dinamies en selfs vervelig maak. In Flooris se geval versterk dit eerder die foto en albei “kante” op die foto is ewe groot. Jy kry eintlik ’n tweede kans (en uit ’n ander hoek) om na al die detail van die natuur te kyk.

As jy wil, kan ’n mens die weerkaatsinggedeelte ligter maak sodat dit balanseer met die bokant. Jy kan ook van die effense blou skynsel verwyder en die kleurtemperatuur effens opstoot vir ’n warmer foto. Maar soos dit is, is daar niks fout met Flooris se foto nie.


Samsung S9 Plus; 4,2 mm-lens (26 mm in 35 mm-formaat); 1/25 van ’n sekonde; f1,7; ISO 250.

Stille waters...

’n Vroegoggend se pastelkleure gaan nie by Merandi Millard van Port Owen verby sonder dat sy ’n foto daarvan neem nie. “Ek het hierdie foto vroegoggend geneem op Saldanhabaai.

"Ons het die aand op ’n boot geslaap wat in die hawe was. Die oggend toe ek opstaan, het ek die weerkaatsing van die bote in die water gesien, en die besonderse kleure was só mooi ek moes dit net afneem.”

Net soos met Ivan en Flooris se foto’s beklemtoon die weerkaatsings op Merandi se foto ook dít wat belangrik is. Dit lyk amper asof die maste die weerkaatsing en die boonste deel aan mekaar vasstik.

Al sien jy ’n klomp verskillende bote, weet jou oog waar om te kyk; dit spring van die kant af op én af van mas tot mas. ’n Mens kan hierdie patroon met die seismiese strepe op ’n Richterskaal vergelyk – iets wat die “stil” foto lewe gee.

’n Mens sou dink die landgedeelte agter die maste sal steurend wees, want dit trek ’n breë streep deur hulle, maar dis ’n ligter skakering as die maste – iets wat eerder diepte aan die foto verleen. ’n Mens kan die skadugedeeltes nóg donkerder maak as jy die foto effens meer skop wil gee, wat op sy beurt ook die kleure sal ophelder.

Stuur jou foto vir ons... ... en ons plaas dit dalk hier. Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie, net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie.

  • IVAN HARRIS wen ’n Camp Cover- kamerasak ter waarde van R520 met sy foto – veels geluk! Stuur jou foto’s en besonderhede na leon.botha@media24.com