Een teen drie

Sy was eintlik besig om met haar nuwe foon se kamera te speel toe Aneke Kruger van Bloemfontein vandeesmaand se wenfoto geneem het.

Ons familie het by Mtunzini vakansie gaan hou en die dag saam afgestap strand toe. Omdat ek nie eintlik ’n swemmer is nie, het ek op die strand bly staan terwyl die ander in die vlak branders begin speel het. My sussie, Zanalee Wolmarans (heel links op die foto), wou nie nat word nie, maar my kêrel, Jade Hastings, het nietemin probeer om haar nat te spat. Dis my ma, Adéle van der Merwe (met die wit kopband) en my tannie Zelda Meyer, agter op die foto. Vir ’n meer dramatiese foto het ek my foon se kamera op swart-en-wit gestel en ’n hele paar raampies geneem. Hierdie spesifieke een is een van my gunstelinge.

Huawei P10; 3,95 mm (27 mm in 35 mm-formaat); 1/600ste van ’n sekonde; f2,2; ISO 50

’n Goeie foto is een wat jou laat kyk, laat nader staan en weer laat kyk, en dan nóg ’n keer laat kyk. Aneke se foto het twee vlakke wat albei boonop saamwerk: goeie komposisie en die energie tussen die mense.

Die foto se komposisie is ingewikkeld, maar dit werk soos ’n bom. Die komposisie self bestaan uit twee sterk elemente: die plasing van die mense en die res van die omgewing. Die see en die horisonlyn trek ’n breë streep deur die foto wat boonop reg in die middel deur loop.

’n Komposisie-element in die middel soos dié kan eentonig wees, maar dis hier waar die strand en die lug saam ’n rol speel. Die seelyn is eerder die balanseerpunt tussen die donker strand en gedetailleerde lug, wat elk ook amper ewe groot is op die foto.

’n Mens sien die mensfigure eerste raak en jou oog gaan outomaties na die groter een toe, omdat sy nader aan die kamera is. Zanalee kyk na die ander mense en jou oog volg haar om te kyk waarna sy kyk. ’n Mens beleef die energie tussen die mense en jy kan amper voel hoe Jade daardie koue seewater gaan spat. Zanalee trap boonop net met een voet vas en jy weet hoe sy volgende van die water af gaan wegtree.

Verder balanseer die drie vroue as ’n groep ook met die vorm van Jade se figuur. Met Zanalee wat vorentoe tree, oor na die ander komposisie-element toe, word die twee vlakke met mekaar verbind.

’n Mens kan die fotoraam nader om die mense trek as jy van die negatiewe spasie ontslae wil raak sonder dat die foto platval. Die mense se gesiguitdrukkings en lyfbewegings vertel genoeg van die oomblik en jy kan nie help om te glimlag en jouself in die situasie voor te stel nie.


Ford-treflik

Sy trap die wêreld vol met haar bergfiets, maar terselfdertyd gryp Amorie Wagenaar van Rawsonville na haar selfoon wanneer sy op ’n mooi toneel afkom.

Ek en my vriendin Alet Rootman het een Saterdagoggend Contermanskloof op ons bergfietse verken. Ons het die roete geniet en die natuurtonele was fantasties. Kort-kort moes ons stilhou vir ’n foto, en later het ek al soveel foto’s geneem dat my foon se battery pap geword het. Toe ek die Ford-bakkie in die veld sien staan, móés ek dit net afneem en het Alet vir haar selfoon gevra. Ek is ’n gaande oor Ford-bakkies ek kan nie help om te dink waar hierdie een al rondgery het nie. Ek wonder watter stories hy sou kon vertel.”

Huewei P9 Lite; 3,79 mm (27 mm in 35 mm-formaat); 1/250ste van ’n sekonde; f2; ISO 50.

Met die hek wat oopstaan, voel ’n mens lus om self nader te staan en te kyk wie tuis is. Die bakkie staan tussen die heining en die oop hek en is die fokuspunt, maar die steurvlek (flare) bo die dak gee die foto ’n mistieke gevoel.

Die steurvlek maak die skaduwees aan die kant van die foto gryser en hulle verloor hulle absolute swart dele. Sulke vlekke kan steurend wees, maar in dié geval verleen dit eerder aan die foto ’n nuwe dimensie. Dis amper asof iemand hier by nr. 10 ingestap en die hek oopgelos het. Dit lyk ook of die toneel al ’n jaar of drie so staan... As Amorie wou, kon sy effens na links staan sodat die bakkie in die foto nie aan die hek raak nie, maar soos dit is, bly dit ’n toneel waaroor ’n mens wonder... waar’s die mense?


Die regte hoek

Dit was ’n dag vol verrassings... en toe lewer dit boonop ’n mooi foto op vir Johan Nortjé van Midrand.

“Ons het Namibië besoek en vir my sestigste verjaardag het my mense vir my ’n paar verrassings beplan. Die oggend het ons ’n rit in ’n lugballon meegemaak, en later die dag Sossusvlei binnegery. Rondom 3 nm. het ek hierdie duin gesien, en met al die mooi lyne en tekstuur kon ek nie anders as om die skoonheid van die natuur te geniet nie.”

iPhone 7 Plus; 6,6 mm (59 mm in 35 mm-formaat); 1/1 100ste van ’n sekonde; f2,8; ISO 20

’n Duinfoto kan baie maklik vervelig wees, en daarom moet ’n mens regtig ’n besonderse foto neem voor dit die aandag gaan trek. Maar as die duin se besonderse kleur hom teen die omgewing laat uitstaan, én boonop soos ’n driehoek lyk, wil ’n mens weer en weer kyk.

Die foto het ’n subtiele “tema” van geometriese vorms met reguit lyne, iets wat baie onnatuurlik is in die natuur. Die duin maak ’n driehoek en die donker sand regs op die foto ’n trapesium. ’n Reguit lyn loop ook in die middel deur die foto, tussen hierdie twee vorms deur. Selfs die kleiner duin regs agter maak ’n onderstebo driehoek.

Die informele vorms van die bome, die oneweredige wolke asook die geplante stompe links (wat in ’n krom lyn staan) balanseer die rigiede lyne. Al is die duin die hooffokus, anker die groot boom heel links jou oog. Dis omdat die pad links teen dit vasloop van waar ’n mens dan vanself na die res van die foto kyk.

Stuur jou foto vir ons... ... en ons plaas dit dalk hier.

Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie, net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met ’n gróót kamera of jou foon geneem is, dit maak nie saak nie.

  • Aneke kruger wen ’n Camp Cover-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk!

Stuur jou foto’s en besonderhede na  leon.botha@media24.com