Bomber Kent 

@bomber0707

Nikon D750 Sigma 120-300 mm-lens

BOMBER SKRYF: Hierdie hiëna-wyfie is padlangs tussen Shimuwini en Mopani in die Krugerwildtuin afgeneem. Sy het dié ribbes (dalk ’n buffel s’n?) elke slag vir sowat 50 m gedra voordat sy dit neergesit, haar greep verander en dan weer opgetel het om verder te dra.

Dit was duidelik swaar werk! Ons het haar omtrent 40 minute lank al met die pad langs gevolg, maar haar later agtergelaat.

TOAST SÊ: Dierefoto’s wat unieke gedrag toon, is altyd interessanter as ’n skoot van die dier wat net daar sit of lê en niksdoen. Bomber se hiëna is duidelik op ’n missie. Dalk is daar kleintjies iewers versteek wat wag dat Ma iets te knage bring?

Of dalk hou sy daarvan om in stilte te eet... ’n Mens weet nooit wat volgende in die natuur gaan gebeur nie. Wanneer jy die tyd het, volg ’n dier wat lyk asof hy met iets verdags besig is. Ek hou van die effense lae hoek waaruit die foto geneem is. Dis natuurlik nie toelaatbaar om in die wildtuin uit jou motor te klim nie.

Jy moet dus die terrein lees en jou kar só posisioneer dat jy laer as jou voorwerp is. Deur die hiëna vir ’n ruk te volg kon Bomber dit maklik regkry. Spur kan hierdie dalk gebruik as advertensiemateriaal: enetjie vir die pad?


Japie Bornman

@impactphoto78

Canon EOS 760D Sigma 150-600 mm-lens

JAPIE VERTEL: Hierdie foto is in die wildtuin tussen Skukuza en Krokodilbrug op die S114 geneem. Ek is een van daai fotograwe wat glo “minder is meer”. Dis goed om iets aan die kyker se verbeelding oor te laat. Dis hoekom ek net op die olifant se slurp gefokus en die res van die kop afgesny het. Olifante se slurpe boei my.

Ek wou wys hoe handig hulle daarmee is: Die dikste tak kan afgebreek word, én die fynste takkie kan opgetel word. Hierdie bul het ’n boompie binne sowat twee minute platgevee deur net sy slurp te gebruik.

TOAST SÊ: Hoe langer jy by ’n dier sit en hom afneem, hoe fyner begin jy kyk. Jy begin oplet hoe die olifant met sy slurp werk, of hoe die vel se skurwe tekstuur byna soos boombas lyk.

Dis dalk ’n poot wat jou aandag trek, of ’n stert, oor of oog. Hoe langer jy kyk, hoe meer sien jy. Jy neem dalk heel eerste ’n paar foto’s van die hele dier, maar zoem dan in op die details. Elke fotograaf kyk anders na ’n ding – die vraag is: Wat is jóú ding? Japie se ding is slurpe, en dié foto vertel ons iets van ’n olifant wat dalk verlore sou gaan in ’n tropfoto.

Ek hou van die teksture hier, maar ook van die kleurkontras tussen die groen blare en die donker slurp. Danksy die gebruik van ’n lang zoemlens is die agtergrond uit fokus gegooi sodat die slurp uitstaan.


Elmar Venter

Canon 5D Mk. III Canon 17-40 mm-lens

ELMAR SKRYF: Ek het drie dae lank elke middag na hierdie plek by Kogelbaai (naby Gordonsbaai in die Wes-Kaap) gery met die hoop om ’n treffende foto te neem. Die eerste twee middae was wolkloos, en hoewel dit steeds ’n mooi toneel was, was daar net nie genoeg om die foto te laat uitstaan nie. Die derde middag het mooi cirruswolke ekstra oemf aan die landskap verleen.

Ek het ’n stadige sluiterspoed gekies en vir ’n brander gewag sodat die water die voorgrond vul.

TOAST SÊ: Ekstra oemf is wat ons soek hier by “Mense se lense”!

Elmar het ’n driepoot gebruik, wat dit moontlik gemaak het om ’n stadige sluiterspoed van 1/20 van ’n sekonde te gebruik.

Doen gerus die moeite om jou driepoot saam te dra (ja, ja, dis swaar!) vir landskaptonele, selfs wanneer die lig nog goed is. Met ’n driepoot aan jou sy openbaar nuwe fotogeleenthede hulleself. Skielik kan jy nou daai wasige watervalfoto neem waarin die water soos watte lyk. Of gee die golwe lewe – ’n gevoel van beweging – soos Elmar gemaak het.

Deur ’n stadige sluiterspoed korrek aan te wend kan jy enige landskapfoto meer woema gee. Selfs wanneer die wind deur lang gras waai, verrig ’n stadige sluiterspoed wondere. Sonder ’n driepoot kan jy nie regtig foto’s neem met ’n sluiterspoed stadiger as sowat 1/60 van ’n sekonde nie. Elmar se puik see-en-berglandskap is die soort foto wat jou behoort te oortuig om volgende keer jóú driepoot saam te dra. 


Simone Lombaard

@simmy2222

Nikon D3100 Nikon 18-55 mm-lens

SIMONE VERTEL: Ek woon in Mthatha, maar besit ’n kothuis in Port St. Johns waarheen ek so twee keer per maand gaan vir rus en vrede. Die sonsopkoms dié oggend was eenvoudig perfek – die kleure was ongelooflik, en ek’s net bly ek was daar om dit te sien.

TOAST SÊ: Ja, hierdie foto gaan oor besondersheid. Ons is bederf in Suid-Afrika, want tonele soos dié is vir baie van ons toeganklik.

Die lig was dalk net vir minute – of sekondes – so mooi soos dit hier lyk. Die les hier is jy moenie tyd mors nie. Moenie te lank dink nie. Skakel jou kamera aan en neem die foto. Jy kan later verstellings maak: Vang eers die oomblik vas.

Simone se horison is ’n bietjie skeef, maar dit werk op ’n manier in hierdie komposisie. Die oranje-pienk-rooi lug is een ding, maar dis die weerkaatsing van die kleure op die nat sand op die voorgrond wat die foto een maak waarmee jy maar op Facebook of Instagram kan spog.


Jonathan McCormick

@joffersphotography_

Canon 7D Mk. II Canon 100-400 mm-lens

JONATHAN VERTEL: Ek werk in die Krugerwildtuin as veldgids.

Ons het vroeg een wintersoggend van die Singita Lebombo Lodge af uitgery. ’n Spoorsnyer saam met wie ek werk, het skielik gesê ek moet die voertuig stop en terugstoot. Dit het ’n paar minute geneem voor al die gaste dié Europese naguil kon raaksien.

Omdat naguile uiteraard nagvoëls is, was dit ’n seldsame gesig om een in die dag te sien.

TOAST SÊ: Jonathan se foto wys ’n redelik algemene voël soos ons hulle selde sien – naguile is meer dikwels ’n voël wat jy hoor, of dalk vinnig sien opvlieg in jou kar se kopligte wanneer jy iewers in die donker op ’n verlate grondpad ry.

Sy verstellings was: sluiterspoed 1/50 van ’n sekonde, lensopening f5.6 en ISO 400. Daai sluiterspoed grens aan kansvat, want dit is baie stadig vir so ’n groot zoemlens. Jonathan kon egter steeds daarin slaag om die kamera stil genoeg te hou sodat geen ooglopende kameraskud sigbaar is nie. Ek hou van hoe die naguil duidelik uitstaan teen die agtergrond – danksy die zoemlens en die lae f-stop van f5.6 – ondanks die feit dat die voël andersins goed gekamoefleer is op die tak.

Die beste van als is die naguil se oog wat glinster. Dít maak Jonathan se foto spesiaal. 


Eddie Coombes

Canon 550D Canon 18-135 mm-lens

EDDIE VERTEL: Jy het geluk én geduld nodig om ’n foto soos dié te neem. Ek was in die Krugerwildtuin naby die Sirheni-kamp. Daar was twee klipspringers op die koppie – een was egter meestal buite sig onder die kremetart. Dié een het egter op die regte tyd op die regte rots geklim.

Boonop het hy geposeer – seker vyf minute lank – eers diékant toe, dan daai kant toe! My vriend het bestuur en kon die voertuig trek soos ek dit wou hê. Ek het die kamera en lens laat rus op ’n boontjiesak wat aan die venster gemonteer is – vir meer stabiliteit. My sluiterspoed was 1/640 van ’n sekonde teen f13 en ISO 800.  

TOAST SÊ: Eddie het die laaste minute se daglig reg benut – dit was al amper sesuur toe hy dié wenner van ’n foto geneem het, maar deur sy ISO op 800 te stel (en sodoende die kamerasensor meer ligsensitief te maak) kon hy steeds ’n vinnige sluiterspoed gebruik.

Al die beste elemente van ’n goeie silhoeëtfoto is hier teenwoordig. Omdat die koppie hoër as die omliggende landskap is, staan dit perfek uit teen die laatmiddag se oranje lug. Nou kan die twee ikoniese silhoeëtte – die klipspringer en kremetart – tot hulle reg kom.

Dit sou selfs sonder die klipspringer ’n sterk foto gewees het, maar dis die klipspringer wat dit ’n klassieke Kruger-oomblik maak. Die komposisie is perfek, met die bokkie wat die hoek links onder in die foto anker, en die boom wat die res van die raam vul. Die kersie op die koek? Die horinkies wat netjies uitstaan.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom?

Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat?

Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe?

Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif

Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by www.netwerk24.com/weg/.