Foto: Karin Lategan.

Karin Lategan

Canon 7D Mk. II Sigma 150-600 mm-lens

Toast sê: In Suider-Afrika is min diere mooier as die koedoe. Dis ’n groot bok wat daarvan hou om vertonerig teen die landskap uit te staan – anders as iets soos ’n kamerasku duiker of grysbok wat vinnig in die bosse wegduik. Op ’n Weg-fototoer deur Botswana kry jy ’n paar keer kans om dierefoto’s te neem.

Die toer eindig in die Chobe- nasionale park, waar jy seekoeie, buffels en olifante kan afneem. Maar vóór dit nog, wanneer die toer deur Namibië se Zambesistreek swenk, kry jy kans om veral boksoorte soos koedoe, lechwe, bastergemsbok en swartwitpens in die Mahango-wildreservaat af te neem. Dít is waar Karin hierdie foto geneem het.

Die lig was ’n bietjie van ’n tameletjie, want die koedoe staan in die skaduwee van ’n boom. Maar daar was seker ’n paar wolke voor die son, want die kontras tussen die skadukol en die ooptes in die agtergrond is nie so groot nie. Die foto werk omdat die koedoebul se horings duidelik gesien kan word. Die profiel is ook sterk, met die bok wat kant toe kyk. Probeer altyd oogkontak behou:

As die koedoe met sy boude na jou gestaan én weggekyk het na die oop grasvlakte op hierdie foto, dan sou dit nie goed gewerk het nie. 


Foto: Reline du Toit.

Reline du Toit

Canon PowerShot G3 X

Toast sê: ’n Hoogtepunt van ’n Botswana-vakansie is ’n 45 minute lange vlug oor die Okavangodelta, wat jy van die Maun-lughawe af kan onderneem. (Dis nie deel van Weg se toerpakket nie; jy betaal ekstra vir die vlug.)

My raad aan mense is altyd om hierdie vlug in die eerste plek net te geniet. Dis dalk jou eerste (en laaste) kans om die delta uit die lug te sien. Dis besonders: Die delta sprei skielik hier onder jou uit soos ’n tuin waaroor vloedwater uitgelaat is.

Kyk fyn, en jy sien dalk kameelperde, olifante en seekoeie raak. Daar’s geen ander plek soos hierdie nie.

Moenie te veel sukkel met jou kamera nie. Dis helder daglig; dus behoort jou kamera sy werk te doen, al sit jy hom op outomaties. Reline se sluiterspoed van 1/500ste van ’n sekonde was vinnig genoeg om enige bewegings-blur van die vibrasie in die vliegtuig teen te werk.

Jy gaan soms die vlerk van die vliegtuig in jou raam kry – jy kan dit altyd later op die rekenaar uitsny as dit jou pla.


Foto: Dalene Hattingh.

Dalene Hattingh

Canon EOS 500D Canon 18-55 mm-lens

Toast sê: Dalene en haar man, Frik, is van Hazyview in Mpumalanga. Frik is nie eintlik ’n ou vir skoene dra op vakansie nie en gelukkig was die sand van Botswana net die plek om weer soos ’n kind sonder skoene rond te stap.

Op ’n toer deur Botswana besoek jy noodgedwonge ook dorpe – hierdie is in Maun geneem. Maar ook hier is fotogeleenthede vir die wakker reisfotograaf. Ja, jy is dalk hier om foto’s van visarende en leeus te neem, maar die donkies langs die pad vertel ook ’n Botswana-verhaal.

Dalene se sluiterspoed van 1/400ste van ’n sekonde was vinnig genoeg om die effek van enige onverwagte vinnige beweging van die donkie (wat is die kans!) of perde te beperk. Maar gelukkig het hulle geduldig geposeer.

Die lig in die agtergrond is baie helder, maar Dalene het die beligting op die regte plek (die skaduwee van die boom, daar waar Frik staan) geneem. Hoewel die karre op die pad agter die boom jou aandag aftrek, is dit ’n oulike reisfoto wat die kleinkinders by die huis gaan laat giggel.


Foto: Ferdinand Kidd.

Ferdinand Kidd

Nikon D7100 Nikon 18-300 mm-lens

Toast sê: Geelbekneushoringvoëls is ’n hanse lotjie. Hulle laat hulle nie twee keer nooi nie; as jy weer kyk, dan hop hulle hier naby jou kampstoel rond en kyk jou so koponderstebo aan asof jy ’n Marsman is wat hier in hulle midde geland het.

In Botswana het elke kampplek sy geveerde inwoners: spreeus, fisante, katlagters en kwêvoëls kom kuier gereeld. Daarom is dit belangrik om nie jou kamera weg te pak wanneer jy in die kampterrein is nie. Dis dan jou kans om goeie foto’s van die kampkarnallies te neem.

Jy kan maar net op een plek stil sit – die voëls sal gewoond raak aan jou teenwoordigheid en al nader beweeg. Ferdinand het hierdie mooi foto in die Khama Rhino Sanctuary net noord van Serowe geneem. Ek hou van die karvenster wat die boom se takke in die agtergrond weerkaats. Die karvenster verskaf ’n ongewone “raam” waarbinne die voëls sit.


Foto: Jacques du Preez.

Jacques du Preez

Canon EOS 760D Canon 18-135 mm-lens

Toast sê: Dis belangrik om nie van die klein dingetjies te vergeet nie. Jy sien nie elke dag olifante wanneer jy deur Botswana toer nie; kyk ook wat hier by jou voete aan die gebeur is.

Dalk is daar ’n duisendpoot aan die verbykatrol, of ’n toktokkie aan die tok. Jacques het dié foto by die kampplek naby die Tsodiloheuwels geneem. Ons groep wou sonsondergangfoto’s neem toe ons op hierdie toneel afkom: Geel skoenlappers wat in die klammigheid van die wielspore baljaar. Dis belangrik om so laag as moontlik te probeer kom wanneer jy gediertes op die grond afneem.

Moenie lui wees nie: Gaan lê plat op jou maag om die beste perspektief te kry. Sit op jou hurke as jou skarniere nie meer so goed werk nie. Hierdie foto se sterkpunt is die kontras tussen die geel skoenlappers en die donker grond. Die fatsoene van die skoenlappers en hulle fyn beentjies laat jou lank na die foto kyk. 


Foto: Anelé van Wyk.

Anelé van Wyk

Canon PowerShot SX50

Toast sê: Jy kan enige kamera op ’n Weg-fototoer saambring – ons fotogidse sal jou help om die beste uit jou toerusting te kry, of dit nou ’n duur D-SLR met klompe lense is of ’n mik-en-druk wat in jou hempsak pas.

Ek sê altyd vir mense elke kamera het sy beperkinge. ’n Groot D-SLR met ’n meneer van ’n lens is swaar – en dus lomp om saam te vat op jou mokorovaart.

Anelé se kamera is ’n PowerShot SX50: ’n superzoem (of brugkamera, so genoem omdat dit die gaping oorbrug tussen D-SLR-lenskameras en meer kompakte mik-en-drukke) wat iets van als kan doen sonder om ’n plaas se geld te kos.

Dis ’n puik reiskamera omdat hy nie swaar om jou nek hang nie. Jy kan nabyfoto’s (makro) daarmee neem, maar ook inzoem op ’n hiëna wat doer ver sy snoet uit ’n erdvarkgat steek.

Dié sonsondergangtoneel oor die Botetirivier was die perfekte tyd vir ’n kamera soos die PowerShot SX50 om sy slag te wys – danksy Anelé se behendigheid daarmee, natuurlik (want elke kamera het ’n “bestuurder” nodig!).

Stuur jou beste reis- en natuurfoto's vir ons!
Hoekom?

Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat?

Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe?

Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif

Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by www.netwerk24.com/weg/.

Lus om saam te toer?

Leer beter foto's neem in Botswana

Wil jy ook foto’s soos hierdie neem? Kom saam op Weg se 11 dae lange fototoer deur Botswana – een van ons joernaliste ry saam en help jou om die beste uit jou kameratoerusting (enige modelle welkom!) te kry.

Jy ry jou eie kar, maar toer saam met ’n gesoute gids en sy span wat die lewe vir jou makliker maak oral waar jy gaan: Hulle maak die kos én jou tent word vir jou op- en afgeslaan.

Tussendeur kom jy by plekke soos die Mahango-wildreservaat (Namibië), Chobe- nasionale park (Botswana) en Victoriawaterval (Zimbabwe) waar jy vakansiefoto’s gaan neem wat almal by die huis op hol gaan hê.

Datums vir 2018: 15-25 Maart en 15-25 Julie.

Besprekings: 044 535 0065; info@mpafa.com

Volg Weg op Instagram @menseselense - merk jou foto's #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrif go! is @gomagsa.