Volg ons op Instagram
Weg se Instagramblad is @menseselense – merk jou foto's #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrif go! is @gomagsa.


Ella Labuschagne

@ellaplabuschagne; Canon EOS 700D; Canon 55-250 mm-lens

ELLA VERTEL: Ons woon in Mbombela (Nelspruit) en besoek elke maand vir twee dae die Krugerwildtuin om batterye te laai. Die wildtuin gaan nie vir my net oor die Groot Vyf nie, maar ook die kleinste diertjies en voëls.

Ons ry gewoonlik in die suide rond omdat dit naby ons tuisdorp is. Van my gunstelingplekke om foto’s te neem is Lake Panic, die Biyamiti-stuwal, Transportdam en Shitlhavedam. By die Onder-Sabiebrug is van die mooiste sonsopkomste. By die Sunsetdam is dit weer die sonsondergange, om nie eens te praat van die wonderlike dierelewe nie.

Dié slag het ons egter die voorreg gehad om twee weke lank die wildtuin van suid na noord deur te ry. Ons reis het by die Phabenihek begin. Daarvandaan het ons rustig (en al klikkende) die pad aangedurf tot bo by Crooks’ Corner. Wat ’n belewenis!

Dit was verlede somer net nadat die droogte gebreek het, en die wêreld was paradysgroen. Daar was geen diere in sig nie, maar dit het nie saak gemaak nie. Ek kon nie genoeg kry van die natuurskoon en die bome nie – veral dié een noord van Punda Maria.

TOAST SÊ: Die kremetart is die éintlike koning in die Kruger. Selfs die olifante kry hulle nie sommer onder nie, en die leeus dut alte lekker in hulle skaduwee.

Wanneer ’n park geseënd is met bome soos hierdie, het jy skaars diere nodig. Kremetarte troon soos katedrale bo die omliggende dikwels plat veld uit. Dit is om hierdie rede dat die vroeë reisigers van een kremetart na die volgende gereis het – voor GPS en padkaarte kon kremetarte jou help rigting hou.

Ek hou van Ella se sentrale komposisie, maar die belangrikste is dat die boom se takke bo die horison uitsteek. Dit laat die boom selfs duideliker vertoon in die landskap.


Janco van Eeden

@jancovaneeden; Canon EOS 760D; Canon 10-18 mm-lens

JANCO VERTEL: Dié foto is op die plaas Koppiesdam in die Strydenburg-distrik in die Noord-Kaap geneem. Ons het by vriende gekuier.

Ek het die foto opgestel deur my kamera op ’n driepoot te sit. Met die hulp van ’n flits het ek die windpomp (voorgrond) genoeg belig sodat die foto nét reg uitkom. My verstellings was: lensopening f4.5, sluiterspoed 30 sekondes en ISO 1 600.

Ek het later op my rekenaar redigeringswerk gedoen. Die foto is effens ligter gemaak en ek het die Melkweg se kleure meer natuurlik laat lyk sodat dit beter aansluit by die voorgrond waar die windpomp staan.

TOAST SÊ: Wie sou kon raai dat ’n foto van (onder meer) ’n JoJo-tenk jou só nietig kan laat voel?

Die platteland van Suid-Afrika – met die Noord-Kaap voor in die koor – is van die beste plekke ter wêreld vir sterrekyk.

Janco se vernuftige foto laat ons sterrebuurt behoorlik sprankel – jy sou kon sweer dis ’n stad soos New York wat doer in die verte flonker.

Die voorgrond is belangrik, want dit plaas Janco se foto binne ’n spesifieke gebied. Ons herken die plaasmotief van ’n windpomp en watertenk onmiddellik. Dís wat hierdie foto karakter gee. 


Marius Britz

@peanut_butta; GoPro Hero4 Silver

MARIUS VERTEL: Ek het hierdie sebras afgeneem op ’n boer se plaas wat op die Palmietfonteinpad buite Klerksdorp lê.

My vrou is lief daarvoor om vir dié twee appels te voer. Jy gee een fluit dan kom hulle so ewe rustig aangestap vir ’n bietjie liefde en aandag.

TOAST SÊ: Hiert, kwagga!

Die lekker ding van ’n kompakte aksiekamera soos ’n GoPro is dat dit jou ’n eerstepersoonshoek op die aksie gee. In hierdie geval is dit nou nie iemand wat met een op sy valhelm vasgeplak teen ’n bergpaadjie afjaag met ’n fiets nie, maar iets meer besadigs.

Omdat die sebra se neus so na aan die kamera se lens is (net ’n armlengte ver), veroorsaak die GoPro se wyehoeklens verwringing. Dit pla nie: Dis iets wat reeds deel van die identiteit van ’n “tipiese” GoPro-foto geword het. Ons “lees” die foto maklik, want ons het al vantevore sulke foto’s gesien – dis verbasend hoe vinnig ons visuele kennis verbreed.

Dis hierdie unieke hoek wat Marius se foto laat uitstaan – dit voel meer intiem omdat jy so na aan die diere is. Die sagte lig speel natuurlik ’n rol, asook die lyn wat die draadheining maak. Dis ook goed dat die sebras se ore bo die horison uitstaan.


Johan Wandrag

@johanfwandrag; Samsung S7+-selfoon

JOHAN SKRYF: Ek gebruik gewoonlik ’n Canon EOS 60D of 77D, maar op dié dag was my foonfoto mooier!

Dis geneem op die R369-grondpad tussen Hopetown en Prieska. Ek en my seuns neem altyd sonsondergangfoto’s wanneer ons by my skoonouers in Hopetown kuier.

Die ooptes en die blou lug van die Karoo bly besonders. Ek woon deesdae naby Magaliesburg, maar het op Trompsburg in die Suid-Vrystaat grootgeword. Dis ook maar Karoo daar, en dis seker hoekom ek so lief is vir dié wêreld.

My belangstelling in fotografie kom seker van my pa. Hy het destyds honderde en honderde skyfies geneem. Hy het my eerste kamera vir my gegee: ’n Ashahi Pentax Spotmatic. Sedertdien neem ek nog altyd foto’s – van skolesport tot diere. Die lekkerste is nou om saam met my twee seuns op foto-uitstappies te gaan.

TOAST SÊ: Fotografie is ’n wonderlike ding. Oor die afgelope 30 jaar het dit geweldig verander. Outofokus en outomatiese kameras het dinge makliker gemaak. En skielik word alles digitaal.

Maar raai wat? Jy neem steeds foto’s, of dit nou met ’n duur D-SLR is of met ’n foon wat gemaklik in jou broeksak glip.


Jy moet nog steeds mooi lig kan waardeer en ’n goeie komposisie kan raaksien. Dit is só ’n oomblik wat Johan hier kon vasvang. Dat hy dit saam met sy seuns kon beleef, het dit net meer spesiaal gemaak.


Brendan Cole

@drakensberg_explorer; Nikon D750; Nikon 28-300 mm-lens

BRENDAN SKRYF: Ek was by Port Owen in die Weskus en het vroeg gaan stap. Dit was ’n grys, stormagtige oggend en die toestande was nie ideaal vir fotografie nie, en ek besluit toe om teen laatmiddag na dieselfde plek terug te keer.

Teen sononder was die wolke steeds dik, maar soos die son nader aan die horison gekom het, het die wolke eensklaps oopgemaak. Tien minute het hierdie intense kleure die lug verfraai.

Omdat ek die oggend reeds my hoek gekies het, kon ek vinnig my kamera op die regte plek opstel vir dié skoot.

Ek het drie verskillende foto’s geneem, en op elkeen is die beligting van ’n ander deel voorop gestel. Later het ek op die rekenaar hierdie drie foto’s saamgestel as een foto, wat beteken dat ek regdeur die raam perfekte beligting kon wys.

Verder het ek aan die kleure verstel, en die foto verskerp totdat dit gelyk het soos die oomblik toe ek dit afgeneem het. 

TOAST SÊ: Sjoe! Hierdie is ’n foto wat jou asem wegslaan. Dit verg egter beplanning, soos Brendan vertel. Dis goed om terug te keer na ’n plek waar jy wéét ’n goeie foto geneem kan word. Wees geduldig en wag vir die weerstoestande en die lig om saam te speel.

Hier is so baie om na te kyk in Brendan se raam: Die kaai wat jou oog weglei dieper die foto in, die skuit hier naby, die seilboot verder, die voëls regs bo. Dis g’n wonder dat Brendan se foto soveel “likes” op ons Instagram-blad gekry het nie.

Sien hieronder vir hoe jy jou foto’s met ander Weg-lesers kan deel en hoe jou foto dalk in aanmerking kan kom vir ons volgende Weg-fotoboek!

Kry dit nou

Vandeesmaand se “Mense se lense”-foto’s verskyn saam met ander puik lesersfoto’s in Weg se eerste fotoboek.

Dié duursame hardebandboek bevat die beste foto’s soos gedeel op ons Instagramblad, @menseselense. Merk jou reisfoto’s met die hutsmerk #menseselense en ons deel dit dalk daar. En, wie weet, dalk verskyn jóú foto in ons volgende boek!

Prys R500

Bestel by winkel.weg.co.za of bel 021 443 9866.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto's vir ons!

Hoekom?
Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat?
Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe?
Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif
Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by www.netwerk24.com/weg/.