Volg ons op Instagram
Weg se Instagramblad is @menseselense merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrif go! is by @gomagsa.

Arno Pouwels

Foto: Arno Pouwels

Instagram: @arnopouwels; Canon EOS 80D; Canon 18-135 mm-lens

ARNO SKRYF: Dié foto is in Namibië se Zambesistreek geneem, spesifiek by die Seekoeipoel in die Mudumu- nasionale park. Ons kon ’n fantastiese uitsig kry van bo-op die Landie af; nogal met die roep van ’n visarend in die agtergrond!

Soos Weg se Botswanagids aanbeveel het, het ons by kampplek no. 3 gekamp – hier het ons een van die beste sonsondergange op ons toer beleef! Daar is geen mense naby nie, en baie seekoeie wat die aand kom wei het.

Ek hou van ’n reisfoto wat ’n storie vertel, ’n menslike aspek toon en terselfdertyd op die natuur fokus – dit moet die hele toer saamvat.

Hierdie foto is geneem op ISO 320, f3.5 en 1/5 000ste van ’n sekonde. Dit was ’n bietjie oorbelig, maar ek het gelukkig die foto in RAW-formaat geneem; dus kon ek aansienlik baie detail terugkry deur later daaraan op die rekenaar te werk.

TOAST SÊ: Mudumu is een van Namibië se werklik wilde parke, en Arno se foto beeld die avontuur van ’n besoek aan hierdie hoek van die land netjies uit.

Die ikoniese buitelyn van ’n Land Rover help – jy voel dadelik lus vir dakrak pak en pad vat! Die mense op die foto staan sterk uit bo die horison, wat die trefkrag van die foto verhoog.

RAW-formaat se leggers is baie groter as byvoorbeeld JPG-leggers. Neem jou foto’s in RAW indien jy beplan om later redigeringswerk te doen – hulle stoor meer visuele inligting. JPG-leggers is egter gewoonlik groot genoeg vir algemene gebruik, en jou hardeskywe sal nie so gou vol raak nie.


Dinky Wille

Foto: Dinky Wille

Instagram: @dinkywille; Canon EOS 700D; Canon 70-300 mm-lens

DINKY VERTEL: Hierdie foto is geneem op die Letsatsi-wildplaas tussen Smithfield en Bethulie in die Suid-Vrystaat. Ek en my man, Ters, woon op Bethlehem.

Ons het met fotografie as stokperdjie begin nadat die seuns die huis verlaat het. Dit neem ons na die mooiste veraf plekke! 

TOAST SÊ: Dis die ding van fotografie: Jy kan ’n loopbaan daaruit maak, of dit bloot as ’n stokperdjie beoefen. En as jy hou van reis, gaan fotografie en reis mos saam soos botter en stroop!

Instagram is die perfekte plek om jou stokperdjie een tree verder te vat, want dié platform maak dit maklik om jou foto’s met die wêreld te deel. Ek geniet altyd Dinky en Ters (sy Insta-naam is @terswille) se foto’s omdat hulle nogal van ongewone plekke hou. Hulle neem ook goed af waarvan ek hou, soos tweespoorpaadjies – dit roer sommer dadelik my reissnare!


Francois du Plessis

Foto: Francois du Plessis

Instagram:@francois.duplessis; Nikon D7000; Nikon 300 mm-lens

FRANCOIS SKRYF: Hierdie flapnek-verkleurmannetjie was in die pad – ek was in die Tuliblok by die Limpopo-Lipadi- private reservaat.

Die kontras tussen die groen van die verkleurmannetjie en die rooi pad het hom laat uitstaan.

Ek probeer altyd om op ooghoogte met my voorwerp te kom. Jy mag gelukkig uit die voertuig klim in hierdie reservaat.

Almal het ’n verkleurmannetjiefoto, maar ek wou ’n unieke foto van ’n algemene voorwerp neem. Ek het geduldig gewag totdat hy vir my kyk.

Die Tuli is spesiaal vanweë die verskeidenheid fauna en flora wat daar voorkom. Jy kan enigiets verwag – van visuile langs die Limpoporivier tot erdvarke op die bosveldvlaktes. Dis nog ongerep en privaat; dis net jy en die natuur.

Almal het ’n verkleurmannetjiefoto, maar ek wou ’n unieke foto van ’n algemene voorwerp neem. Ek het geduldig gewag totdat hy vir my kyk.

TOAST SÊ: Daar is drie dinge wat van Francois se verkleurmannetjie ’n ongewone foto maak. Eerstens is daar die hoek waaruit hy geskiet het – deur op sy maag te gaan lê en op ooghoogte te kom word die foto meer intiem, en staan die outjie beter uit teen die agtergrond.

Dis ook ongewoon om oogkontak te maak met albei oë van ’n verkleurmannetjie – die een kyk mos gewoonlik vir jou elmboog en die ander een vir jou knie!

Dan is daar die liggaamsposisie van die verkleurmannetjie. Deur hom reg van voor af af te neem, met al vier bene op die grond, het Francois ’n simmetriese komposisie gekry wat jy nie aldag sien nie.


Merlin Wilsenach

Foto: Merlin Wilsenach

Instagram: @merlinwilsenach; Canon EOS 7D Mk. II; Canon 17-40 mm-lens

MERLIN VERTEL: Dit was Desember en paartyd vir die leeus in die Kgalagadi. Hierdie twee het drie dae lank net buite die Nossobkamp gelê terwyl hulle doenig was – meestal reg in die middel van die pad! Die karre moes maar óm hulle ry...

Vroegoggend toe ek by die kamp uitry, kon ek sien dat hulle net uit die pad geskuif het. Ek hou daarvan om die dier se omgewing ook te wys op ’n foto, en hierdie was die ideale geleentheid.

Ek het my 500 mm-lens afgehaal en die wyehoek opgesit. Dit was 5.40 vm., en met die son nog agter die wolke was dit nog so te sê donker.

Ek wou die foto so “geraasloos” as moontlik probeer kry, en het ’n kans gevat en teen ISO 200 geskiet. My sluiterspoed was ’n stadige 1/15 van ’n sekonde en ek het die kamera op die kar se deur gestut.

TOAST SÊ: ’n Vreedsame toneeltjie, dié. Die komposisie werk, met veral die leeuwyfie wat jou aandag hou voordat die landskap dieper jou aandag vat. Dis jammer dat die mannetjie nie ’n bietjie verder na regs gekyk nie, want dan sou sy profiel sterker gewees het.

Voor sonop sou die meeste mense op ISO 400 of selfs 800 geskiet het. Dit is ’n risiko om teen ’n stadige sluiterspoed soos 1/15 van ’n sekonde te skiet, maar met ’n wyehoeklens en ’n stewige stut kan jy daarmee wegkom. Deur op ISO 200 te skiet kon Merlin die greinerigheid wat jy teen hoër ISO’s kry, vermy. Net nog ’n voorbeeld van hoe belangrik dit is om vroegdag in die veld te wees!


Marius Labuschagne

Foto: Marius Labuschagne

Instagram: @marius.labuschagne; Canon EOS 750D; Tamron 16-300 mm-lens

TOAST SÊ: Marius het hierdie foto in een van my gunstelingdele van Suid-Afrika geneem: in die Oos-Kaapse Drakensberg tussen Elliot en Rhodes. Ry daar van Elliot af teen die Barklypas uit in die rigting Barkly-Oos. Bo gekom, sal jy die afdraai na Rhodes regs kry. Vat hom...

Hierdie pad is ’n landskapfotograaf se droom.

Daar’s oral dinge wat die oog prikkel en jou gaan noop om af te trek en die kamera uit te haal. Ou klipmure, skaapkrale, populierbosse (mooi geel in die herfstyd), groen lusernlande, beeste in die verte teen ’n berghang, kranse, helder riviere, hekke, kampdrade, plaasopstalle, dalk ’n rooi trekker wat iewers ploeg...

Jy kom ook dikwels dramatiese weerstoestande hier teë – in die winter sneeu dit, en in die somer bou donderwolke torings uit die niet. Kyk veral na die slim spel tussen skadu en lig op Marius se foto. G’n wonder Marius se foto was so gewild op Instagram nie!


Johan Mocke

Foto: Johan Mocke

Instagram: @johan.mocke; Nikon D5; Nikon 600 mm-lens

JOHAN SKRYF: Ek het hierdie luiperd net ná sonop noord van die Rooiputs-boskamp in die Kgalagadi afgeneem.

Hoewel ek grootgeword het tussen Kenhardt en Upington, het ek die park nie as kind besoek nie. Maar sedert ek agt jaar gelede vir die eerste keer daar was, is ek al 12 keer terug!

Die Kgalagadi-oorgrenspark is vir my nog die naaste aan rou natuur soos jy kan kry. Jy moet dit léér waardeer – terug na basiese dinge, soos om stadiger te ry as jy iets wil sien, geduldiger te wees as jy verras wil word, meer ontvanklik te wees vir wat die natuur bereid is om jou te bied.

Die Kgalagadi-oorgrenspark is vir my nog die naaste aan rou natuur soos jy kan kry.

Die oop vlaktes maak dit ideaal vir natuurfoto’s. Dikwels kan jy die diere van ver af sien en dophou hoe hulle beweeg. En as ’n mens bereid is om vroeg uit die vere te kom en tot laat in die veld te bly word jy met mooi lig beloon.

Die kamera laat jou fokus en na dinge soek. Daarom vergeet jy van selfone, werksake en kommer.

Saans sit jy om ’n lekker vuurtjie en fokus op jou geliefde – by die huis sit jy mos soms langs jou vrou en WhatsApp haar!

TOAST SÊ: Johan, jy kan solank jou vrou WhatsApp om te laat weet jou luiperdfoto is in Weg die maand!

Ek hou van baie dinge op hierdie foto, soos die snorbaarde wat lig vang, die pienk neus, die oulike ore. Maar ek hou veral van hoe die luiperd traak-my-nie-agtig oor sy skouer kyk asof hy wil sê: “Wat, praat jy met my?” 


Cindy Bester

Foto: Cindy Bester

Instagram: @cindybeebester Nikon D5100; Nikkor 18-55 mm-lens

CINDY SKRYF: Ek het dié foto een middag laat op my tuisdorp, Despatch geneem. Ek het eers ’n foto gekry van die aankomende trein, maar toe besef dat die agterkant ’n mooier prentjie skets soos die trein wegtrek uit die stasie.

Ek is altyd op soek na nuwe plekke om foto’s te neem, en Despatch het ek al goed verken om die mooiste plekke te ontdek. Van die stasie af in die rigting van Uitenhage is daar ’n voetpaadjie langs die spore. Op ’n sekere tyd van die jaar daal die son in lyn met die spore wat goeie foto’s lewer.

Soms neem ek net die spore af, maar dis ’n bonus as ’n trein ook in die prentjie is.

TOAST SÊ: Ek hou daarvan om te kyk watse foto’s Cindy op Instagram plaas, omdat sy veral fokus op die gebied rondom Port Elizabeth en Despatch. Volgende keer as Weg dalk ’n foto soek van ’n trein in die Oos-Kaap, dan weet ek: Vra vir Cindy!

Die dramatiese laatmiddaglig en die sterk fatsoene van die garingbome op die voorgrond laat Cindy se foto uitstaan. Dis ’n klassieke komposisie, met ’n boeiende voorgrond, die hoofvoorwerp (die trein) wat dieper die raam in beweeg en die berge in die verte na regs wat die landskap afrond. Die rooi “remliggies” van die laaste treinwa is die kersie op die koek!


Blignault Wienand

Foto: Blignault Wienand

Instagram: @blignaultwienand; Canon Powershot SX50HS

BLIGNAULT VERTEL: As ek reg onthou, het ek dié foto geneem nie te ver uit Okaukuejo nie; sommer langs die hoofpad in Etosha. Ek gaan vir jou jok as ek moet sê wat die watergat se naam is...

Ek het probeer om die grootste aantal en verskeidenheid diere wat ek in een foto kon pas vas te vang. Ek het in my lewe nog nooit soveel diere tesame gesien nie. Dit het gevoel asof David Attenborough enige tyd aan die woord sou kom! 

Ek het in my lewe nog nooit soveel diere tesame gesien nie. Dit het gevoel asof David Attenborough enige tyd aan die woord sou kom!

TOAST SÊ: Blignault se foto krioel behoorlik! Veral in die droogste maande kan jy Etosha só sien, want dan moet al die diere die watergate besoek. In die nat maande sprei die diere weer oor die hele park uit, en dan sien jy minder diere by die watergate langs toeristepaaie.

Blignault se Canon Powershot SX50HS is ’n goeie reiskamera, veral as jy soek na ’n bekostigbare, liggewig zoemkamera.

Die belangrike ding is stabiliteit – maak seker jou elmboog rus op die raam van die kardeur se venster wanneer jy dit gebruik, en skakel die karenjin af.

Ek hou van hierdie foto, want dit skets byna vir jou ’n idilliese prentjie van hoe die Aarde moet gelyk het voordat die mens oral kom kap en bou het.


Herman Smit

Foto: Herman Smit

Instagram: @hermansmit1303; Nikon D7200; Nikon 18-140 mm-lens

HERMAN SKRYF: Ons was op toer in Namibië, en ek het hierdie foto by die Kokerboomwoud buite Keetmanshoop geneem.

My lens was op sy wydste oop (18 mm) – my lensopening op f18, sluiterspoed 1/100ste van ’n sekonde en ISO op 800 gestel.

Ek het eers die boom omhels en sy energie ingeneem soos ’n wafferse tree hugger, maar toe ek opkyk, toe weet ek: Hierdie prentjie gaan huis toe.

TOAST SÊ: Ek is bly jy het opgekyk nadat jy vir die kokerboom ’n drukkie gegee het!

Kokerbome (eintlik nie ’n boom nie, maar ’n boomaalwyn) is van ons mees fotogeniese bome. Jy kan hulle behoorlik uit enige hoek afneem en jou foto sál aandag trek. Vir my is dit egter hulle fatsoene wat uitstaan, die sterk, byna mensagtige figuur wat die stam en die takkies na bo maak. Dan is daar die blare, wat nes ’n menigte vingers lyk, of die tentakels van ’n see-anemoon.

Jy wil hierdie fatsoen mooi wys teen die agtergrond, en gewoonlik is die maklikste om dit teen die blou lug te laat uitstaan.

Deur reg onder die boom te staan en teen die stam op te neem kon Herman die blare byna soos sterretjies teen die lug laat lyk, én hy kon genoeg detail in die bas in die voorgrond behou om lewe te gee aan die teksture daar.

Die lensopening van f18 het gesorg vir ’n groot fokusdiepte, met ander woorde als van die stam hier voor tot die verste blaar is in fokus.


Weg se #menseselense-fotoboek is hier!

Vandeesmaand se “Mense se lense”-foto’s verskyn saam met ander puik lesersfoto’s in Weg se eerste fotoboek.

Dié duursame hardebandboek bevat die beste foto’s soos gedeel op ons Instagramblad, @menseselense. Merk jou reisfoto’s met die hutsmerk #menseselense en ons deel dit dalk daar. En, wie weet, dalk verskyn jóú foto in ons volgende boek!

Prys R500

Bestel by winkel.weg.co.za of bel 021 443 9866.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za