Wenfoto: André Nel

Canon EOS 7D Mk. II Sigma 16-300 mm-lens

ANDRÉ SKRYF: Dié foto is geneem by die Senyati Safari Camp net buite Kasane, Botswana. Ek en my vrou, Marieta, het vyf nagte saam met familie daar geslaap.

Senyati het ’n ondergrondse skuiling waaruit jy die olifante kan dophou wanneer hulle kom water drink. Dié aand het ons egter op die stoep van die restaurant gesit en kyk hoe die weer inrol. Ek het my driepoot staangemaak met sy afstandbeheerkabel en begin speel. Nie lank nie, of die olifante het kom drink.

Uiteindelik het ek 5 weerligfoto’s uit 128 foto’s gekry!

TOAST SÊ: Aanhouer wen! Daar’s geen ander manier met weerligfoto’s nie – jy het ’n bietjie geluk nodig. Dis ook gaaf as jy ’n paar olifante en indrukwekkende bome naby het, want dít is wat André se foto laat uitstaan.

’n Weerligfoto – veral een wat in die donkernag geneem is – werk altyd beter met iets prominents in die voorgrond soos ’n huis, windpomp of boom.

Die lodge se spreiligte help om die voorgrond goed te belig, want anders sou die bome net silhoeëtte gewees het (niks fout daarmee nie) en die olifante onsigbaar (omdat hulle onder die horisonlyn.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto's vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

HOE? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za

Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Ek hou ook van die byna anderwêreldse kleurkombinasie wat geskep word deur die gelerige spreilig en die blouwit weerlig wat die wolke van binne belig. Geluk, André, jy wen ’n paar Wolverine-stapskoene.


Pierre Jordaan

Canon EOS 5D Mk. III Canon EF 200-400 mm-lens

PIERRE SKRYF: Op ’n laatmiddag-wildrit by Elephant Plains in die Sabi Sand-natuurreservaat het ons hierdie luiperdwyfie teëgekom. Sy was nog ’n jong luiperd en het onder elke stomp ingeloer, dalk op soek na iets om te vreet.

Toe sy weer uit die bosse te voorskyn kom en in my rigting kyk, kon ek dié foto neem. My lensopening was f5,6 en my sluiterspoed 1/320ste van ’n sekonde.

TOAST SÊ: Hoewel jy in die aangrensende Kruger ook ’n goeie kans het om luiperds te sien is dit dikwels makliker in Sabi Sand omdat jy saam met ’n gids in ’n wildkykvoertuig ry – en dié gidse weet presies waar elke omgewing se kolkatte kuier.

Dis seker elke Weg-leser se droom om só ’n mooi duidelike luiperdfoto te neem. Daar is baie struikelblokke: Die luiperd kan te ver wees, of agter ’n struik, of diep in die lang gras, dis dalk al te donker, óf luiperd se kind blits so vinnig oor die pad dat jy net tyd kry om in jou koffie te proes, newermaaind jou kamera uithaal en kiek.

Die geluksgodin was egter aan Pierre se kant – die luiperd was naby, in goeie lig én vir ’n oomblik in die oopte. Daar is ook geen diep skaduwees nie: Die hele toneel is eweredig belig.

Ek hou ook van die komposisie. Deur vertikaal te raam (portret-formaat) beklemtoon Pierre nou die kop en voorlyf van die dier. Jy hoef nie altyd die hele dier in jou raam te probeer druk nie. Dis soms goed om in te zoem op ’n detail wat jou oog vang. Die reël van derdes word ook gehandhaaf, met die kop van die luiperd ’n derde van bo in die raam. Dit word netjies gebalanseer deur die poot wat na onder strek.

Ons klink ’n glasie Amarula op jou klassieke skoot, Pierre! 


Jason Ridge 

@jasonridge_

Canon EOS 77D Canon 10-18 mm-lens en Brother Housings Carbon X-onderwaterhuls

JASON VERTEL: Ek was by Sardiniabaai buite Port Elizabeth om branders af te neem, maar dié dag was daar aanvanklik nie veel golwe nie. Ek het in die see rondgehang vir so ’n uur of wat en het meestal onderwaterfoto’s geneem. Uiteindelik het ’n skaflike stel branders ingerol en kon ek hierdie foto neem.

Ek het in 2014 begin branders afneem toe ek my eerste GoPro-kamera gekry het. Ek was toe maar 15 jaar oud en het nie veel verwagtinge gehad nie – ek het net met die kamera rondgespeel. Maar toe ek later by die huis die foto’s aflaai, was ek aangenaam verras. En dis waar my fassinasie met branderfotografie begin het!

TOAST SÊ: My binnelandsgebore lyf is nie vir die see gemaak nie. Sit my op ’n boot en ek raak seesiek. Plak my op ’n strand en ek kry sonbrand. Gooi my in die water en ek sink. En elke slag as ek probeer asemhaal terwyl ek swem, is dit asof die see aspris ’n beker vol soutwater in my mond stop.

Maar dit is vir my eindeloos lekker om te kyk hoe branderplankryers die energie van die see bemeester wanneer hulle in die krul van ’n brander klim.

Die manier hoe branderplankry afgeneem word, het oor die afgelope dekade baie verander. In die verlede het die fotograwe meestal met lang zoemlense van die strand af foto’s geneem – op ’n veilige afstand van die soutwater wat soveel skade aan jou duur kameratoerusting kan aanrig.

Onderwaterhulse (en geheel en al waterdigte aksiekameras) het egter meer algemeen geword en nou is dit makliker om ín die golwe te staan met ’n wyehoeklens aan jou kamera. Jy kry dus ’n beter perspektief op die argitektuur van die golf, en ’n meer persoonlike blik op die plesier van die branderplankryer.

Aksiekameras soos die GoPro het ook vir ’n revolusie gesorg. Elke derde tiener kan nou met ’n GoPro (met ’n onderwaterhuls) die branders invaar en ordentlike foto’s neem.

Ek is mal oor Jason se foto, want dit wys vir my hoe perfek die natuur kan wees. Dag en nag, sonder dat jy ’n vinger hoef te verroer, rol volmaakte branders in daar by Sardiniabaai en duisende ander strande reg oor die aardbol. Lekker, nè?

Jason, dankie dat jy foto’s soos hierdie neem sodat landrotte soos ek ook kan sien hoe lyk die binnekamer van ’n golf.


Bertus Botha

iPhone SE

BERTUS SKRYF: Ek en my vrou was op vakansie in Jeffreysbaai en het besluit om vir die dag deur te ry na St. Francisbaai. Dié foto is geneem naby die Seal Point-vuurtoring.

Soos die seewater deur die rotse spoel, maak dit groewe en holtes waar klein poele water lê. Ek het afgebuk om die selfoon naby die poel se oppervlak te hou. Dis hierdie perspektief wat die klein poeletjie, wat maar enkeldiepte is, laat lyk soos ’n groot meer met omringende kranse. 

TOAST SÊ: Lank lewe die selfoonkamera! As jy jou foon se kamera reg gebruik – binne perke van sy vermoëns – kan jy gehaltefoto’s neem.Die belangrikste ding is om ’n bietjie verbeelding te gebruik. Hoe kan jy die toneel voor jou op ’n vars manier afneem?

Omdat daar niks spesifieks is om na te kyk nie, word die simmetrie in Bertus se foto voorop gestel. Dit werk twee kante toe. Links en regs het jy die rotse wat byna spieëlbeelde van mekaar is. En dan het jy die spieëlgladde wateroppervlak wat die lug weerkaats – én die rotswande. Dubbel die plesier!

Ek hou ook van die groen seewier. Die afwesigheid van enigiets wat vir jou skaal sou kon gee (soos byvoorbeeld ’n voëltjie) veroorsaak dat die toneel byna soos ’n vallei lyk. Dit goël met jou oë. Die groen seewier gee dit ’n anderwêreldse gevoel, so asof dit die stel is van een of ander toneel in ’n fliek soos Lord of the Rings. Eenvoudig... én slim! 


Jonathan Snijder

Fujifilm FinePix S9500

TOAST SÊ: Jonathan is net 13 jaar oud, maar dis duidelik dat hy reeds oefen om ’n Weg-fotograaf te word!

Hierdie is ’n baie tipiese foto wat jy van tyd tot tyd in Weg sien: ’n Voertuig wat iewers op ’n agterpad gruis gooi. Jonathan het die foto op vakansie geneem – hulle gesin was by die Fairbairn-gasteplaas in die Maclear-distrik, Oos-Kaap.

Die Fujifilm FinePix S9500 is teen hierdie tyd al ’n veteraan-kamera. Dis in 2005 uitgereik (dis net so oud soos jy, Jonathan!), maar duidelik kan dit nog foto’s neem dat dit klap. Hierdie kategorie kamera word superzoem- of brugkameras genoem. Hulle kombineer gewoonlik ’n goeie ingeboude zoem met funksionaliteit wat maklik is om te verstaan. Jy kan dit ook met gemoedsrus op die outomodus sit en laat waai, Meraai.

Omdat Jonathan die voertuig in die middel van sy raam het, sou dit makliker gewees het vir die kamera se outofokus om sy werk te doen. Die stof wat opgeskop word, gee die foto karakter. Dis ’n goeie aksiefoto omdat hy ook genoeg spasie voor die voertuig (na regs) gelos het sodat dit beweegruimte het. Wees versigtig om veral vinnigbewegende voorwerpe te knap te raam. Goeie werk, Jonathan!


Jean Goldstone @grannybean

Canon EOS 7D Mk. II Canon 16-35 mm-lens

JEAN SKRYF: Vriende van ons bly op ’n plaas buite Paddock, KwaZulu-Natal, waar dié waterval is. Teen ’n glibberige helling af is dit ’n ent se stap soontoe, maar dis die moeite werd, soos julle op my foto kan sien.

Ek het ’n driepoot gebruik en my verstellings was: ligsensitiwiteit van ISO 100, lensopening op f14 en sluiterspoed van 4 sekondes.

Ek woon eintlik op Jeffreysbaai en kry nie gereeld kans om watervalle af te neem nie. Jy kan wel stadigesluiterspoedfoto’s van die see neem, veral vroegoggend. Dis belangrik om hierdie soort foto met ’n driepoot te neem, want jy moet jou sluiterspoed stadig maak om daai wasige effek te verkry. Die lang sluiterspoed maak dit dan weer moontlik om ’n lae ISO te gebruik (wat sorg dat jou foto nie greinerig voorkom nie) én ’n klein lensopening soos f14 (wat weer sorg dat jou fokusdiepte groot is).

Jy moet maar ’n paar verstellings probeer en kyk wat vir jou die beste resultate gee. Ek is ’n entoesiastiese amateur wat eksperimenteer en leer soos ek foto’s neem!

TOAST SÊ: Daar is werklik bittermin stokperdjies wat by fotografie kers vashou. Mense van byna enige ouderdom kan dit beoefen. Jy’t net ’n selfoon nodig en jy’s sommer ’n fotograaf. Jy kan dit in jou eie huis beoefen, of aan die einders van die aarde. Jy kan jou koppie tee afneem, of die oog van ’n vulkaan. Jy kan oor dekades met verskillende toerusting eksperimenteer: met ’n ou kamera kan jy film skiet, met die nuutste D-SLR-kamera kan jy aksiefoto’s neem dat dit klap, of jy kan ’n hommeltuig met ’n kameratjie toerus en jou swembad van bo af afneem (en dan sommer sien waar daai verlore frisbee in die boom sit...).

Ek hou van Jean se foto omdat ek kan sien sy’s lus om nuwe dinge te probeer. Jou kamera is ’n uitsonderlike stuk toerusting. Lees die handleiding, speel rond met die verstellings (moenie bang wees nie, niks gaan “breek” nie!) en kyk waarheen dit jou lei.


Rina van der Merwe

iPhone 6

TOAST SÊ:

Om teen sononder saam met jou hond in die veld te gaan stap is so deel van plaaslewe se roetine soos bakkie ry en beskuit bak. Rina het hierdie foto op die plaas Bloubuffel in die Vryburg-distrik, Noordwes, geneem. Kyk hoe die draad jou oog lei van die voorgrond (regs in raam) na waar die hond staan, en dan verder na die horison. Hoekom is dit belangrik? Dit help dat jy na méér as net die sonsondergang kyk, wat gewoonlik met al sy vuurwerk die meeste van die aandag kry.

Met ’n selfoonkamera het jy gewoonlik minder verstellings tot jou beskikking. Ja, jy kan inzoem, maar dan verloor jy gehalte. Dis beter om jousélf rond te skuif.

’n Mens kan sien dat Rina hier nader aan haar voorwerp gestap het, en toe op haar hurke gaan sit het om die perspektief sterker te maak. Dis hoekom die draad duidelik bo die horison uitstaan. Indien sy die hond ook só sou wou laat uitstaan, kon sy nader na die hond beweeg en die kamerahoek nog laer gemaak het.

Goeie werk!


Karien le Roux

@pietkarien

Canon SX620

KARIEN SKRYF: Nadat die suidoostewind ’n paar dae gewaai het, het ek gaan stap op ons mooi strand hier by Struisbaai.

Soos gewoonlik ná ’n paar dae se wind spoel daar baie bloublasies uit. ’n Mens probeer hulle gewoonlik eerder vermy, maar ek het plat op my maag gaan lê om dit van nader te beskou. Tot my verbasing het die bloublasie ’n skoonheid aan hom!

TOAST SÊ: Met klein goedjies wat op die grond langs woel, is ’n verandering van perspektief noodsaaklik. Probeer op “ooghoogte” (het ’n bloublasie dalk blou oë?) kom met die voorwerp wat jy wil afneem. Gaan lê plat op jou maag. (As jou knieë effe knars, laat iemand byderhand staan om jou weer op te hys, anders dra die gety jou dalk weg...)

Die weerkaatsing op die waterdeurdrenkte sand sorg vir die perfekte agtergrond, en omdat die fokusdiepte baie vlak is (met ander woorde: Net die bloublasie is in skerp fokus), staan die voorwerp goed uit.

’n Verdere detail wat eers later jou oog tref, is die weerkaatsing van die “kam” van die bloublasie in die nattigheid hier voor. Inderdaad ’n sonderlinge skoonheid.