Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa


Maryke Scheun

Nikon D7200; Tamron 150-600 mm-lens

MARYKE SKRYF: Ek het dié foto by die Ngotso-Noord-watergat in die Krugerwildtuin geneem terwyl sewe hiënas in die water rondplas. Die toneel het my daaraan herinner dat dié gesoute jagters ook ’n spelerige kant het.

Dit was vroegoggend en ek het gesukkel om die foto te belig omdat die son agter die diere was. Agterna het ek die witbalans in Adobe Lightroom verstel om die lig ’n bietjie warmer te maak en die goue gloed te beklemtoon.

Ek het ook die skaduwees ligter gemaak om meer detail op die hiëna se gesig te wys.

SHELLEY SÊ: Wat ’n besonderse oomblik! ’n Mens sien hiënas gewoonlik ná donker of naby ’n vangs met die son wat fel brand. Hierdie vroegoggendtoneel is inderdaad ’n bonus.

Kyk hoe word die kop van die hiëna wat na die kamera kyk, deur ’n goue stralekrans omring. ’n Mens noem dit randbeligting en jy kry dit reg deur reg teen die son in af te neem. Maryke het ’n sluiterspoed van 1/1 000ste van ’n sekonde gebruik, wat die waterdruppeltjies rondom die diere gevries het (ook met die lig van agter).

Nietemin was die sluiterspoed steeds nie vinnig genoeg vir ’n foto wat heeltemal skerp is nie, maar dis nie ’n probleem nie: Die effense bewegings-blur werk. Dit laat die hiënas stout, spelerig en energiek lyk.

Dis maklik om te oorbelig wanneer ’n mens teen die lig in afneem en dan die randbeligtings-effek te verloor, maar Maryke het haar foto perfek belig. Dis altyd beter om in so ’n situasie te onderbelig – jy kan altyd later die skaduwees ’n hupstoot gee of die kleur verstel, soos Maryke hier gemaak het. Knap gedaan! Jy wen ’n paar Wolverine-stapstewels.


Derrick Peter Coetzer

Nikon D850; 70-200 mm-lens

DERRICK SKRYF: Dit was nie my eerste besoek aan Namibië nie, maar wel my eerste keer by Sossusvlei en Dooievlei. Met my besoek was Namibië midde-in ’n erge droogte.

Ek het naby die Visriviercanyon deur ’n haelstorm gery, wat my laat hoop het dat daar verder noord dalk ’n bietjie reën gaan val. Vyf dae voordat ek by Sesriem aangekom het, was daar inderdaad 50 mm reën in een nag. Gelukkig was daar nog ’n bietjie reënwater op die verste punt van die vlei, net voor die Big Daddy-duin.

Ek het my driepoot opgestel, ’n neutrale digtheidsfilter opgesit en gewag dat die skadu van die duin oor die water val. Ek was in die wolke oor die resultaat.

SHELLEY SÊ: Die foto’s wat ons gewoonlik van Dooievlei sien, is so droog soos die Namib. Die ikoniese kameeldoringbome is knoesterig en bros, en die klei-oppervlak onder jou voete droog en gekraak. Derrick was gelukkig om die vlei só te beleef! Daai reënwater op die grond is ’n wonderwerk – daar is selfs ’n tikkie groenigheid!

Derrick het ’n smal lens-opening van f22 gebruik om die maksimum velddiepte te verseker. Hy het ook ’n lae ISO van 80 gebruik om greinerigheid te verminder. Albei verstellings vra vir ’n stadige sluiterspoed, en dis waarom hy ’n driepoot gebruik het. Dis presies wat die reëls vir landskapfoto’s voorskryf! 


Frans Klopper

iPhone 5s

FRANS SKRYF: Ek en my vrou het in Januarie 2017 ’n Weskustoer gedoen. Ons het Hondeklipbaai by ons reisplan ingesluit en was nie seker wat om te verwag nie. Met ’n vol petroltenk en genoeg voorraad vir ’n paar dae het ons die grondpad na die kusdorpie getakel.

Dit het ons twee en ’n half uur gevat en dit het gelyk asof ons kilometers ver die enigste mense was. Nadat ons aangekom en ingeboek het by ons blyplek, het ek dadelik gaan stap om foto’s te neem. Ek het probeer om die rus en vrede op die strand vas te vang: die mossels, die verweerde visserbote, die Aristea-skeepswrak en die skouspelagtige sonsondergang.

Hondeklipbaai was toe ’n wonderlike bestemming!

SHELLEY SÊ: Dis ’n pragtige foto. Die verlate gebou lyk in die donker lug selfs nóg meer vervalle. ’n Mens kry ’n gevoel vir hoe afgeleë Hondeklipbaai is en hoe onherbergsaam die landskap daar kan wees – selfs al is daar tekens van lewe met die bote in die agtergrond.

Frans het die HDR-verstelling op sy foon gebruik. Dit staan vir “hoë dinamiese reeks” en gebruik sagtewaregoëlery om ’n raampie met baie donker en baie ligte dele reg te belig. Sonder HDR sou die lug dalk oorbelig gewees het (of die rotse en gebou onderbelig). Maar nou kan ’n mens mooi detail in die mure en rotse sien en byna die vogtigheid in die lug voel. Goeie werk, Frans!


Ralph Rabe

Nikon D850; 14-24 mm-lens

RALPH SKRYF: Ek het dié foto op 4 Julie verlede jaar by die Blyderiviercanyon geneem – op my verjaardag! Ons het besluit om van die mooi uitkykpunte te besoek om die dag te vier. Dit was ’n spesiale uitstappie, want ons twee kinders was saam – hulle was met vakansie van die Universiteit van Stellenbosch en by die huis.

My plan was om die canyon met sonsondergang te sien, maar toe ons laat die middag daar aankom, was die hek reeds toe. Ons het die sekerheidswag gesmeek om ons te laat ingaan omdat ons net een minuut laat was. Hy het ingestem en ons het ’n gesinsfoto met die canyon en die Drie Rondawels in die agtergrond geneem.

My vrou gaan die foto vanjaar op ons Kerskaartjie gebruik.  Toe ons op pad terug was motor toe, het ek opgelet hoe die gras in die laaste lig gloei. Ek kon nie anders as om nog ’n foto te neem nie. Dit was ’n wonderlike manier om ’n besonderse dag af te sluit.

SHELLEY SÊ: Dit klink na die soort verjaardagvieringe waarvan ek ook hou! Ek is mal oor die foto se eenvoud. Daarby hou ek van die voorgrond – die tapisserie van rots en gras – want dit komplementeer die berge in die agtergrond. Dis nie die stereotipiese hoek waaruit ’n mens die Blyderiviercanyon sien nie, maar dis mooi.

Ralph het ’n lensopening van f16 gebruik. Só het hy seker gemaak alles van die voorgrond tot die dam in die agtergrond is skerp. ’n Klein lensopening gee jou meer fokusdiepte – ideaal vir landskapfoto’s wanneer jy wil hê alles op die foto moet skerp wees.

Om dié lensopening te kon gebruik moes Ralph ’n stadiger sluiterspoed van 1/40ste van ’n sekonde gebruik, wat nie ’n probleem is nie aangesien hy ’n driepoot gebruik het om sy kamera te stabiliseer. Sorg dat jou driepoot altyd in jou kar se kattebak is as jy graag landskappe afneem. 


Kobus Theron

Fujifilm X-T2; 16-55 mm-lens

KOBUS SKRYF: Ek en ’n vriend het in Oktober 2016 ’n paar Karoo-agterpaaie gery en plekke besoek soos die Gamkapoortdam aan die oostelike punt van ’n doodlooppas met die naam Bosluiskloof.

Ons vuur het gebrand en ons het met ’n bier in die hand oor die leërige dam getuur terwyl die wolke en sonsondergang konsert gehou het. Ons was seker gelukkig om op die regte tyd op die regte plek te wees!

SHELLEY SÊ: Wat ’n mooi landskapfoto! Wat dié foto besonders maak, is wanneer ’n mens Kobus se skaduwee sien en besef hoe groot die dam werklik is.

Dis dikwels ’n goeie idee om ’n menslike element by jou landskapfoto in te sluit. Dit help die kyker om die skaal vas te stel en laat hom of haar deel voel van die ervaring. Die skaduwee van die rand waarop Kobus staan, dra ook by tot die foto. Dit skep nog ’n laag, wat diepte gee.

Die lig was só perfek dat Kobus agterna geen redigering gedoen het nie. In sy woorde: “Ek het net die grootte aangepas om dit vir julle te kan e-pos.”

Harry Randell

Canon EOS 70D; 100-400 mm-lens

HARRY SKRYF: Ek het dié kameelperd by die Thornicroft Lodge in Zambië se Suid-Luangwa- nasionale park afgeneem. In die winter eet die diere hulle knuppeldik aan die anabome se sappige vrugte.

Die kameelperd het my deur die vurk in die boomstam gesien en ek het het ’n foto geneem van dié oomblik van wedersydse nuuskierigheid.

SHELLEY SÊ: Dis die eerste keer wat Harry ’n foto aan Weg stuur en dit word sommer gedruk – geluk! Die lig in die middel van die dag is nie vleiend nie en hy moes kreatief wees. Dis waar sy raamwerk die ding doen. Die vorm van die spasie rondom die kameelperd se kop lyk amper soos ’n kaart van Suider-Afrika!

Om raamelemente vir ’n diereportret te gebruik versterk nie net die komposisie nie – dit kan ons ook meer oor die dier se omgewing vertel. Die kameelperd wat so nuuskierig oor die takke loer, gee ons ’n goeie idee van sy lewe daar bo in die blare.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za