Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Wenfoto


Wenfoto: Matthieu Rivart

@matthieu.rivart.official

Nikon D800E; Nikon 14-24 mm-lens

MATTHIEU SKRYF:

Ek reis gereeld na Namibië se Kaokoveld om tyd saam met die Himbas deur te bring. Dis veral in die afgeleë nedersettings waar ek hulle unieke kultuur kan beleef.

’n Mens moet eers hulle vertroue wen voordat hulle nie meer so sku is nie, en dit help as jy bereid is om ’n paar dae lank soos hulle te leef: Eet wat hulle eet, en raak gewoond aan die afwesigheid van lopende water en elektrisiteit.

Op my laaste besoek het ek en my gids by ’n nedersetting naby Vanzylspas gebly. Die ou mense het saans stories om die vuur vertel terwyl die kinders grootoog geluister het. Vroue het dan gedans en gesing. Ek het in ’n stadium ’n ent weggetree om hierdie foto te neem, wat vir my iets vasvang van die eenvoud en skoonheid wat ek daar ervaar het.

TOAST SÊ:

Wanneer jy foto’s van mense soos die Himbas wil neem, moet jy sensitief te werk gaan. Wees bedag dat jy op hulle privaatheid inbreuk maak. Moenie haastig wees nie. Indien jy ongewone foto’s wil neem, moet jy soos Matthieu moeite doen. ’n Tolk aan jou sy gaan help, want dan kan almal mekaar verstaan. Moenie valse beloftes maak nie – as jy sê dat jy volgende keer vir die mense afdrukke van die foto’s sal bring, dan moet jy jou woord gestand doen.

Matthieu se lens was vir 23 sekondes (teen f3.2) oop om die Melkweg vas te vang. Die sensor-sensitiwiteit was ISO 1600. Die voorgrond is met ’n foonflits belig.

Dis ’n ongewone foto hierdie, veral omdat dit in die nag geneem is. Die teenwoordigheid van die sterre verleen iets tydloos – en groots – aan die toneel. Dit laat jou voel dat hierdie mense en hulle kultuur kosbaar is, en die nodige erkenning en waardering verdien. Geluk – dis ons wenfoto hierdie maand! 


Foto: Mark Preston-Whyte

Mark Preston-Whyte

Canon EOS 7D; Sigma 18-50 mm-lens

MARK VERTEL:

Die omgewing rondom die Didima-kamp in die Cathedral-streek van die Drakensberg is my gunsteling danksy die klassieke landskap.

Dié foto is teen dagbreek geneem met die volgende verstellings: sluiterspoed 1/50ste van ’n sekonde, lensopening f8 en ISO 100. In my jongdae het ek gereeld in die Drakensberg gaan stap, maar dit voel die laaste ruk asof die berge steiler en hoër geword het! Ek stap nou maar in die voetheuwels rond.

My dogters het gelukkig ’n liefde vir dié berge by my en my vrou geërf en hulle nooi ons gereeld om saam met hulle daar te gaan uitspan. Dan stap ek rond en neem foto’s en dink terug aan die dae toe ek die pieke bestyg het.

TOAST SÊ: 

n Mens hoef gelukkig nie ’n piek uit te klim om ’n treffende foto te neem nie – soms is die beste foto van jou rondawel se stoep af!

Selfs wanneer die lig reeds goed is – en daar ook ’n bietjie mistigheid is om ekstra drama aan jou landskap te verleen – moet jy steeds aandag gee aan jou komposisie. Jy kan dinge eenvoudig hou. Vra jouself hoe belangrik die lug is vir jou foto? In Mark se geval het die dagbreek se goue lig nog bo die berge in die wolke gehang, en daarom was dit wys om een derde van die raam daaraan af te staan.

Maar wat van die voorgrond? Sonder die berghang in die onderste derde van die raam sou die groen verlore gegaan het, en ook die sin van skaal wat die huisie daar (kyk fyn) aan die toneel verleen. Dis in die haak, Mark, jy kan maar om die rondawel rondstap en foto’s neem. Die berggeeste klop nog sterk binne jou.


Courtney Watson

Canon 500D; Canon 250 mm-lens 

COURTNEY VERTEL:

Die Tuliblok is een van my gunstelingplekke in Botswana. Daar is ’n rotskoppie wat oor die Motloutserivier uitkyk en dis hier waar ek dié olifantbul afgeneem het. Ek het gehou van die kontrasterende teksture: Die kreukelvel gebaai in sonlig en die voëltjies wat onverwags voor hom verby vlieg. Dit wys jou hoe vol lewe een sekonde in die wildernis kan wees.  

TOAST SÊ:

Dis soos Courtney hier skryf. Die natuur slaap nie. Elke oomblik is iets aan die gebeur. Soms is dit iets groots soos ’n olifant wat kom drink, soms is dit die gewoer van kweleavlerkies wat verby snel. En dan is daar nog die goedjies wat ons nie eens op hierdie foto kan sien nie: watergoggas, dalk ’n miskruier, ’n padda of drie.

Die Tuliblok is ’n puik langnaweekbestemming vir Gautengers omdat dit lekker naby is. Boonop bied dit iets anders as die ander groot wildernisgebiede in die noorde van Suid-Afrika soos die Kruger en Pilanesberg. Die Tuli het sy eie atmosfeer en eie karakter – en Courtney se foto wys jou ’n deeltjie hiervan.

Ek hou ook baie van die weerkaatsing van die olifant, en die teksture op die water, asook die lyne wat die waterstroom vorm. Als goed, als Tuli.


Peter Davies

Sony CyberShot DSC-HK100V

PETER VERTEL:

Ek het hierdie foto in die Etosha- nasionale park by die Ozonjuitjie M’Bari-watergat tussen die Olifantsrus- en Okaukuejo-kamp geneem. Die pad was sleg en my Suzuki is verniel, maar toe kom ons skielik op hierdie toneel af.

Dit was September en droog. Die leeus het die watergat vir hulleself gehou terwyl Etosha se ander diere die risiko moes loop deur nader te sluip vir ’n vinnige sluk. Die toneel het my asem weggeslaan. Die vrot pad was vergete en ek het net my kamera gelig en begin foto’s neem!

TOAST SÊ:

Ses dierespesies (en ’n voëltjie) op één foto is merkwaardig. Etosha op sy droogste kan ook Etosha op sy mooiste wees, want dis dan wanneer jy dieresamedrommings soos dié by die watergate te wagte kan wees.

Dan is daar nog drama ook. Hoewel die leeus nie noodwendig honger lyk nie, vat die ander diere nie kanse nie. Kyk hoe kyk die een gemsbok vir die leeus – selfs die kameelperd hou ’n ogie, en jy kan vir seker weet dat al die ander bokke ook die katte uit die hoekie van hulle oog dophou.

Peter het redelik ver ingezoem. Deur in te zoem kompakteer jy die foto en laat dit lyk asof dit wat op die voor- en agtergrond is, nader aan mekaar is. Dit laat die massa diere nog meer indrukwekkend lyk. Ek hou veral van die springbokke op die voorgrond wat – hoewel uit fokus – die raam van links na regs volmaak.

’n Puik foto waarop enige Etosha-aanhanger trots sal wees! 


Stu Bowie

Canon EOS 1D Mk. IV Canon 300 mm-lens met ’n 2X-omsetter

STU VERTEL:

In die somer (broei-seisoen) besoek ek soms die Universiteit van Pretoria se kampus waar ek weet ’n klomp reiers en ander voëls soos skoorsteenveërs in die bome nesmaak.

Dié skoorsteenveër se vrag nesboumateriaal het so groot gelyk dat ek gewonder het of hy kan sien waarheen hy vlieg! Dié foto is vroegoggend geneem met ’n ISO van 640, sluiterspoed van 1/3 200ste van ’n sekonde en lensopening van f7.1.

TOAST SÊ:

As jy in Gauteng woon, kan jy nie elke naweek Krugerwildtuin toe ry nie. Fotografie-entoesiaste soos Stu moet dus ook nader aan die huis weet waar hulle lekker natuurfoto’s kan neem.

Voëls soos reiers, kolganse, hadidas en skoorsteenveërs is lankal deel van die voorstedelike landskap. (Dalk selfs tot jou ergernis wanneer ’n hadida jou skielik om drieuur die oggend wakker ha!...) ’n Mens sien hulle in parke, op sportgronde en in afvoerslote en vleie tussen woonbuurte. Doen navorsing en kyk waar die reiers gaan slaap en nesmaak.

Hoewel jou agtergrond nie altyd so natuurlik gaan lyk nie (daar’s dalk geboue of kragdrade) kan jy met ’n bietjie geluk steeds foto’s neem wat net sowel in die wildtuin geneem kon wees.

Stu se puik aksiefoto getuig hiervan. Ek hou van die vloeiende lyne van die voël se vlerke, en hoe die enkele kleure (swart, wit en groen) uitstaan teen die neutrale blou agtergrond.

Die sluiterspoed was vinnig genoeg dat Stu uit die vuis uit kon skiet – dis gewoonlik makliker om voëls in vlug op dié manier af te neem omdat dit moeilik is om die aksie te volg wanneer jou kamera op ’n driepoot gemonteer is. Die manier waarop die wilgertak buig, laat dit lyk asof die voël met ’n vraagteken vlieg!

’n Oulike foto met ’n skoot humor daarby.


Hansie Myburgh

iPhone 6

HANSIE VERTEL:

Ek het grootgeword op die plaas Slagters-fontein in die Laingsburgdistrik in die Karoo. Dis nou 50 jaar later, maar ek gaan steeds gereeld daar kamp saam met my vrou, en soms saam met van my kinders. Ons kamp met my Jurgens Xplorer-woonwa, sommer in die veld by ’n windpomp.

Vroegoggend word koffie gemaak. Ek het dié foto geneem net toe die son opkom en die water begin kook.

TOAST SÊ:

’n Goeie reisfoto laat jou iets vóél. Hansie se selfoonkiekie slaag hierdie toets met vlieënde vaandels. Enige Weg-leser wat lief is vir kamp (almal van julle, of hoe?), sal met heimwee na hierdie foto kyk en terugdink aan ’n vroegdagkoffieketel wat iewers in die veld op die kole begin fluit. Jou slimfoon is jou beste vriend vir foto’s soos dié. Moenie tyd mors nie. Laat die foon se outomatiese verstellings die werk doen. Hy gaan nie áls regkry nie: Die son is hier byvoorbeeld oorbelig, maar dis te verstane.

Wat saak maak, is dat die rokie en die stoom duidelik sigbaar is – dis omdat die son die stoom én rook van agter af belig. Dis wat ons kampsnare laat roer – jy kan hierdie vuurtjie omtrent rúik.


Wen 'n Weg-kamersak
Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za