Lees hier meer oor die kursus

Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa


Arlene Ries
Foto: Arlene Ries

Arlene Ries

Canon EOS 7D; Mk. II Canon; 100-400 mm-lens

ARLENE SKRYF:

Ek het hierdie foto vroegoggend tussen Satara en Tshokwane in die Krugerwildtuin geneem. 

Ek het baie geleer met Weg se fotokursus. Nie net van die tegniese goed soos sluiterspoed, lensopening, ISO en witbalans nie, maar ook van komposisie, wat vir my die belangrikste ding is. Ek wou juis met hierdie foto goeie komposisie deur middel van die reël van derdes toepas. Die dooie boom was in dié geval ’n perfekte raam vir die opkomende son.

Ek kan hierdie kursus aanbeveel. Dit is absoluut goud werd. Baie dankie daarvoor.

TOAST SÊ:

Ons is bly jy geniet “Neem beter foto’s”, Arlene! Dis bevredigend as fotograaf om iets te probeer – en dan werk dit!

Behalwe die tegniese goed (die knoppies!) fokus ons kursus op die kreatiewe kant van fotografie. Enigiemand met ’n “oog” vir ’n mooi prentjie is reeds op die voorvoet, maar deur klassieke komposisies soos die reël van derdes toe te pas gaan jy dadelik resultate sien.

Die droë boom se “arms” laat my dink aan ’n hulpdoelverdediger wat ’n netbal (die son) uit die lug uit gryp. Mooi!


Wenfoto: Elané Lubbe

IG: @elane_lubbe Nikon; D3200 Sigma; 150-600 mm-lens

ELANÉ SKRYF:

Ek was in die Djuma-private wildreservaat in Sabi Sand in die Laeveld. Die luiperd op die foto is Thandi, bekend as die “Queen” van Djuma omdat sy een van die oudste luiperds daar is – sy is 14 jaar oud. Dit was vroegoggend en my verstellings was: ISO 900, sluiterspoed 1/500ste van ’n sekonde en lensopening f5.6.

Dit was my eerste keer in Sabi Sand, maar ek sal beslis weer gaan. Dis ’n uitstekende fotografiebestemming omdat daar nie baie toeriste is nie – slegs drie wildkykvoertuie mag op ’n slag by ’n “sighting” wees.

“Neem beter foto’s” was die beste kopie wat ek nóg gedoen het. Ek hou daarvan dat ek kan teruggaan en kyk na die kursusmateriaal as ek iets vergeet het. Die kursus is deeglik en ek is mal oor die voorbeelde wat gegee word.

Dis gerieflik omdat ek dit by die huis kan doen, en soos ek tyd kry. Dit het my baie gehelp om selfvertoue op te bou met die verstellings van veral “aperture” en ISO.

TOAST SÊ:

Wat ’n foto! Dis waar dat private reservate in die Sabi Sand-gebied ’n prima plek is om roofdiere af te neem – juis omdat jy saam met kundige veldgidse ry.

Boonop mag hulle van die paaie af ry, wat beteken dat hulle jou in die beste posisie sal plaas vir ’n foto soos Elané s’n.

Maar as ’n fotograaf moet jy steeds wakker sit, want jy het dikwels net sekondes om die perfekte kiekie te vat. Jy moet dus jou tegniese dinge onder die knie hê, en dis hier waar “Neem beter foto’s” jou help.

Die kursus kan jou egter nie help met lig nie – en die sagte oggendlig hier is so mooi jy wil dit oprol en saamvat!

’n Goue oomblik inderdaad – dis hoekom jy hierdie maand ons wenner is, Elané. Geluk! 


Debbie van den Heever

Canon EOS 70D; Canon 17-85 mm-lens

DEBBIE VERTEL:

Dié foto is uit ’n parkie naby ons huis in Secunda geneem. Ek wou graag van die lesse wat ek met Weg se “Neem beter foto’s”-kursus geleer het, toepas en oefen.

My kamera was op “Aperture Priority”-modus en ek het meestal gespeel met “spot metering” en “depth of field” (f-stop). Ek het toe ’n paar Harvard-vliegtuie gewaar wat opgestyg het van die vliegveld na aan waar ons woon.

Ek het geen verdere verstellings gedoen nie en kon gelukkig op “Aperture Priority” heelwat mooi foto’s kry. Die kamera het die verdere dinkwerk gedoen!

Die uitdaging was om die vinnig bewegende vliegtuie in fokus te kry.

Een van die groot pluspunte van Weg se kursus is dat jy dit op jou eie pas kan voltooi – en in Afrikaans. Dis wel nogal baie leeswerk en dit sou lekker gewees het as daar ook aanlynopdragte was waar ’n mens direkte terugvoer kon kry.

TOAST SÊ:

Netjiese werk, Debbie! Ek hou van die komposisie, met genoeg oop spasie voor die vliegtuie sodat die raam nie beknop voel nie.

Fotografie kan aanvanklik intimiderend voorkom vanweë die terminologie wat gebruik word. Ervare fotograwe gebruik terme soos “spot metering” en “depth of field” asof dit sout en peper is, maar die meeste van ons moet eers leer presies wat dit beteken. Maar kennis is mag – en sodra jy die terminologie baasraak, sal jy ook jou kamera beter verstaan. En kort voor lank gaan jy beter foto’s begin neem, nes Debbie.

Mense wat Weg se aanlynkursus doen, word genooi om deel te word van ’n eksklusiewe “Neem beter foto’s”-groep op Facebook. Jy gaan ander amateurfotograwe ontmoet. Ons moedig deelnemers aan om opbouende kommentaar op mekaar se foto’s te lewer sodat almal by mekaar kan leer.


Gerhardt Theron

Nikon D7200; Nikon 200-500 mm-lens

GERHARDT VERTEL:

Ek het hierdie bloukopkoggelmander in die Auobrivier afgeneem naby Auchterlonie in die Kgalagadi-oorgrenspark. In die somer is hierdie klein reptiele redelik volop en hulle geniet die besonderse warm temperature.

As aspirantfotograaf het ek al vir verskeie kursusse ingeskryf, maar ek meen die meeste hiervan is nie gebruikersvriendelik nie. Gelukkig het ek Weg se advertensie gesien vir die “Neem beter foto’s”-kursus.

Dis fantasties!

Dis ideaal vir elkeen wat sy kamera beter wil gebruik. Ek is verskriklik krities teenoor my foto’s, maar sedert ek Weg se kursus begin het, kon ek onmiddellik die verskil in gehalte sien. Die kursus is ’n moet vir ernstige fotograwe en ook die individu wat so nou en dan met ’n foto wil spog. Die lae kursuskoste is ’n bonus.

TOAST SÊ:

Gerhardt, so ’n oulike foto demonstreer ’n paar dinge wat jy gaan leer in die ses modules waaruit “Neem beter foto’s” bestaan. Module 1 dek byvoorbeeld die boustene van fotografie. Hier gaan jy leer van lensopening, sluiterspoed en ISO. Gerhardt s’n was f5.6, 1/1 250ste van ’n sekonde en ISO 400. Grieks vir nou? Nie as jy eers deur die kursus gewerk het nie. Dan is dié syfers jou vriende.

Module 2 is “Komposisie en raming”. Sien jy hoe slim was Gerhardt deur die koggelmander in portretformaat af te neem? Nou kan die kop bo in die raam sit, en die stertjie steek onder uit. Die hele raam word gevul, en geen spasie word vermors nie. Die aard van die voorwerp – die reptiel met stert wat afhang, eerder as kant toe uitsteek soos wat dit sou wees indien hy plat op die grond gesit het – bepaal of jy horisontaal of vertikaal moet raam.

Volpunte, Gerhardt! 


Melinda Steyn

Canon EOS 760D Tamron 150-600 mm-lens

MELINDA SKRYF:

Hierdie groenrugreier is by Lake Panic in die wildtuin afgeneem.

Ek is tans besig met Weg se aanlynkursus en leer ongelooflik baie. Ek gebruik nou al baie van my kamera se funksies, en dit maak ’n groot verskil aan die foto’s se gehalte. Dis ook lekker om ’n kursus in Afrikaans te doen. Ek sal enige tyd die kursus aanbeveel vir iemand wat lief is vir fotografie of net gemakliker wil wees met sy of haar kamera.  

TOAST SÊ:

Ek het ’n vermoede dat Lake Panic (met die Sunsetdam ’n kortkop agter) seker al die meeste lesersfoto’s in “Mense se lense” gelewer het!

Dis die wonderlike ding van die wildtuin. Dis óns s’n. Dis ’n relatief bekostigbare bestemming vir ’n groot deel van ons bevolking. En dis propvol diere. Boonop kan jy met enige kar ry tot by Lake Panic en rustig wag dat iets gebeur.

Ek hou van Melinda se eenvoudige dog treffende komposisie. Die kordate, kiertsregop liggaamshouding van die reier pas mos nou perfek in ’n vertikale (portret) raam. Die een “onsigbare” been laat jou boonop twee keer kyk na hierdie netjiese foto.

Goeie werk, Melinda!


Jan Putter
Foto: Jan Putter

Jan Putter

Canon EOS 70D Tamron 600 mm-lens

JAN SKRYF:

Ek het die sekerheidshek by my huis in Vaalpark (Sasolburg) as stut gebruik, want ek was te lui om die driepoot te gaan haal.

My verstellings was: sluiterspoed 1/250ste van ’n sekonde en lens-opening f7.1, en ek was heeltemal ingezoem op 600 mm met die lens. Ek het heelwat ge-“crop” en in Lightroom effens aan die skerpheid gewerk. Ek is baie lief om die maan af te neem, maar my ander belangstelling is tuinvoëltjies.

Ek het in ’n stadium ’n ander fotografiekursus gedoen, maar hoewel dit interessant was, was daar ’n magdom inligting en die meeste daarvan het ek reeds vergeet.

Weg se “Neem beter foto’s” is eenvoudiger en die verduidelikings van die basiese dinge het ek dadelik verstaan. Voorheen het ek sommer net foto’s geneem op verskillende verstellings totdat ek iets kry wat mooi lyk, maar nou het ek my kamera beter leer ken en begin instel vir ’n spesifieke foto wat ek wou neem.

TOAST SÊ:

In die dae van film moes jy goed besin voordat jy die knoppie druk – en seker maak jou beligting en komposisie is reg – omdat jy geweet het elke foto jaag jou geld uit die sak.

Daar’s geen rede waarom ons met digitale fotografie nie dieselfde aanslag moet hê nie. Vat jou tyd, beplan jou foto, lees die lig (die kamera doen al die werk!), stel die kamera, kry jou komposisie reg – en neem dán die foto.

Deur ’n driepoot vir jou landskapfoto’s te gebruik “forseer” jy jouself om stadiger te werk omdat jy dit moet opstel en als mooi waterpas kry voor jy die foto kan neem. Dis ook noodsaaklik vir zoemfoto’s – en veral as jy die maan wil afneem. Hoe Jan sy kamera sónder ’n driepoot so stil kon hou, sal net hy weet! Dit moet ’n goeie sekerheidshek wees...


Neem beter foto's-kursus

Hoe werk dit? Gaan na neembeterfotos.weg.co.za. Lees eers al die kursusinligting mooi deur sodat jy seker maak dis die ding vir jou. Teken dan in, en sodra jy die tarief van R950 betaal het, kan jy begin! Die kursus is ook in Engels beskikbaar – gaan na takebetterphotos.gomag.co.za

Jy kan dit ook as geskenk koop vir ’n vriend of familielid.

WEN MET JOU FOTO!
WEN MET JOU FOTO!
Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za