Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Kate Morris

Foto: Kate Morris
Foto: Kate Morris

Dié maand se wenfoto!

IG: kate_l_morrisCanon EOS 7D; Canon 100-400 mm-lens

KATE SKRYF:

Ek het ’n paar gevlekte ooruile naby my huis in Somerset-Wes sien nesmaak. Twee kuikens het uitgebroei en later het ek twee opgepofte verebolle gewaar wat Ma en Pa meestal goed uit die oog probeer hou het.

Ek het hulle eers mooi gesien toe hulle groot genoeg was om die nes te verlaat. Dit was pret om te luister hoe hulle vir mekaar roep en sis. Later het hulle van boom tot boom begin beweeg.

’n Paar dae het verbygegaan sonder dat ek hulle gesien het, maar toe loer dié een vir my van agter die takke. Ek’s mal oor die kleurkombinasie van die geel oë en die groen blare.

TOAST SÊ:

Die op-en-wakker natuurfotograaf sal meer as genoeg vind om af te neem naby sy of haar huis – selfs in ’n skynbaar bedrywige dorp of voorstad. Dikwels is dit die kleiner goedjies soos spinnekoppe en skoenlappers wat jy in die tuin kan afneem, maar soms maak indrukwekkende voëls soos uile hulleself ook tuis.

Dit kan ’n lekker projek word om ’n broeipaar uile se vordering dop te hou en af te neem. Maar maak altyd eers seker dat jy hulle nie versteur nie – moenie te naby kom nie, en moenie pla waar hulle broei nie. Neem eerder jou foto’s van verder af.

Kate is reg: Die geel en groen is wat haar foto laat uitstaan, maar dis die nuuskierige paar uil-oë wat dit ons wenfoto vir die maand maak. Kate wen ’n Weg-kamerasak – baie geluk!


Petro Coetzee

Nikon D3100; Nikon 18-55 mm-lens

PETRO SKRYF:

Ek en ’n vriendin was laasjaar op ’n toer na Egipte.

Ek het honderde foto’s geneem, maar meestal op die outomatiese verstelling omdat ek graag balans wou kry tussen als afneem én in die oomblik lewe en alles om my waarneem. Hierdie foto was dus ’n volslae gelukskoot! 

By Aswan in die suide van die land het ons met ’n bootjie – soos die een op die foto – na die Philae-tempel gevaar. Dis op ’n eilandjie. Op pad terug was die son aan ’ t sak en als het saamgewerk sodat ek dié foto kon neem. 

TOAST SÊ:

Petro, ek was toevallig ook verlede jaar in Egipte en moet met jou saamstem: ’n Mens het nie altyd tyd om vir ewig te staan en verstel aan jou kamera nie. As jy weer sien, wil jou toergids aanskuif na die volgende tempelmuur vol hiërogliewe en dan staan jy nog en wonder oor f-stoppe!

Op ’n vakansie wat jou byna oordonder met visuele stimuli (daar is soveel ou tempels, standbeelde en piramides in Egipte as wat die Karooklipkrale, windpompe en koppies het) moet jy tyd laat vir jouself. Laat sak soms jou kamera en kýk. Probeer die grootsheid van ’n geskiedkundige monument inneem. Dink ’n bietjie daaroor (die Egiptenare het).


Alta Blomerus

Canon EOS 200D; Tamron 18-200 mm-lens

ALTA SKRYF:

Die foto is op die plaas Grabesrust van Petri Dafel geneem – dis naby Amersfoort.

My kamera gaan altyd en oral saam met my! Ons bly in Mosselbaai, maar was ’n week lank in onder meer Mpumalanga vir my man se werksake.

Ek het op dié reënerige dag saam met hom verskillende plase in die Ermelo-distrik besoek. Terwyl hy besig was en ek in die bakkie gesit en lees het, het ek trekkers gehoor. Toe ek opkyk, sien ek hulle aankom en het dadelik my kamera gegryp en hulle afgeneem. Ek was nog altyd mal oor foto’s neem met my selfoon, maar toe verras my man my vir my 50ste verjaardag met ’n “regte” kamera én Weg se aanlynfotografiekursus!

Ek het omtrent geen van my kamera se funksies geken of verstaan nie en sedert ek met die kursus begin het, het ek ontsettend baie geleer.

TOAST SÊ:

Fotografie is ’n stokperdjie wat moeiteloos deel van jou lewe kan word, veral met dié dat die meeste van ons elke dag met slimfone rondloop wat eintlik net kameras is wat ook kan bel...

Maar wanneer jy dit ’n stap verder vat – deur dalk ’n lenskamera te koop en ’n fotokursus te doen – gaan jy dadelik sien hoe jou foto’s verbeter. Jy gaan ook besef dat jy jou lewenservaringe kan vaslê, of dit nou ’n familiesaamtrek of werkgoed is. Deur dinge af te neem sien en verstaan jy die wêreld rondom jou beter: Jy is meer oplettend en meer in voeling.

“Neem Beter Foto’s” is Weg se aanlynfotografiekursus. Dit kos R950 (eenmalig) en jy doen dit teen jou eie pas. Sien neembeterfotos.weg.co.za 


Ana Maria Miranda

Huawei P20 Lite

ANA SKRYF:

Ek werk by die Nunda River Lodge langs die Kavangorivier in die noordooste van Namibië. Ná werk hou ek daarvan om op die dek te sit en ’n glasie iets te drink terwyl die son sak.

Op hierdie dag het ek skielik ’n mokoro sien verbykom. Ek het dadelik my selfoon gevat en die toneel afgeneem.

TOAST SÊ:

Kyk, ek hou altyd van ’n man-op-mokoro-foto! Ana woon in my idee van die paradys. Die Kavangorivier is moeiteloos mooi, en die sonsondergange is elke dag die soort ding wat jy net wil afneem en laat raam.

Dis egter maklik om bederf te word en uitgekuier te raak met sonsondergange.

Hoe neem jy dan ’n uitstaanfoto van ’n sonsondergang? Dit help om ’n menslike figuur (of dier) in die raam te kry, want dit maak dinge gewoonlik interessanter – eerder as net “mooi”.

Ana se visserman-silhoeëtte is duidelik en die mokoro en sy brandertjies gee die toneel ’n dinamiese gevoel.

Goeie werk, Ana, dankie dat jy jou sonsondergangdrankie onderbeek het om hierdie vir ons af te neem!


André Wheeler

Canon Powershot SX50HS

TOAST SKRYF:

André is van Bloemfontein, maar het hierdie foto in Port Louis, die hoofstad van Mauritius, geneem.

Reisfoto’s moet dít dokumenteer wat jou oog prikkel – wat lyk anders hier waar jy nou vakansie hou?

Jy wil dit graag ná die tyd vir jou vriende en familie by die huis kan wys en sê: “Só lyk die plek.” Soms moet jy dus die alledaagse ook afneem, soos hierdie straattoneel.

Dis doodnormaal vir Port Louis, maar vir ons Suid-Afrikaners lyk dit dadelik eksoties. Ek hou natuurlik van die kleure, maar ook van hoe jou oog stadig deur die toneel kan toer om sorgvuldig na elke individu te kyk.

Goeie werk, André – jy’s seker die eerste Weg-leser wat Mauritius toe is en nié vir ons ’n foto van ’n wit strand gestuur het nie...


Wen met jou foto!
Wen met jou foto!
Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za