Wenfoto
Wenfoto

Francois van Jaarsveld

IG: @francois.vanjaarsveld.12; Nikon D600; Nikon 18-36 mm-lens

FRANCOIS VERTEL:

Ek is ’n amateur-landskapfotograaf van Heidelberg, Gauteng, maar neem gereeld groepe (gratis) na die Drakensberg-amfiteater.

Hierdie foto wys die Eastern Buttress en Devil’s Tooth en is van die bopunt van die Tugelawaterval af geneem. Ons oornag op die berg om vir die goue uur teen sonsopkoms gereed te wees.

My kamera is altyd op ’n driepoot gemonteer vir stabiliteit. Omdat ek spesialiseer in sonsopkoms- en sonsondergangfoto’s moet ek altyd die foto’s later redigeer om te kompenseer vir die groot verskil in beligting tussen die helder en donker dele van die foto’s. Ek verstel ook kontras, kleurversadiging en sny soms sekere dele uit om die komposisie te verbeter.

My f-stopverstelling hier was f6.3 op Aperture Priority-modus. Ek neem drie foto’s op “bracketing” om saam te “blend” in die prosessering om te vergoed vir die donkerste en ligste dele van die foto.

TOAST SÊ:

Party puriste sal sê dat “blending” van foto’s ’n kroekspul is, maar die waarheid is dat jy destyds in ’n donkerkamer dieselfde effek kon kry, mits jy geweet het wat jy doen. Deesdae is dit effens makliker.

Jy het sagteware soos Photoshop nodig, en dan klop jy bloot aan by YouTube (soek byvoorbeeld “How to cleanly blend 3 exposures in Photoshop”) en soek ’n slim ou om als stap vir stap aan jou te verduidelik.

Maak seker dat jy die basiese dinge reg doen, soos Francois hier uitstippel. Jou kamera moet op ’n driepoot wees sodat elke komposisie presies dieselfde is – anders “pas” die foto’s nie oor mekaar nie.

Jy moet “bracket,” met ander woorde jy moet een foto ’n bietjie donkerder belig as die ander, en die derde foto weer ligter. Jy kyk na die beligting vir die helderste deel van die foto (gewoonlik die lug), die donkerste deel (dikwels die voorgrond, maar in Francois se foto die skadukant van die kranse) en iewers tussenin. As jy reg ge-“blend” het, sit jy met ’n foto wat oral reg belig is.

Francois se foto is egter meer as net tegniek. Dit wys ook dat harde werk (al daai bergklim, al daai vroeg opstaan...) vrugte afwerp. Dis ook kunstig: Die komposisie is perfek met elke grashalm, wolk en bergtand op die regte plek – en dis hoekom dit hierdie maand se wenfoto is!


Foto
Foto B

Frans van Aardt

Canon EOS Rebel T3i; Canon 55-250 mm-lens

FRANS SKRYF:

Ons woon in Dar es Salaam en was op vakansie by Fish Eagle Point sowat 30 km noord van die dorp Tanga naby die grens met Kenia. Ek het twee oggende uitgegaan as dit laagwater is om die sonsopkoms af te neem. Dié oggend was daar net een seilboot wat van Kenia se kant af – die noorde – gekom het.

Die weerkaatsing op die water het dit laat lyk asof daar twee sonne is. Ek het die bootjie gevolg totdat hy in die middel van die twee sonne was.

TOAST SÊ:

Dis ’n klassieke Oos-Afrika-toneel dié, met die kenmerkende fatsoen van ’n dauseil wat die toneel anker onder ’n son wat nog laag en oranje oor die see hang – en dan daai “tweede” son wat op die water lê. Ek hou ook van die buitelyn van die donderwolk, wat iets ekstra tot die lug bydra.

Foto A is Frans se oorspronklike foto, maar in Foto B het ek die raam verander na portretformaat om te wys hoe maklik jy jou foto se komposisie kan versterk net deur jou kamera regop te draai. Nou is daar nie soveel leë spasie links en regs van die dau nie, en tree die reël van derdes op die speelveld: Die son sit presies op die regte plek, een derde van bo, een derde van links.

Dankie, Frans, dis ’n lekker foto. 


Ansie Kruger

Samsung S8

ANSIE SKRYF:

Hierdie foto is geneem terwyl ons met vakansie was by Dubbelmond naby Morganbaai in die Oos-Kaap. Wanneer ’n mens van agter die kampterrein met die voetpaadjie stap, bereik jy die plek waar die Kumqotwane- en Qukorivier bymekaarkom om in een monding in die see te vloei.Dis presies waar dié foto geneem is, met my twee kleinkinders in die voorgrond besig om vissies te vang.

TOAST SÊ:

Sjoe, ek kan die stilte byna hóór op hierdie foto. Kyk net hoe roerloos is die wateroppervlak.

Soms is dit asof die wêreld asem ophou en alles met jou deel: die natuurskoon, die vars lug wat jy inasem, die rustigheid in jou hart. Dis die bestanddele van ’n ordentlike vakansie, en Ansie se salige foto versinnebeeld dit.

Ek hou van die kinders in die voorgrond, asook die grashalms. Kon iets beter? Die foto kon wyer geraam wees (deur sowat ’n meter of wat verder terug te staan) sodat die dogtertjie se voete nie so na aan die rand van die foto is nie. So gepraat van voete – wie s’n steek hier van links af in die foto? Daai voet kon maar buite die raam gebly het.

Maar dis ’n foto wat meer oor gevoel as oor tegniese aspekte gaan: Jy kyk hierna en jy wil dadelik Oos-Kaap toe mik...


Gerhard van Helsdingen

Nikon D7000; Sigma 105 mm-lens

GERHARD SKRYF:

Ons woon in Vermont, en nadat ons een oggend in Maart misreën gehad het, het ek in die tuin rondgestap op soek na reëndruppels om af te neem. Ek het dié foto sonder ’n driepoot geneem omdat die blomme te laag op die grond was.

TOAST SÊ:

Gerhard se sluiterspoed was 1/800ste van ’n sekonde (ISO 400 en f5.6), wat gewoonlik vinnig genoeg sal wees om bewegings-blur te voorkom. Tóg, ’n driepoot dwing jou om stadiger te werk te gaan en dus meer aandag te gee aan als wat jy doen – van ligverstellings tot komposisie.

Die skerp detail van die vet waterdruppel span hier saam met die helder kleure van die blom vir ’n foto wat dadelik die aandag trek. Ek hou van die eenvoudige komposisie met die druppel wat een derde van links in die raam sit. Die res van die raam lê wyd oop, en gee jou die gevoel van ruimte – ’n tuin groot genoeg vir arms swaai.

’n Mooi foto, Gerhard.


Kyle Jira

IG: @kylej_photo Canon EOS 5D Mk. IV Canon 70-200 mm-lens

KYLE VERTEL:

Ek woon in Harare en het dié foto in die Hwange- nasionale park in Zimbabwe geneem. Een oggend het ons dié leeus (vyf wyfies en een mannetjie) in die pad gekry. Hulle het op ons afgepyl en ek het so laag as moontlik probeer kom vir die skoot.

My sluiterspoed was 1/1 250ste van ’n sekonde met ’n lensopening van f2.8 en ISO van 100. Ons het elke dag leeus gesien met ons verblyf daar, maar dié toneel het my bygebly.

TOAST SÊ:

Kyle is net 17 jaar oud, maar weet reeds wat hy doen! Dit help om die regte toerusting te hê – die lens waarmee hy skiet, is een van Canon se bestes.

Onthou gerus dat nie alle lense dieselfde geskape is nie. Hoe duurder die lens – rofweg gesproke – hoe beter. Beter beteken nie net dat hy verder kan inzoem nie. Beter moet eintlik veral beteken dat die lens skerper en vinniger is, en omdat jy met hierdie Canon EF 70-200 mm f.2.8 IS II USM-lens op f2.8 kan skiet, is dit inderdaad blitsig.

Wat’s ’n “vinnige lens”? Dis een waarmee jy selfs in lae lig teen ’n vinnige sluiterspoed kan skiet omdat die lens regdeur sy strekking (70-200 mm) teen ’n groot lensopening (wat baie lig inlaat) soos f2.8 kan skiet.

Maar terug na hierdie foto van Kyle: Dis die lae hoek wat die foto oemf gee, want nou staan die leeus goed uit teen die agtergrond.

Dit voel ook asof jy op voetsoolvlak met hulle sit – dit maak my effens benoud...

Die vlak fokusdiepte (omdat hy op f2.8 geskiet het) veroorsaak dat net die voorste twee leeus skerp in fokus is. Die ander leeus word dus deel van die agtergrond, en die voorste leeus lyk soos die helde wat breëbors op die plakkaat van ’n aksiefilm pryk.

Terloops, Canon maak nie meer dié lens nie, maar sy nuwe weergawe – die Canon EF 70-200 mm f2.8 IS III USM – kos in die omgewing van R32 500.

Begin solank spaar... 


Riaan Wolhuter

Nikon D7200; Nikon 200-500 mm-lens

RIAAN SKRYF:

Oor middagete op ons besoek aan die Olifantsruskamp in die Krugerwildtuin het dié trop olifante van die oorkant van die rivier af opgedaag om te kom water soek. Ek het vermoed hulle gaan dalk deur die vlakker deel van die rivier – stroomaf van waar ons gesit het – stap.

Hierdie deel is buite sig van die besoekerskompleks en ek het toe my geroosterde broodjie net so gelos en met my kamera in die hand gehardloop. Gelukkig was my raaiskoot in die kol en kon ek hierdie foto neem.

Die Kruger bly ’n wonderlike park vol verrassings – en met ekstra geduld en moeite gaan jy altyd resultate kry as fotograaf.

TOAST SÊ:

Dis feite daai, Riaan! Dit help ook as jy die gebied ken (Riaan het geweet waar die rivier vlakker is) en ’n idee het van hoe diere hulle gedra (Riaan het vermoed hulle sal verkies om deur die vlakker deel te stap). Sodoende begin jy dinge voorspel en kan jy jouself in die regte posisie kry vóór die aksie plaasvind.

Die komposisie is sterk hier, met die ry diere wat diagonaal deur die raam beweeg en dit dus anker van een hoek na die ander. Boonop word g’n deel van die raam verspil nie: Als is vol olifant, en waar daar nie grootvoete is nie, verskaf die kleur en tekstuur van die water, rotse en plante genoeg vir die oog om nooit eensaam te voel nie – en dís waarvan ons hou hier by “Mense se lense”!


Encee van Huyssteen

Canon EOS 5D; Mk. II Canon 70-200 mm-lens

ENCEE SKRYF:

Die Hoëveld laat ’n mens meestal dink aan klein vaal voëltjies en blesbokke. Maar as jy beweeg, kry jy kans om iets anders af te neem.

Ek en ’n paar vriende (ons woon almal in Secunda) besoek gereeld Marievale naby Nigel, asook Zibulo, ’n uitkykhut by ’n dam op een van die steenkoolmyne in ons omgewing. Soms is die voëls skaars, maar ander kere gee dit gulde geleentheid vir mooi aksiefoto’s.

Dié lepelaar het op die tak gaan sit en sy vere gepoets. Ek moes net wag vir die regte oomblik – en toe kom dit! My verstellings was: sluiterspoed 1/4 000ste van ’n sekonde, lensopening f5.6 en ISO 320.

TOAST SÊ:

Die kritieke oomblik is daardie breukdeel van ’n sekonde wanneer jy voel nou – nóú – moet jy daai knoppie druk! Dinge is makliker in die digitale era waar jy jou kamera op snelvuur kan stel en sommer tientalle foto’s binne sekondes kan neem – dan kan jy later rustig deur elke raampie blaai om die perfekte een uit te soek.

Waarna kyk jy? By voël-in-vlug-foto’s kyk jy veral na die posisie van die vlerke. Jy wil die voël se kop mooi kan sien; dus help dit nie ’n vlerk bedek die kop nie. So ampertjies is een veer van die vlerk die naaste aan die kamera oor die oog van die lepelaar – dink net hoeveel trefkrag dié foto sou verloor indien dit die geval was.

Moet die vlerke óp wees of áf? Dit maak nie eintlik saak nie; daar moet net ’n sin van balans wees.Dit moet grasieus lyk en beweging voorstel.

Encee se lepelaar is eintlik nog nie eens aan die vlieg nie, maar besig om vorentoe te tuimel van die tak af. Dit werk lekker, met een poot in die lug en die ander nog teen die tak – dit lyk soos ’n naelloper wat pas uit die blokke opstaan.

Netjies!

Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za 

Wen met jou foto
Wen met jou foto