Foto: Benjamin Miller
Foto: Benjamin Miller

Benjamin Miller

IG: @the_real_insta_moose; Canon EOS 5D Mk. II; Canon 300 mm-lens met ’n 1.4x-verlenging

BENJAMIN SKRYF:

Ek is van Port Elizabeth en het dié foto in die nabygeleë Addo-olifant- nasionale park geneem.

Die park het ’n erge droogte ervaar, en die grootvoete het by die kwynende watergate gehou.

Terwyl die grootmense gedrink het, het dié kalfie van die kleiner wild verwilder, insluitend hierdie vlakvark. Die olifantjie het die vark rondgejaag totdat hy die aftog geblaas het, en die kalfie het tog te trots gelyk op sy oorwinning. Ná ’n ruk het die vlakvark darem iets te drinke gekry toe die kalfie se aandag elders was.

TOAST SÊ:

Ek hou van ’n foto wat ’n storie vertel. Voeg daarby ’n skoot humor, skerp fokus en mooi lig, en jy het die Foto van die Maand! Welgedaan, Benjamin!

Dis duidelik dat die kalfie lus is vir speel – kyk net daai gevreetjie! Dit terwyl die vlakvark glad nie lus is vir manewales nie.

Benjamin se sluiterspoed van 1/800ste van ’n sekonde was vinnig genoeg om die beweging te vries. Daar is selfs ’n bietjie stof onder die kalfie se poot wat beweging tot die foto voeg. Die slurp is natuurlik die beste deel van die foto!


Bruce Meaker

Canon EOS 7D; Canon 100 mm-makrolens

TOAST SÊ:

Wanneer ’n mens van naby kyk, onthul die insekwêreld hope interessanthede. Sommige goggas lyk soos ruimtewesens en ander – soos dié bidsprinkaan – lyk asof hy op pad is na die Kaapse karnaval.

Dis goed om jou fotoneem-vaardighede te verbeter, maar dis ook goed om jou “oog” te ontwikkel vir goeie beelde van verskillende voorwerpe. Jy gaan dit net regkry as jy buite jou gemaksone beweeg.

Probeer ’n slag sportfoto’s neem, of neem meer foto’s van mense. Neem foto’s van landskappe as jy gewoond is aan mense afneem. As jy nie by wildreservate uitkom nie, kan jy makrofoto’s van insekte in die tuin neem. Soos Bruce wat dié foto in sy tuin in Oos-Londen geneem het. Gaan na ’n park as jy nie ’n tuin het nie.

Jy moet versigtig met fokus wees as jy makrofoto’s neem. Nes by diere en voëls, is die kop en die oë van die insek waar jy moet fokus. En Bruce het dit mooi reggekry.


Cole Battell

Nikon D5300; Tamron 16-300 mm-lens

COLE SÊ:

Ek het ’n internskap voltooi by King’s Camp by die Timbavati-wildreservaat buite Hoedspruit. Ek is 17 jaar oud en van Knysna, en ek wou sien hoe die boslewe is en of ek ’n loopbaan daarvan kan maak.

Een middag in my etensuur het ek dié bosveldvisvanger gesien. Ek het hom bekruip en elke keer as ek nader kom, nog ’n foto geneem. Ek hoop julle geniet my foto.

TOAST SÊ:

Natuurlik! Ek is bly jy het die foto gestuur – dié rubriek is vir álle lesersfoto’s, en selfs beginnersfoto’s word gepubliseer. Nou kan jy by jou pêlle spog!

Fotografie is ’n baie lekker stokperdjie wat saam met die digitale era gegroei het. Elkeen kan nou ’n foto op Facebook of Instagram laai, maar daar’s steeds iets opwindends aan ’n foto wat gepubliseer word. Stuur jou foto’s na tydskrifte en neem deel aan kompetisies – jy wen dalk iets!

Die bosveldvisvanger staan mooi uit in Cole se foto. Hier is nie eens ’n blaartjie in die pad nie. Die zoemlens het die agtergrond uit fokus gegooi sodat die voël goed uitstaan. Die rooi bek en blou vere skitter en daai vonkel in die oë gee die oogkontak wat ’n mens op ’n dierefoto soek.

Goeie werk, Cole! 


Foto: Martina Stoecker
Foto: Martina Stoecker

Martina Stoecker

Pentax K200D; Pentax 35-55 mm-lens

MARTINA SKRYF:

Dié foto is geneem by die Kokerboomwoud buite Keetmanshoop in Namibië.

Dit was ons eerste vakansie in Namibië, en ons het by die kampplek gebly. Aan die einde van die reis het ons altesaam 9 000 km afgelê!

Op dié dag was dit net ek in die veld en die atmosfeer was ongelooflik met dié reuse rondom my. Ek wonder wat hulle sou sê as hulle kon praat?

TOAST SÊ:

’n Kokerboom! In Suider- Afrika het ons die voorreg om ikoniese bome soos kremetarte, kameeldorings en kokerbome (hoewel tegnies ’n boomalwyn), in ons landskapfoto’s in te sluit. Al dié bome sorg vir mooi silhoeëtte, maar die kokerboom dra die kroon.

Hoe belig ’n mens dus ’n goeie silhoeëtfoto? Neem die liglesing van die helder lug agter die voorwerp. Sodoende sal die voorgrond baie donker wees en die silhoeët meer prominent. Die beste tyd van die dag vir silhoeëtte neem is of baie laat of baie vroeg in die dag wanneer die sonstrale skuins val.

Dié kokerboom lyk soos ’n groot stuk broccolli wat uit die lug geval het.

Dis ’n lieflike foto, Martina.


Jenny Barnard

Canon EOS 600D; Canon 100 mm-makrolens

JENNY SKRYF:

Ek het dié foto geneem op ’n wintersoggend in die Kogelberg-natuurreservaat in die Wes-Kaap. Ek het foto’s van dié pienk blomme geneem toe ek ’n vlieg sien wat op ’n blom in die son bak.

Ek het my makro-lens op “manual” gestel sodat ek kon kies watter kol ek wil fokus.

My kameraverstellings was soos volg: sluiterspoed 1/160ste van ’n sekonde (die vlieg het stilgesit), lensopening f5.6 en ISO 160 (sensorsensitiwiteit).

TOAST SÊ:

Dis ’n sterk nabyskoot. Ek hou van die ongewone komposisie en die negatiewe ruimte in omtrent driekwart van die raam. Die reël van derdes is ook sterk op die foto.

’n Mens hoef nie altyd die reëls te volg nie. Hoofstroomreëls vereis dat die voorwerp in die raam moet kyk; hier moes die vlieg dus na regs gekyk het, nie na links nie.

Maar stroomop is ook goed, en ek hou daarvan dat hy in die “verkeerde” rigting kyk. Nou kan ’n mens die glinsterende vlerke mooi teen die donkerder agtergrond sien. Die pienk van die vlerke eggo selfs die pienk van die blomme elders in die raam.


Wimpie Jonker

Canon EOS 70D; Canon 400 mm-lens

WIMPIE VERTEL:

My kinders het my basies gedwing om hierdie foto in te stuur! Ons was in Junie 2018 in die Kruger en het laatmiddag gery langs die Ngotsorivier noord van Satara.

Hier sien ons toe twee luiperdwelpies in die droë loop. Die een het gou verdwyn, maar ek kon die Kombi draai sodat ons die ander welpie in die loop afneem.

Skielik het die eerste een in ’n boom verskyn, baie naby aan ons. Kyk mooi, die ogies van die luiperd weerkaats die Kombi se silwer kleur!

TOAST SÊ:

Wimpie, dié foto van jou sal op enige koffietafelboek se voorblad kan pryk – ek is bly jou kinders kon jou arm draai...

Die oogkontak is van groot belang. Dink net hoeveel minder impak die foto sou gehad het indien die welpie na die grond gekyk het. Die lig wat die kant van die gesig en snorbaard vang, help om diepte aan die foto te gee omdat een kant van die gesig nou in skadu gehul is en die ander in sonlig.

Dan is daar die simmetriese komposisie danksy die mik van die boom wat die welpie byna “raam”.

Soveel pluspunte op één foto! Baie geluk! 


Mark Preston-Whyte

Canon EOS 10D; Sigma 18-125 mm-lens

MARK SKRYF:

Ek is van Howick, maar het dié foto in Kaapstad geneem. Ek was by Kommetjie en die onstuimige see het gesorg vir baie sproeireën in die lug.

Dit was in die middel van die dag en ek moes onderbelig omdat die natuurlike lig so fel was. My verstellings was soos volg: lensopening f27, sluiterspoed 1/125ste van ’n sekonde en ISO 200.

Die oorspronklike foto is geneem as ’n JPEG-lêer en nogal eentonig. Met Photoshop CC 2018 het ek die foto verskerp tot ’n meer interessante beeld.

TOAST SÊ:

Sommige fotograwe sê ’n goeie foto begin met ’n goeie “capture”. Hulle glo nie eens die beste redigeringsprogramme kan die foto red as jou eerste neem nie goed genoeg was nie.

Ek hou van die donker gestalte van die duikers in die voorgrond; die silhoeëtte word afgeëts teen die wit skuim van die see. Die vae buitelyn van die berg is ook dramaties.

Photoshop het wel ’n “sharpen tool”, maar dit kan jou ook net so ver bring. Jou fokus móét goed wees, anders moet jy weer probeer. Mark het die basiese goed onder die knie; dus kon hy die foto later redigeer. Maak seker jy weet hoe jou redigeringsagteware werk, en leer hoe om die beste resultate te kry vir wat jy wil hê.

Troufotograwe soek byvoorbeeld kreatiewe opsies. Fotojoernaliste karring nie veel aan foto’s nie, want hulle wil hê foto’s moet ’n getroue beeld van die werklikheid weergee. Krap tussen jou ou foto’s; dalk kan jy hulle redigeer tot iets beters.


Geoffrey Peatling

Canon EOS 7D; Canon 10-22 mm-lens

TOAST SÊ:

Namibië se duine is supersterre. Dis verstommend hoe fotogenies hulle is – jy hoef bloot net jou kamera in hulle rigting te mik en jy het iets moois.

En as jy dan iets spesiaals doen soos ’n lugfoto neem, raak dit die foto wat jy vir die ontvangslokaal by die kantoor kan raam.

Ek hou daarvan dat Geoffrey die horison uit die foto gesny het. Omdat jy nie sien waar die duine by die horison aansluit nie, lyk dit asof hulle geen einde het nie.

As jy ooit die kans het om oor die Namib te vlieg (dié foto is uit ’n helikopter geneem), moet jy seker maak dat jy vroegoggend of laatmiddag gaan wanneer skadu’s ’n rol begin speel.

In die middel van die dag lyk die duine ook spiekeries, maar die skadu’s skep diepte en verskerp die kontras tussen die sonbeligte sand en die helling in die skadu.

Ek is skoon jaloers, Geoffrey!


Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za