Steve Trimby

Wenfoto: Steve Trimby
Wenfoto: Steve Trimby

IG: @trimbysteve; Canon EOS 6D; Canon 24-105 mm-lens

STEVE SKRYF:

Hierdie kol is ’n entjie van Waenhuiskrans in die Wes-Kaap af. Dis makliker om met ’n 4x4 hier uit te kom, veral met kameratoerusting, maar dis ook stapafstand van die dorp af.

Vroegoggend en laataand bied natuurlik die beste lig vir buitefoto’s. Ek was al vroeg op pad en is met ’n skouspelagtige sonsopkoms beloon. Dié foto is sowat ’n uur ná sonsopkoms geneem.

Ek het ’n LEE Big Stopper-filter gebruik wat jou toelaat om ’n lang beligtingstyd toe te pas (in dié geval 20 sekondes) – dis hoekom die see so satynglad lyk. Die statiese elemente (soos die rotse) bly skerp terwyl die bewegende elemente dromerig vertoon. Ek gebruik die filter gwoonlik vir seetonele, want dit gee altyd ’n kunstige afronding.

Ek het die foto geneem met ’n ISO van 400 en ’n lensopening van f13 met die lens teen 24 mm.

TOAST SÊ:

Te danke aan die lang beligtingstyd word ’n gewone see-toneel hier op sy kop gedraai! Hierdie truuk is moontlik met die gebruik van die filter, wat vooraan die lens vasgeskroef word. Die LEE Big Stopper is baie donker en verminder die lig wat by jou lens inkom met 10 stoppe. Gewoonlik is ’n sluiterspoed van 20 sekondes iets wat jy in die aand sal oorweeg, want sonder ’n filter soos hierdie sou dieselfde beligting in die dag lei tot ’n oorbeligte, uitgewaste beeld. (Steve sou natuurlik ook ’n driepoot gebruik het.)

Hierdie soort filters is aan die duur kant (R2 000 of meer vir dié een), maar dis die geld werd as jy ernstig is oor landskapfotografie. Maar Steve se foto is nie net slim truuks nie; hy het ’n goeie oog vir komposisie en het ’n bekende toneel in iets asemrowends omskep – en daarom is sy foto dié maand se wenfoto. Knap gedaan!


Sue Goodman

IG: @sue_goodman_photos; Canon EOS 7D; Canon 100-400 mm-lens

SUE SÊ:

Dié foto is geneem op ’n C4 Photo Safaris-slypskool by Mashatu in die Tuliblok, Botswana. Die slypskool is gelei deur die fotograaf Isak Pretorius.

Hierdie grootmeneer was op pad na sy trop en ons het hom vir sowat 20 minute afgeneem. Spike Mooketsi, ons groep se gids, is ook ’n fotograaf en het geweet hoe om die beste foto’s te neem. Ons het reeds in een van ons sessies ’n soortgelyke toneel bespreek en die regte verstellings bepaal: ’n sluiterspoed van 1/160ste van ’n sekonde; f5 en ’n ISO van 6 400. Hierdie is net een van ’n reeks foto’s!

Ek is baie in my skik met dié foto.

TOAST SÊ:

Ek is ook baie in my skik met die foto! Op ’n georganiseerde foto-uitstappie werk almal saam om die beste geleentheid te skep vir ’n spesiale foto. Die bestuurder sal weet wanneer om die wildkykvoertuig af te skakel en wanneer om nader te beweeg sodat die bosse nie jou blik op die onderwerp belemmer nie.

Aangesien die toneel vooraf deurdink is, het Sue haar verstellings gereed gehad. Met die hoë ISO van 6 400 kon sy ’n vinnige sluiterspoed gebruik en sy kon fokus op hoe om die toneel te raam. Ek hou daarvan dat sy hope spasie rondom die leeu gelaat het en dat hy ruimte het om te beweeg.

Ook die ligstreep op die grond is lieflik! Dit lyk asof hy ’n verhoog betree om vir ons ’n aria te sing!


Werner Reyneke

IG: @w_reyneke; Nikon D4; Nikon 70-200 mm-lens

WERNER VERTEL:

Hierdie foto is in Walvisbaai, Namibië, geneem. Die gebied is bekend vir mistige weer, maar ek was dié dag aangenaam verras met die mooi sonsondergang.

Hierdie voëls het heeltyd verbygevlieg. Ek het die liglesing in die deel reg langs die son gevat sodat ek ’n goeie silhoeët van die voëls kon kry. My verstellings was ’n sluiterspoed van 1/1 600ste van ’n sekonde, lensopening van f8, en my ISO was op 200 gestel.

TOAST SÊ:

Eenvoudig – en eenvoudig mooi! Die skerp vlerkpunte en snawels van hierdie sterretjies (ek dink dis wat hulle is...) skep treffende silhoeëtte. Onthou, silhoeëtte gaan nie oor die detail van die hoofvoorwerp nie. Jy hoef nie die dier se oog of kleur te sien nie. Dit gaan bloot oor die buitelyne, en hoe dit grafies ’n impak kan maak.

Die sagte oranje en pers kleure in die lug agter dra by tot die foto. Daar is nuanse te bespeur in die agtergrond en dit lyk nie net bloot asof die voëls uitgeknip en teen ’n skoon agtergrond vasgeplak is nie. Ek hou ook baie van die sakkende son in die raam, wat die suggestie van ’n horison gee, selfs al is dié net-net uit die raam gesny.

Netjiese werk, Werner!


Christa Koekemoer

Canon EOS 7D Mk. II; Canon 500 mm-lens

CHRISTA SKRYF:

Ek het dié grootlangtoon se neseiertjies op die Choberivier in Botswana afgeneem. Ek kon nie glo hoe mooi dit is toe ek hulle van nader bekyk nie! Ek het saam met die mense van Pangolin Photo Safaris uitgegaan – hulle spits hulle daarop toe om die beste fotogeleenthede vir jou te skep. Ons gids het die nessie raakgesien en ons nader geneem. Ek het op die boom van die boot gaan sit om so laag as moontlik te kom. 

Die ander bootbestuurders is oor die nes ingelig sodat hulle nie die nes beskadig nie (golwe van bote kan só ’n nes verspoel). Dit was wonderlik om te sien hoe almal die natuur bewonder en bewaar om die diere se voortbestaan te verseker.

TOAST SÊ:

Ek hou hiervan juis omdat dit – vir ’n verandering – nié die grootlangtoon self wys nie. Ja, dis een van die Chobe se mees fotogeniese geveerdes, maar as gevolg daarvan land hier elke maand ’n hele gefladder grootlangtoonfoto’s in “Mense se lense” se inboks. Maar die eiertjies? Nee, dié is ’n eerste!

Dit lyk asof ’n kunstenaar ure lank die eiertjies met ingewikkelde patroontjies sit en beverf het. Jy kan maar net jou kop skud oor hoe ongelooflik die fynste detail van Moeder Natuur kan wees.

Deur plat te gaan sit het Christa op byna dieselfde vlak as die nessie gekom. Dit het haar hoek aansienlik verbeter, want as jy hierdie nessie van bo af afgeneem het, sou daar nie dieselfde diepte gewees het nie.

Die patrone op die eierdop is wraggies hipnotiserend. Ek wil sulke muurpapier vir my woonstel hê!


Coerie Ferreira

Canon EOS 1D  Mk. III; Canon 400 mm-lens met ’n 1.4x-omsetter

COERIE VERTEL:

Ons woon langs die Vaalrivier, naby Bothaville, maar ek en my vrou was op vakansie in Ballito. Die Ballito Pro-branderplankrykompetisie was toevallig aan die gang, en ek het my kamera en driepoot gevat en twee dae lank gestaan en foto’s neem.

Die resultate was nogal goed. ’n Australiese vrou wat deelgeneem het, het my gevra of ek van my foto’s vir haar kan aanstuur – en sy was baie beïndruk.

Ek probeer aksiefoto’s op ’n lensopening van tussen f6 en f8 neem met ’n ISO van 200-400, om ’n redelike sluiterspoed te kry – en tog ook ’n bietjie fokusdiepte. Hier was my lensopening f6.3, die ISO 200 en die sluiterspoed 1/1250ste van ’n sekonde.

TOAST SÊ:

Ja, met sportfotografie is ’n vinnige sluiterspoed so nodig soos stroop op jou grondboontjiebottertoebroodjie. Coerie s’n was blitsig genoeg om byna elke waterdruppel te vries, asook die beweging van die surfer.

Coerie het ook sy oomblik reg gekies, want die surfer se posisie – een hand wat die bord vashou, die ander wat lyk of hy duim wys – is nét reg. Die diagonale lyn wat die branderplank maak, werk goed saam met die arms en bene om die komposisie interessant te maak. Hierdie lyne – die arms en bene – lei jou na die ou se gesig, waar sy uitdrukking (iewers tussen komkommerkoel en klou vir wat jy het!) jou ook ’n storie vertel.

Knap gedaan, Coerie – jy kry duime op van hier tot in Australië! 


Elma Gough

Nikon D5300; Nikon 70-300 mm-lens

ELMA VERTEL:

Ons was ’n paar dae lank by die Kaia Manzi-oord by die Bronkhorstspruitdam. Dit was die eerste keer dat ons langs ’n dam uitspan. Dit was ’n miernes van bedrywigheid met mense wat hengel en in die son en water baljaar. Sowel die sonsopkoms as die -ondergang het my na my kamera laat gryp.

Ek is ’n groentjie wat fotografie betref. Ek stel die kamera op “Auto”, en as die foto mooi uitkom, dan is dit ’n bonus!

TOAST SÊ:

Hier by “Mense se lense” het ons tyd vir almal, van die ouens met die dik, lang lense tot diegene wat sommer so nonchalant met een hand foto’s neem op hulle selfoon... Daarom is dit okei om te erken dat jy sommer net op die “Auto”-modus skiet en hoop op die beste. Soos ons kan sien met Elma se foto, lewer dit soms baie netjiese resultate!

Hierdie is die ideale toneel vir ’n geduldige fotograaf om ’n goeie silhoeëtfoto te neem. Vat jou beligting op die helder, weerkaatsende water. Fokus op die mense. Nou wag jy dat iemand iets interessants doen. Lyn ingooi dalk, of waai, of dalk staan ’n kind op sy hande of iets.

Daar is vyf mense op Elma se foto en elke sekonde bied ’n vars opsie as hulle aan die beweeg bly.

Hulle lyk amper soos karikature in ’n poppekas. Bly kyk en kiek (“Auto” ofte nie...) en kies later die beste oomblik – en stuur dit vir “Mense se lense”!


Helgard van der Westhuizen

Nikon D3300; Nikon 55-200 mm-lens

HELGARD SKRYF:

Dit was laatmiddag in die Krugerwildtuin en ons was al op pad terug kamp toe. Ek het reeds my kamera begin wegpak toe ek skielik iets tussen die bosse sien beweeg. Ek het my pa gevra om te stop dat ons kan kyk – en ons sien toe dié waterbokbul.

Dit was maar ons tweede keer in die wildtuin en tot in daai stadium het ek nog nie ’n waterbokbul daar gesien nie. Ek kon my kamera weer gereed kry en het dadelik die knoppie gedruk – nét voor hy gedraai en weggeloop het.

TOAST SÊ:

’n Mens kan binne jou eerste minuut buite die kamphek iets spesiaals sien – of ook in jou laaste paar minute voor toemaaktyd. Moenie soggens wag tot jy by die watergat kom voor jy die kamera uithaal nie. Maak seker jou batterye (ja, meer as een is goed) is gelaai vir die dag, en dat jy jou zoemlens ingepak het. Is daar genoeg plek op jou geheuekaarte? Als moet binne maklike bereik wees, verkieslik op die sitplek langs jou, of op jou skoot.

Waterbokke is enige tyd net so mooi soos koedoes, veral die bulle met hulle sierlike horings en dik, vorstelike nek. Vir ’n goeie diereportret soos Helgard s’n wil jy hê dat die dier vir jou kyk, en dat die ore en horings duidelik is. Die een horing moenie agter ’n tak wees nie, en as die bok se een oor toevallig plat lê of agtertoe flap wanneer jy die foto neem, wag eerder totdat al twee weer langs die kop uitstaan.

Ek hou ook altyd daarvan as ek die stert kan sien uitswaai agter die boude. Neem dus ’n paar foto’s sodat jy dalk die stertjie ook vang!


Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Wen met jou foto
Wen met jou foto

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za