Gaan na neembeterfotos.weg.co.za 


Wenfoto: Ashley Teixeira

Wenfoto: Ashley Teixeira
Wenfoto: Ashley Teixeira

IG: @beaulahphotography; Canon EOS 4000D; Canon 75-300 mm-lens

ASHLEY SKRYF:

Ek het dié foto vroeg op ’n wintersoggend in Ermelo, Mpumalanga, geneem. Ek is gaande oor die natuur se kleure.

My ISO was 200 en ek het ’n lensopening van f11 gebruik. Ek het ook heelwat ingezoem. Ek leer nog oor die gebruik van verskillende lensopeninge en ISO’s, maar Weg se aanlynkursus het my al baie geleer. Dis fantasties vir amateur-fotograwe – beslis elke sent werd!

SHELLEY SÊ:

Dis ’n mooi sonsopkoms! Ashley het die takke in die foto geraam pleks daarvan om dit uit te sluit, wat die foto meer treffend maak. Baiekeer is ons so behep met die perfékte foto dat ons glad nie ’n foto neem nie. Moenie die tak, gebou of mens in jou raam wegwens nie – gebruik die element.

As Ashley net die son afgeneem het, sou die foto mooi gewees het, maar nie interessant nie. Die beligting is goed, wat die kleure laat sprankel. As Ashley vir die takke belig het, sou die kleure vaal gelyk het.

Moenie die tak, gebou of mens in jou raam wegwens nie – gebruik die element.

Soek die beligtingskompensasieknoppie op jou kamera.

Hiermee kan jy ’n foto ligter of donkerder maak afhangende van wat jy wil bereik. Speel met die verstellings en kyk wat gebeur.


Wimpie Muller

Nikon D7100; 55-200 mm-lens

WIMPIE SKRYF:

Ek hou daarvan om foto’s in die veld te neem – die elemente is ongekunsteld en ru. Ek het een oggend rondgery op ons plaas in die Waterpoort-omgewing naby Alldays in Limpopo. Dié veertjie het aan ’n grashalm vasgesit en die oggendlig was perfek vir ’n foto.

Ek wou eintlik ’n foto neem van ’n tarentaal wat skrop, maar ’n belangrike les geleer: Baiekeer kyk ons die klein dingetjies mis, want ons is altyd aan die uitkyk vir iets groters.

Ek het op my maag gaan lê om so na as moontlik aan die veer te kom en myself só geposioneer dat die son agter die veer is. My verstellings was soos volg: sluiterspoed 1/1250ste van ’n sekonde, lensopening f5 en ISO 560. Die veer het liggies in ’n bries gebeef en ek wou hom mooi vries.

Die aanlynkursus het my meer selfvertroue gegee om met verstellings te eksperimenteer. Wanneer ’n mens buite foto’s neem, moet jy dinge soos bewegings en lae lig in ag neem; dus moet jy jou kamera goed ken.

Omdat ek ver van alles af woon, is dit nuttig om die kursus op my eie en teen my eie pas te voltooi. Die fotoneemgogga het ook my vrou gebyt en ons kan nou saam oefen.

SHELLEY SÊ:

Op die oog af lyk hierdie dalk na ’n eenvoudige foto, maar eintlik is hier baie aan die gebeur. Kyk na die ligstraal rondom die wolkiekant van die veer en hoe mooi dit belig is. ’n Mens kan elke detail sien.

Die deel met die kolletjies is skerp in fokus, en die relatiewe groot lensopening van f5 sorg dat daar kunstige fokusdiepte is. (Die voor- en agtergrond is uit fokus, wat die aandag op die voorwerp laat val.) Die lae hoek skep ’n skoon agtergrond en daar’s niks wat jou aandag aftrek nie. 


Irma Ferreira

IG: @ifs.irmaferreira; Samsung Galaxy S8

IRMA SKRYF:

Ek was in KwaZulu-Natal op ’n sakereis en het dié mot gesien in die badkamer van die gastehuis waar ek tuisgegaan het. Ek hou van die eenvoud van die foto: Daar’s die ligte agtergrond en eenvoudige kleure van die mot, maar die feit dat hy ’n hap in sy een vlerk het, sorg vir karakter.

Ek het die foto met my selfoon geneem en die verstellings was soos volg: sluiterspoed 1/17de van ’n sekonde, lensopening f1,7 en ISO 250. Ek het so na as moontlik aan die mot gegaan sonder om hom te pla. Later het ek die foto met Adobe Lightroom verskerp.

Die afdelings in “Neem beter foto’s” is goed geskryf en verduidelik konsepte in eenvoudige taal. Die wenke het my ook baie gehelp.

SHELLEY SÊ:

Fotogeleenthede is óral, selfs in ’n badkamer!

Dis hoekom moderne slimfone so gerieflik is: Jy het heeltyd ’n kamera in jou gatsak. En selfoonkameras is deesdae só goed dat ’n mens soms nie die verskil sien tussen ’n selfoonfoto en een wat met ’n lenskamera geneem is nie.

’n Foon is ook goed vir ’n nabyskoot soos dié. Die detail van die mot se vlerkies staan mooi uit teen die skoon agtergrond. Ek is verbaas dat Irma so ’n skerp foto kon neem met ’n stadige sluiterspoed. Sy het óf ’n baie stil hand óf Samsung het slim beeldstabiliserende tegnologie. Knap gedaan!

Fotogeleenthede is óral, selfs in ’n badkamer!


Ilze Viljoen Kotze

Fujifilm; Finepix SL 1000

ILZE SKRYF:

Ons woon op Kriel in Mpumalanga. Ek het een oggend ’n paar bye in die tuin gewaar en was nog altyd geïnteresseerd in hoe bye water drink en stuifmeel versamel.

Ek het vinnig my kamera gaan haal, want hy het ’n makrolens. Makrofotografie het vir my as beginner ’n nuwe wêreld ontsluit.

Ek het suikerwater in ’n blompot met albasters gegooi en gekyk hoe die by die water drink. My sluiterspoed was 1/400ste van ’n sekonde, lensopening f9,5 en ISO 100.

Ek het die aanlynfotokursus baie geniet en ek is sedertdien passievol oor foto’s neem.

SHELLEY SÊ:

’n Mens het ’n stewige hand nodig as jy iets soos insekte met ’n makrolens wil afneem. Dis ook goed om ’n driepoot te gebruik vir stabiliteit en as jy met ’n moeilike fokuspunt sukkel.

Ilze het dit amper reggekry: Die vlerke is skerp in fokus, maar nie die oë soos gewoonlik nie. Dit maak wel sin dat die vlerke eerder die fokuspunt is aangesien die son daarop glinster. Die suikerwater het die by lank besig gehou sodat Ilze genoeg tyd gehad het om die foto te neem.

Die suikerwater is nie skadelik vir bye nie, maar ons raai jou nie aan om bye vir lank te voer nie. Hulle sal aanhou terugkom en nie hulle natuurlik gebalanseerde dieet volg nie.


Mari Marais

Nikon 5300; 70-300 mm-lens

MARI SKRYF:

Ek en ’n paar vriende het ’n regte, egte boeredans op die plaas Kadebis in Noordwes bygewoon. Ons het langs die pad stilgehou, want ek wou ’n foto van die sonsondergang neem. Die beste uitsig was van voor af, maar ek is bly ek het omgekyk. Dit lyk asof twee wêrelde byeenkom: stowwerig en spokerig aan die een kant, en vredig met beeste wat wei aan die ander.

Ek het die foto geneem met die sonsondergangverstelling op my kamera. Dis prettig om te eksperimenteer en later te kyk wat die resultaat is.

SHELLEY SÊ:

Wanneer ’n mens ’n sonsondergang afneem, vergeet jy baiekeer om te kyk wat agter jou gebeur. Draai volgende keer om en jy sal sien hoekom dit die “goue uur” genoem word.

Die motor in die pad gee perspektief aan die foto – net soos die beeste. Die gras in die onderste hoek is uit fokus en lei nie die aandag af nie. Dis ’n foto wat jou lus maak om in die kar te spring en die pad te vat. 

Draai volgende keer om en jy sal sien hoekom dit die “goue uur” genoem word.


Yolande Roos de Bruyn

IG: @yolande.debruyn; Nikon D3200; Tamron 150-600 mm-lens

YOLANDÉ SKRYF:

Ek het dié geelbekneushoringvoël op die H6 naby Satara in die Krugerwildtuin afgeneem. Dit was in die middag en twee van hulle het op ’n boomstomp gesit. Een van hulle het later na die grond gehop en sy vlerke gesprei, want dit was nogal warm. Ek het gewag totdat die voël na my kant toe draai, want ek wou sy snawel op die foto kry.

Die reuse-ooruil het ook op ’n boomstomp gesit, langs die H3 tussen Skukuza en die Afsaal-piekniekplek. Ek wou die kontras tussen die dooie boom, die uil se sterk kloue en sy sagte vere en oë vasvang.

Ek het baie dinge in my aanlynkursus geleer – veral dat ek nie ’n beroepsfotograaf is nie. Ek neem foto’s omdat ek daarvan hou en die voorwerpe verskil: van ’n windpomp en wilde diere tot kinders en mense wat sport beoefen... Die beste is wanneer my voorwerp onbewus is van my en die foto natuurlik is. Ek het ook geleer dis aanvaarbaar om in die outomodus te skiet, want wilde diere wag nie totdat jy jou kamera op die regte verstelling het nie.

SHELLEY SÊ:

Dis goeie raad van Yolandé: Fotografie is ’n reis en jy sal voortdurend leer... Die toestande en beligting is nooit dieselfde nie en dís wat dinge interessant hou.

Ek hou van hoe verskillend dié twee foto’s is: Die neushoringvoël met sy helder kleure en die bruingrys uil wat met sy omgewing saamsmelt. Yolandé se lensopening was f6,3 vir albei foto’s – en dit werk: Albei voëls se oë is vlymskerp en op albei foto’s is goeie fokusdiepte. Die agtergrond is op albei uit fokus en lei geensins die aandag af nie.

Onthou, met ’n 600 mm-lens soos Yolandé s’n is ’n dramatiese fokusdiepte standaard. Skep ’n bietjie speelruimte deur met ’n kleiner lensopening te skiet soos wat Yolandé gedoen het, want dan kry jy meer van die voorwerp in fokus.

Verlaag jou ISO as jy in sonlig ’n foto neem, want dan sal jou foto minder greinerig vertoon. Hou egter jou sluiterspoed vinnig sodat jy die aksie van die voëlvlerke kan vries.

Lensopening, sluiterspoed en ISO werk saam: Jy kan nie die een verstel sonder dat dit die ander beïnvloed nie.


Chrissie Nolte

IG: @chrissie.nolte; Canon PowerShot SX60 HS

CHRISSIE SKRYF:

Ek het hierdie foto geneem op die S130 tussen Onder-Sabie en Krokodilbrug in die Krugerwildtuin. My verstellings was: sluiterspoed 1/160ste van ’n sekonde, lensopening f6,5 en ISO 200. Daar was eekhorings langs die pad en ek het vinnig gespring om hulle te vang: Ek het sommer op outomodus geskiet.

Weg se aanlynkursus het my baie geleer en ek geniet dit vreeslik. Ek het my dogter nou ingeskryf vir haar verjaardag!

SHELLEY SÊ:

Dis goed dat Chrissie die outomodus gebruik het. Jou eerste prioriteit is om ’n foto te neem – énige foto. As die dier nie haastig is nie, kan jy met die verstellings speel en kyk of jy ’n beter foto kan neem. Die outomatiese verstellings gee jou ’n goeie wegspringpunt.

Die fokus hier is nie perfek nie – dis op die boombas eerder as die eekhoring se oog, waar dit eintlik moes wees. Maar dis nie die einde van die wêreld nie – die foto is steeds oulik.

Sou Chrissie aan haar verstellings verander het, kon sy by die lensopening begin het. Die kamera se gekose f6,5 is relatief groot, wat beteken daar is ’n groter verskil tussen die skerp deel en die deel at buite fokus is. As sy ’n kleiner lensopening van f8 gebruik het, sou die fokusfout nie so opsigtelik gewees het nie.


Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Wen met jou foto!
Wen met jou foto!
Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za