Wenfoto
Wenfoto: Jenny Rood

Wenfoto: Jenny Rood

IG: @rood376 Nikon D600; Tamron 15-30 mm-lens

JENNY SKRYF:

Alles was stil rondom die Okaukeujo-watergat in die Etosha- nasionale park in Namibië.

Die grootvoete het hulle dors geles, die kameelperde het ook kom drink , en laaste was dit hierdie renoster se beurt. Hy het die water ingestap met die enkele boom in die agtergrond.

Dit het amper gelyk asof hy die laaste renoster op aarde is.

Hy het só stil gestaan dat ek met ’n lang beligtingstyd van 13 sekondes – natuurlik met ’n driepoot – steeds ’n baie skerp foto kon neem.

SHELLEY SÊ:

Jenny se foto het onmiddellik my oog gevang. Dis net sy skaduwee wat hierdie eensame renoster geselskap hou. Die watergat se kollig belig die toneel perfek: Dit lyk asof die renoster op ’n verhoog staan en ’n aria gaan sing.

Omdat Jenny die sluiter vir so lank oopgelos het, kon sy ’n relatiewe lae ISO van 640 gebruik, wat beteken die foto is byna glad nie greinerig nie. Sy kon selfs ’n laer ISO gebruik het as haar lensopening groter was, maar sy het f18 gekies en die toneel is in fokus.

Baie geluk, Jenny! 


Linda Marais
Linda Marais

Linda Marais

Canon PowerShot SX120IS

LINDA SKRYF:

Ek woon op Kleinemonde in die Oos-Kaap. My buurvrou het mooi rose in die tuin, en dis waar ek dié blombidsprinkaan gesien het.

Dis ’n nimf, met fop-oë op die vlerke om roofdiere af te skrik.  

SHELLEY SÊ:

Interessant! Die insek is só perfek gekamoefleer dat die meeste van ons hom nie sou raaksien nie – gelukkig kyk Linda fyn.

Kontras is hier belangrik: Die pienk roos kontrasteer mooi met die groen agtergrond en die stekelrige tekstuur van die insek kontrasteer met die sagte blomblare. Linda het die foto uit ’n lae hoek geneem; dus word die insek se vorm perfek uitgebeeld.

As sy die foto van bo af geneem het met die roosblare as agtergrond, sou die gogga nie so duidelik gewees het nie... Kamoefleer is immers hulle stokperdjie!

Indien jy nie duisende rand op spesialistoerusting kan uitgee nie, is ’n kompakte kamera soos Linda se Canon PowerShot baiekeer die beste vir makrofotografie.

Eksperimenteer met die makro-modus en probeer om so na as moontlik aan jou voorwerp kom sonder om hom te laat skrik. Die resultate is dikwels verstommend!


Helena Harmse

Nikon D500; 18-250 mm-lens

HELENA SKRYF:

Ek het dié foto geneem net buite Swakopmund by ’n plek genaamd Vierkantklip. Ek het ’n paar foto’s geneem terwyl die son sak, en eers later toe ek na die foto’s kyk, die voëls gesien. Ek was op die regte tyd op die regte plek.

Dis tyd om in te skryf vir Weg se aanlynkursus, want ek wil meer leer oor fotografie.

SHELLEY SÊ:

Net soos ’n G&T ná ’n dag op die langpad stel ’n mooi sonsondergangfoto selde teleur.

Helena se komposisie is perfek (al het sy dit eers later besef): Die horison een derde van onder af laat genoeg ruimte vir die rooi lug en vir die son om in die water weg te sink. Die branders verskaf ’n kontrasterende tekstuur, en die voëls is die kersies op die koek!

Skryf gerus in by neembeterfotos.weg.co.za – jy gaan hope leer!


Hein Mouton

Nikon D3400; Nikon 100-300 mm-lens

HEIN SKRYF:

Ná ’n besoek aan die Krugerwildtuin in 2018 het ek in fotografie begin belang stel. Ek het net voor die vakansie ’n Nikon D3400 met ’n 100-300 mm-lens gekoop en nog nie al die knoppies verstaan nie. Vir eers het ek alles in outofokus afgeneem.

Ons het in Marlothpark gebly en op daguitstappies na die wildtuin gegaan. Op ons laaste dag het ons ’n trop rooibokke naby die Krokodilbrughek teëgekom. Ek het die Guide-verstelling op die kamera gebruik, en toe een van die bokke stilstaan en direk na my kyk, was ek gereed om die knoppie te druk.

My verstellings was: sluiterspoed 1/320ste van ’n sekonde, lensopening f5,3 en ISO 200.

SHELLEY SÊ:

Die Guide-modus op nuwer Nikon-kameras is uitstekend as jy nog jou kamera leer ken. Dis soos ’n gids wat jou lei.

Daar is twee opsies as jy foto’s neem in hierdie modus: Easy of Advanced. Kies die eerste een en jy kan speel tussen Auto, Moving Subject, Portrait of Night.

Advanced laat jou kies tussen verskeie maniere om die agtergrond te versag, beweging te vries of om bewegende water te wys. Die kamera verduidelik hoe om die verlangde effek vas te lê.

Ek raai dat Hein die portret-opsie gebruik het met ’n groot lens-opening van f5,3. Sodoende het hy die agtergrond uit fokus gegooi en die bok laat pronk.


Len Loader

Leica V-Lux (Typ 114); 24-400 mm-lens

LEN SKRYF:

Ek het in Desember 2018 die wolke bo Tafelberg afgeneem uit Lovers’ Lane in Plattekloof, Kaapstad. Ek was besig om my driepoot weg te pak toe ek ’n vliegtuig agter my hoor wat by die Kaapstadse internasionale lughawe moet land. Ek het die toneel deur my beeldsoeker dopgehou, gewag totdat die vliegtuig in die raam beweeg en toe die knoppie gedruk.

Daar was brande in die omgewing wat die oranje gloed in die lug veroorsaak het. Ek het ná die tyd die kleurversadiging van die foto verhoog om dit te beklemtoon. Andersins het ek niks verstel nie.

SHELLEY SÊ:

Die foto is byna abstrak: Die vliegtuig wat na die onheilspellende wolk mik en die oranje lugruim – dis beeldskoon.

As jy kan raai in watter rigting jou voorwerp gaan beweeg, kan dit lei tot ’n asemrowende foto lei. Ek het al baiekeer ’n foto voor my geestesoog gesien en gewag todat my voorwerp stap, hardloop of ’n bal in die raam in skop. Ja, dit verg hope geduld, maar dis die wag werd. Len het geweet in watter rigting die vliegtuig beweeg... en sy kans afgewag.

Beplanning sal nie altyd vrugte afwerp nie, maar probeer ten minste. En eerder met jou kat tuis as met die Kruger se leeus! 


Hugo Haumann

Nikon D500; Nikon 80-400 mm-lens

HUGO SKRYF:

Ek en my vrou, Elmarie, het in Julie saam met Bhejane 4x4 Adventures deur Botswana getoer. Ek wou nog altyd ’n visarend afneem wat sy prooi vang. Een middag was ons op ’n riviervaart op die Kavango (die Okavango in Namibië) toe ons ’n visarend op ’n tak sien sit. Beangs het ek die situasie dopgehou, want ek het geweet dis my enigste kans.

My kamera se verstellings was: sluiterspoed 1/2 000ste van ’n sekonde, lensopening f6,3 en ISO 320. Ek het ook Continuous Focus Mode, Group-area AF-modus en die kolmeter ingespan. Ek was opgewonde om die resultaat te sien!

SHELLEY SÊ:

Hugo het ’n paar fantastiese foto’s gestuur en dit was moeilik om net een te kies!

Die foto het heelwat tegniese vaardighede vereis, veral omdat hy op ’n boot was. Die vlerke van die visarend is heeltemal uitgestrek, sy kloue in die water... alles perfek gevries vanweë die vinnige sluiterspoed en fokusverstellings. Ek weet nie of Hugo die foto kleiner gemaak het nie, maar ek sou meer van die voël se weerkaatsing wou sien.

Daai gevoel van opwinding wanneer jy die sluiterknoppie druk, is verslawend. En Hugo het beslis “die skoot” geneem.


Stefan Kruger

IG: @stefan_kruger_photo Nikon D5100 Tamron 70-200 mm-lens

STEFAN SKRYF:

Ek is van Witrivier in Mpumalanga en werk as ’n safarigids in en om die Krugerwildtuin. Dié foto het ek geneem in die Timbavati- private natuurreservaat naby Hoedspruit.

Een van ons spoorsnyers het op ’n aandwildrit dié verkleurmannetjie gesien. Ons het uit die voertuig geklim om dinge van nader te bekyk (’n mens mag dit doen in dié reservaat). Ek het van die gaste gehelp om foto’s te neem, en ook self ’n paar geneem. Ek kan ongelukkig nie my verstellings onthou nie.

SHELLEY SÊ:

Gelukkig word kameraverstellings in die beeldlegger geberg. Stefan se ISO was 1 250, met ’n sluiterspoed van 1/640ste van ’n sekonde en ’n lensopening van f2,8. Hy het ook sy kolmeter (spot metering) ingespan – dis wanneer die kamera net die lig meet op ’n klein kol in die raam, tipies in die middel. Dis akkuraat en word nie beïnvloed deur die lig in ander dele van die raam nie, wat uitstekend is vir wanneer jy ’n voorwerp het wat deur iets soos ’n flits- of kollig belig word.

Ek hou veral van die verkleurmannetjie se skubbe wat duidelik teen die swart agtergrond uitstaan. Kyk hoe hulle ál kleiner word van sy nek tot by sy stert.

Dis fantastiese detail!


Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Wen
Wen met jou foto!

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za