Foto: Leon Combrinck
Foto: Leon Combrinck

Leon Combrinck

Sony CyberShot RX100

LEON VERTEL:

Ons was in Rehoboth, Namibië, op vriende se jagplaas toe ons op dié karkas van ’n rooihartbees afkom. Presies hoe hy aan sy einde gekom het, is onseker – dalk het ’n roofdier hom gejaag en wou hy deur die boom spring en toe haak sy agterpote vas?

TOAST SÊ:

Die natuur kan wreed wees. Ten minste uit ons menslike perspektief. Leon se foto is ongewoon op meer as een manier. Dis nie wat almal ’n “mooi” foto sou noem nie – maar dat dit treffend is, sal niemand mee kan stry nie.

Ons is geneig om net die “mooi” tonele af te neem. Ons wag vir die lig om mooi te wees, vir ’n mooi wolk of – beste van als – ’n reënboog wat oor dit alles kom hang. Leon se toneel is so helder jy’t amper ’n donkerbril nodig. Hy het ook die res van die landskap oorbelig om die karkas, wat deels in die karige skaduwee is korrek te belig. Die foto sal ook baie goed lyk as ’n swart-wit foto.

Ons wil gewoonlik die koedoe met die grootste horings afneem, of die kleinste baba-olifantjie met die oulikste gesiggie. Maar die natuur speel met die volle spektrum van ons emosies. Daar is swaarkry, droogte en die dood. En soms ook hulpkrete, bloed en geraamtes. Enigeen wat al ooit gesien het hoe leeus ’n buffel plattrek en dan verorber sal weet: Jy wil wegkyk, maar jy kyk tog.

Vir enige natuurliefhebber is hierdie egter een van die redes hoekom jy gereeld in die veld probeer kom, want die natuur het die vermoë om jou eerliker te maak – om dinge in perspektief te kan sien.

Dankie vir hierdie foto, Leon.


Eon Grobler

Wenfoto: Eon Grobler

Canon EOS 1200D; Canon 18-55 mm-lens

EON SKRYF:

Ek is 13 jaar oud en het hierdie foto geneem op die plaas net buite Stellenbosch waar ons woon. Dis ’n gevlekte ooruil wat omtrent elke aand vlugtig sy vangs (meestal muise soos hierdie Krebs se vetmuis, Steatomys krebsii) kom wys. Hy het al reënspinnekoppe, rotte, paddas, molle, skeerbekmuise, sprinkane, gewone slakvreter- en olyfhuis-slangetjies kom wys. Hy woon op die plaas en ons hoor hom dikwels. Hy is nogal mak – ’n mens kan hom streel (hy is baie sag) en hy hou daarvan om op jou kop te kom sit!

Ek jaag omtrent elke aand om my kamera gereed en die verstellings perfek te kry. Vir hierdie foto was dit soos volg: lensopening f14, sluiterspoed 1/200ste van ’n sekonde en ISO 100, en ek het die ingeboude flits gebruik. Ek kry gewoonlik net een kans voordat hy wegvlieg.

Hierdie is my beste foto nóg van hom. Ek is mal daaroor!    

TOAST SÊ:

Toast sê niks! Ek is stomgeslaan! Hierdie is die soort voëlfoto waarvoor beroepsnatuurfotograwe hulle gewoonlik met uilmis moet besmeer en sewe maande lank in ’n lusernbaal wegkruip met die hoop dat ’n uil – dálk – op presies die regte plek kom land sodat een van vier flitse mét ’n tikkie geluk die uil reg belig – en dan praat ons nie eens van die muis in die snawel van die uil nie!

Nee, wraggies, dié foto skop alie! En dat dit deur ’n 13-jarige laaitie geneem is – dit gaan ’n paar érnstige natuurfotograwe jaloers maak.

Dit help natuurlik dat die uil ’n vertonerige vent is en kom spog met wat hy vang – dis besonderse gedrag. Hy voel duidelik glad nie bedreig in hierdie omgewing nie. Hy’s selfs so effens wintie.

Dis natuurlik nie net ’n pure gelukskoot nie, want Eon moes twee – baie moeilike – dinge regkry hier. Saans kan outofokus selfs die perfekste oomblik goed befoeter as dit nie vatplek kry nie. Eon se fokus is egter 100% skerp. Dan is daar die kamera se ingeboude flits. Die meeste kameras s’n is nie altyd die beste nie, tensy jou voorwerp lekker na aan die lens is.

En wraggies, as hierdie uil enigsins nader aan Eon gesit het, dan sou daai druppeltjie bloed aan sy lens afgesmeer het...

Dus is die uil ook eweredig belig. Gepraat van die druppeltjie bloed – dis dalk effe grusaam, maar sjoe, dit maak die foto ekstra-spesiaal.

Ook die kontras tussen die vaal, lewelose ogie van die stomme vetmuis en die lewendige vlamgeel oë van die uil is besonders.

Geluk, Eon, jy wen vandeesmaand die Weg-kamerasak! 


Ronelle van Loggerenberg

Ronelle van Loggerenberg

Canon PowerShot SX60 HS

RONELLE SKRYF:

Ek het hierdie meesternesbouer afgeneem in die Helderberg-natuurreservaat buite Somerset-Wes. Ek wens die riet wat voor sy gesig is, was nie daar nie. Ek is egter nie een vir Photoshop nie – ek glo wat jy afneem, is wat jy sien.

My kamera was gestel op ISO 500, met ’n sluiterspoed van 1/2 000ste van ’n sekonde en lens-opening van f6,5.

TOAST SÊ:

Dis ’n Kaapse wewer hierdie – jy sal weet as jy een in die tuin het, want hulle is ’n rumoerige spul.

Dié wewers is ook van die makliker wewers en vinke om af te neem, juis omdat hulle nie so skugter is soos van die ander spesies nie.

Rondom die nesmaakseisoen sit die mannetjies ’n “show” op om die wyfies te beïndruk.

Daar moet nesgebou en gepierewaai word om die aandag van die vroulike geslag te kry. Dinge verloop egter nie altyd volgens plan nie: Soms pluk die wyfie ’n ganse nes uitmekaar net om dit duidelik te stel wat sy van ’n mannetjie se sogenaamde vermoëns dink.

My standpunt oor die gebruik van Photoshop is dieselfde as Ronelle s’n. Ons praat nie hier van effense verstellings in Photoshop nie – dinge soos ’n bietjie ligter of donkerder maak, of die verstelling aan kleure om die foto helderder te laat vertoon nie. Dié is heeltemal in die haak. Dis egter wanneer jy Photoshop begin gebruik om takkies wat jou pla te “delete” dat dinge problematies kan raak. Waar hou jy op? As jy weer sien, het jy drie takkies uitgevee én sommer nog ’n vink ook bygesit wat eintlik uit ’n ander foto kom. Ek vermoed dis soos staatskaping: Als het dalk met iets onskuldigs begin soos ’n krammasjientjie wat van ’n lessenaar af verdwyn het, en toe ons weer sien, word die dam onder die gans uitgeruk en jy koop ’n plaas vol koeie wat jy nie weet hoe om te melk nie. Die riet voor die wewer pla my glad nie. Die oog is sigbaar, en dis wat saak maak. As die oog agter die riet was, sou dit nie so ’n sterk foto gewees het nie, maar dan sou Ronelle ook seker net nog sowat 20 foto’s geneem het en kort voor lank sou sy wél die wewer én sy oog mooi kon afneem.


Dharmendra Nathoo

Dharmendra Nathoo

Sony Xperia XZ; IG: @dnathoo_za

DHARMENDRA SKRYF:

Ek woon in Port Elizabeth, maar vlieg dikwels na ander stede vir werk. Op hierdie weeklikse vlugte gesels ek gereeld met my medepassasiers om te hoor wat hulle gunstelingdoendinge in en om die Baai is.

Party sal dadelik die strande noem, of van die skeepswrakke, en beslis die pikkewyne. Vir my is PE ’n fantastiese plek vir ’n gesin. Dit voel soos ’n kleiner dorp waar als naby is. Ek hou daarvan om my vensterruit af te draai of op ’n fiets te klim om die vars seebries en die reuk van fynbos in te adem.

Hierdie foto is langs die Seaview-pad geneem – dié roete is op my lysie van 10 beste doendinge.

Wat is nog op die lys?

Definitief die Sacramento-staproete by Schoenmakerskop, die Sardiniabaai-parkwedloop (5 km, elke Saterdag om 8 vm.), die Lady Slipper-staproete (Uitenhage se kant toe), die Route 67- geskiedkundige staproete (in die stad – jy sien 67 openbare kunswerke ter ere van Nelson Mandela), om strandlangs te stap van Maitlandstrand tot by Blue Horizon-baai, om te ry (per kar of fiets) van Marine Drive na Schoenmakerskop, en die Aloe-staproete (tussen Amsterdamhoek en Blouwaterbaai) en die Kaap Recife-vuurtoringstaproete.

TOAST SÊ:

Dankie, Dharmendra! Nou het ons ’n local se lysie doendinge vir wanneer ons weer ’n artikel oor Port Elizabeth skryf.

Ek stem saam met jou: Die beste ding van die Baai is hoe na jy aan die natuur is – jy’s nooit verder as ’n halfuur van ’n strand af nie.

Hierdie foto vier hierdie aspek van die lewe in PE. Kyk net hoe geniet al die mense die strand. Hoewel die lig grys en vaal is, het dit wel in die verte daardie mooi silwer oor die see gegooi.

Netjies! 


Pierre Jordaan

Pierre Jordaan

Canon EOS 5D Mk. III; Canon EF 16-32 mm-lens

PIERRE SKRYF:

Ek het ’n week lank ’n fotografiekongres in Sabie, Mpumalanga, bygewoon en genoeg tyd gehad om al die watervalle en bekende natuurtonele te besoek.

Ek het hierdie foto van die Pinnacle-rots buite Graskop met sonsopkoms geneem. Ek het ’n driepoot en afstandbeheer gebruik. Die wolke was baie mooi en die Pinnacle in die voorgrond is ’n sterk voorwerp om op te fokus.

Ek het vyf foto’s geneem, elk met ’n ander sluiterspoed, en HDR (High Dynamic Range) gebruik om die foto te verwerk. Dit het gesorg dat genoeg detail in die voorgrond sigbaar is, maar terselfdertyd was die sonsopkoms reg belig. My fokusdiepte was f16 en die ISO 200.

TOAST SÊ:

High Dynamic Range (HDR) is nou al ’n geruime tyd met ons – hierdie funksie is gewoonlik sommer reeds aktief op jou selfoon. Ja, jy weet dit dalk nie eens nie, maar dis hoekom jou selfoonfoto’s altyd so mooi uitkom!

Dis belangrik dat jy dit reg gebruik, en Pierre se tegniek daarmee is perfek. Ons almal is bekend met die dilemma rondom die neem van sonsondergangfoto’s (minder is bekend met sonsopkomsfoto’s, maar dis net omdat ons lui is...) wanneer jy die son in jou foto wil hê.

Die son, en die lug rondom die son, is baie helder. Die voorgrond – die landskap – is donkerder. Die kontras tussen die twee dele van jou foto – die son en lug – is te groot. Gewoonlik sou jy dan moet kies: Moet ek belig vir die lug rondom die son, of moet ek belig vir die voorgrond? Kies een, en jy verloor detail in die ander deel.

Dit is hier waar HDR inkom. Pierre het vyf verskillende foto’s geneem en die beligting vir elkeen verander. Sy fokusdiepte het dieselfde gebly (jy wil dit nie verander nie) en sy ISO ook, maar hy het sy sluiterspoed met elke skoot verander – om meer of minder lig deur te laat. Op hierdie manier sou hy vyf uiteenlopende dele (van die ligste tot die donkerste) van dié landskap korrek kon belig.

Kom ons sê dié vyf dele was die son, die lug direk bo die son, die lug regs bo in die hoek van die raam, die Pinnacle, en die donkerste deel van die berg of woud in die voorgrond.

Deur die vyf foto’s met HDR één foto te maak behou hy die beste beligting (en dus kleur) van vyf dele van die raam. Die resultaat? Min of meer die beste sonsopkomsfoto van die Pinnacle wat jy in ’n lang tyd gaan sien! 


Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

WEN MET JOU FOTO!
WEN MET JOU FOTO!

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za