Wenfoto: Geraldo Allais
Wenfoto: Geraldo Allais

Geraldo Allais

Canon EOS 77D; Canon EF 100-400 mm-lens

GERALDO SKRYF:

Ons was in September 2019 in die Kgalagadi-oorgrenspark naby die Craig Lockhart-watergat. Dié leeuwyfie het na ’n kameelperd gestaar en hom skielik begin jaag!

Die jaagtog was net so vinnig verby as wat dit begin het – die leeuwyfie het baie gou die handdoek ingegooi. Dis toe dat ons ’n maanhaar sien nader kom. Die twee leeus het rondgehang terwyl die kameelperd wegbeweeg het.

TOAST SÊ:

Ek weet hoe dit voel om ’n dag in die Kgalagadi rond te ry met die hoop om die legendariese leeus te sien. Maar op sommige dae moet ’n mens tevrede wees met ’n elegante gemsbok, ’n vlugvoetige springbok of ’n paar grondeekhorings wat senuagtig ronddartel.

Hierdie is egter fantasties! Dis iets wat elkeen van ons wil sien, wat nog te sê afneem. Ja, Geraldo was op die regte plek op die regte tyd, maar hy moes steeds die skoot neem. (Hy het ’n paar geneem; ’n ander een wys die oomblik net voor die aanval.)

Geraldo se sluiterspoed van 1/400ste van ’n sekonde was vinnig genoeg om die aksie vas te vang. Die komposisie is goed – in dié aksiebelaaide omstandighede dink jy nie aan die reël van derdes nie; jy wil net die voorwerpe in die raam hê.

Hier is ’n delikate oggendwoestynlig wat saam met die skadu’s ’n fokusdiepte in die agtergrond skep. As jy gereeld “Mense se lense” lees, sal jy weet ons hou baie van ’n stofwolke onder ’n poot; dus kry Geraldo ekstra punte.

Overgeset synde, Geraldo is vandeesmaand se wenner aangesien ek nog nooit ’n kameelperd sy ore sien plattrek het uit haas nie!


Franco Swart

IG: @francoswart_ ; Huawei Mate 20 Pro

TOAST SÊ:

Franco is van Bloemfontein, maar was op toer deur Botswana toe hy hierdie foto by die bekende Elephant Sands-oornagplek noord van Nata geneem het. Elephant Sands se watergat word heeljaar vol gehou, wat beteken dat olifante van heinde en ver (en selfs die buurland Zimbabwe) hierheen stap om te kom water drink. Jou kanse om ’n olifant hier te sien is dus baie goed.

Die wonderlike ding is dat Franco hierdie foto sommer met sy foon geneem het. Die slimfone van vandag is wraggies klein wonderwerke. Dis rekenaar, kamera en telefoon in een, om nie te praat van al die apps wat jy kan laai wat jou vakansie soveel makliker (kaarte, of apps wat oornagplekke aandui) en meer interessant kan maak nie. Jy hoef nie eens meer ’n boks vol gidsboeke saam te ry nie – laai net die voël-, boom- en slanggids se apps en siedaar, jy’t David Attenborough se kennis in jou broeksak!

Die kombinasie van natuurlike lig (die sonsondergangkleure) en die wit gloed van die kollig wat by die watergat gemonteer is, laat dit amper lyk asof die olifant soos ’n model in ’n ateljee poseer.

Dis ook mooi skerp vir ’n selfoonfoto wat in swak lig geneem is. Die beste raad bly maar om jou kamera – jou foon – so stil as moontlik te probeer hou. Leun met jou elmboog op ’n reling vir ekstra stabiliteit.

Daarsy, kiek hom. 


Annerie Griesel

Samsung Galaxy 10

TOAST SÊ:

Annerie het hierdie landskapfoto in die Helderberg-natuurreservaat buite Somerset-Wes geneem. Hoewel Annerie net 12 jaar oud is, het sy duidelik ’n oog vir ’n goeie foto.

Wat beteken dit as ons sê iemand het ’n goeie “oog”? Sommer net dat jy so half van nature weet wat ’n mooi foto sal maak. Dis tipies daai persoon in die kar wat heeltyd sê: “Stop, stop, stop – ek wil ’n foto neem!” As jy ’n goeie oog het, dan “sien” jy foto’s op plekke waar ander dit nie raaksien nie.

Annerie se komposisie is sterk danksy die lyne wat jou aandag na die verskillende dele van die foto lei. Volg byvoorbeeld die lyn wat die wateroppervlak maak na regs en jy bereik die klossie droë riete daar. Of volg die groot berg na regs en jy begin in die verte nog berge sien waarop ’n helder streep lig val.

Gepraat van lig – dis toevallig, maar kyk hoe die linkerhelfte van die foto veel valer is as die regterkant. En dis bloot omdat daar meer sonlig val op dele van die regterkant.

Goeie werk, Annerie. Ons sien uit na jou volgende pogings!


Dewald van der Walt
Dewald van der Walt

Dewald van der Walt 

Canon EOS M50; Sigma 18-200 mm-lens

DEWALD SKRYF:

Hierdie rooiborsjakkalsvoël het ons langs ’n grondpad teëgekom, net verby Keimond se gholfbaan. Hy’t op die paal geland net toe ons verbyry en toe stop ons dadelik. Hy het rondgekyk, seker op soek na prooi.

Kort daarna het ’n paar fietsryers verbygekom wat hom laat skrik en wegvlieg het.

TOAST SÊ:

Ek het nogal tyd vir ’n rooiborsjakkalsvoël. Hulle is vir Suid-Afrika se roofvoëls wat koedoes vir ons boksoorte is.

’n Koedoe kuier agter elke derde bos in Suid-Afrika, maar dis ook een van ons mooiste, sierlikste bokke. Die rooiborsjakkalsvoël is ook so: So algemeen soos sesse in ’n IPL-wedstryd, en nét so aantreklik om na te kyk.

Dis nie aldag dat ’n mens een van naby kan afneem nie. Dié voëls het die senutergende manier om gewoonlik dadelik van paal te verwissel sodra jy jou kar tot stilstand bring; gewoonlik net sowat vyf telefoonpale verder, maar ver genoeg dat jy weer in jou kar moet klim om nader te ry.

Die oulike ding van Dewald se foto is dat die jakkalsvoël op ’n kort heiningpaal sit; daarom kon hy hom op ooghoogte afneem.

Netjies.


Carl Fourie

Canon EOS 5D Mk. lll; Sigma 300 mm-lens

CARL SKRYF:

Ek en my vrou, Christine, woon in Kaapstad, maar gaan minstens twee keer per jaar bos toe. Dié foto is geneem by die Phinda Forest Lodge in die noorde van KwaZulu-Natal.

’n Bosloerie is op elke voëlkyker se wenslys en ek is seker baie min mense het al die mannetjie en die wyfie op een dag gesien én goeie foto’s van elkeen geneem.

Die kontrasterende rooi en groen is baie mooi. Die mannetjie het groen nekvere en die wyfie bruin nekvere. Voeg daarby die swart-en-wit vlerke en die twee geel kolle op die kop – geen wonder mense reis ver om een te sien nie.

Ek is baie bly ek kon hulle sien.

TOAST SÊ:

Jy was voorwaar gelukkig, Carl. Die enigste keer toe ek een van hierdie voëls sien – en ek weet nie eens of dit ’n mannetjie of wyfie was nie – was doer ver in ’n boomtop. Dit was eerder die roep wat my aandag op die voël gevestig het.

Ernstige voëlkykers raak opgewonde oor die kleinste KBV (klein bruin voëltjie), maar kleurryke nommers soos die bosloerie en natuurlik die kroonjuweel – ’n Angolapitta – maak enige voëlentoesias effe duiseling.

Hierdie twee foto’s is baie na aan “besliste” beelde van dié voël, soos ’n voëlpêl van my dit noem. ’n Besliste beeld toon die hele voël met sy kenmerkende eienskappe, sy postuur – die goed wat maak dat ’n voëlkyker hom sal kan uitken. Die soort foto wat in ’n voëlboek gedruk sal word.

Dis puik foto’s. Hier is oogkontak en die lig laat die kleure straal. Onthou, in ligtoestande soos dié is die maklikste manier om jou ligverstelling reg te kry om jou ISO tot byvoorbeeld 800 te verhoog. Dit laat jou toe om met ’n vinniger sluiterspoed te skiet wat bewegings-blur sal uitskakel.

Carl, jy mag maar tot die jaar 2022 spog! 


Marietjie van Heerden

Canon EOS 7D Mk. II; Tamron 150-600 mm-lens

MARIETJIE SKRYF:

As amateur was dit nog altyd my doelwit om ’n skerp foto van ’n leeu of luiperd in die Kruger te neem. Van my fotografiementors het skertsend opgemerk dat ’n mens só ’n foto moet verdien. Daarmee het ek verstaan dat ek gereeld die park moet besoek én geduldig moet wees. Hulle het my aangeraai om te probeer om ’n oomblik – ’n moment – vas te vang.

Op besoek het ek gehoor dat daar by die Sabledam (naby die Phalaborwahek) ’n trop leeus met welpies lê. Ek het soontoe gery met die hoop dat ek hulle darem sal sien en dalk ook ’n foto sal kan neem. Daar is altyd so baie motors rondom die leeus!

Ek was gelukkig en kon my kar in ’n goeie posisie kry en het vinnig my kamera verstel. Ek was amper drie uur lank op die toneel. Hierdie is dalk nie die skerpste foto nie, maar dit was beslis ’n moment! Ek is nou ’n trotse beginner...

TOAST SÊ:

Jy mág maar spog met hierdie een, Marietjie! Dis glad nie maklik om ’n leeufoto te neem wat bo die res uitstaan nie.

Daar is soveel wat teen jou tel: Leeus is nie so volop soos rooibokke nie (nog een...), leeus lê gewoonlik plat in die lang gras wanneer jy daar aankom (sug), én leeus word gewoonlik só omring deur voertuie (skuif!) jy’s gelukkig as jy een se hakskeen so tussen als deur sien.

Die drie uur wat Marietjie afgestaan het, het vrugte afgewerp. Vir ’n uitstaanfoto wil jy aksie hê, of oogkontak, of iets ouliks. Marietjie het iets ouliks én aksie. Die ma wat die welpie lek, is mooi en dis veral die ma se voorpote wat die welpie soos ’n mensbaba omarm wat besonders is.

Knap gedaan.


Vikki en John Billington

Canon EOS 1D Mk. IV; Canon 300 mm-lens

VIKKI EN JOHN SKRYF:

Ons is van die Verenigde Koninkryk en het in Junie 2019 die Krugerwildtuin besoek. Dit was ’n fantastiese vakansie!

Ons het die eerste leeuvangs naby die Duke-watergat gesien (tussen Onder-Sabie en Krokodilbrug). ’n Leeutrop het ’n buffel platgetrek toe ’n rooijakkals sy verskyning maak. Die jakkals was dapper: Pleks van wag totdat die trop dikgevreet is en dalk in die skadu gaan lê, het hy gewag vir iets te ase ten spyte van die leeus.

TOAST SÊ:

Ek hou daarvan dat Vikki en John hierdie foto gestuur het eerder as die verwagte foto van leeus wat vreet. Foto’s moet ’n storie vertel eerder as net iets moois of imposants wys. ’n Jakkals by ’n leeuvangs kan misken word as ’n voorwerp om af te neem.

Tog het die foto ’n storie te vertel... Kyk hoe gespanne die jakkals se lyf is, slaggereed om te reageer. Met die leeus in die agtergrond kry die kyker onmiddellik die groter prentjie.

Ek hou van die vlak fokusdiepte en die skerp detail van die klippe in die pad, en die subtiele kleurvariasie van die jakkals se huid.

Met dié foto gaan niks van hierdie besonderhede verlore nie.


  • Volg Weg op Instagram @MENSESELENSE – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrifgo! is @GOMAGSA
  • Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed? Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewildeaanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

STUUR JOU BESTE REISEN NATUURFOTO’S VIR ONS!

HOEKOM? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

WAT? Ons hou van omtrent énigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

HOE? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za 

Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra.

Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

DIE FYNSKRIF: Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Wen met jou foto!
Wen met jou foto!