Hier’s júlle blaaie, met fotowenke!

WENFOTO: Willem van Schalkwyk

Canon EOS 7D Mk. II Canon 100-400 mm-lens

WILLEM VERTEL:

Ek het hierdie foto in Julie 2019 vroeg een oggend naby Mata-Mata in die Kgalagadi-oorgrenspark geneem. Die son het pas opgekom en daar was baie stof van karre wat – soos ons – vroeg by die hek uit is. Die ander karre het egter almal by hierdie toneel verbygery (seker leeus gaan soek!).

Dit tref my hoe die kameelperde verdwerg word deur die kameeldoringboom. Omdat ek die lang lens gebruik het, kon ek nie eens die hele boom inkry nie. Wat ook opvallend is, is die sagte effek wat geskep word deur die lae invalshoek van die son deur die stof.

My verstellings was: lensopening f4.5, sluiterspoed 1/1250ste van ’n sekonde, en ISO 160.

TOAST SÊ:

Willem weet klaar wat in sy foto werk – ek kan maar net sy woorde beaam!

Ek dink ek weet presies waar Willem dié foto geneem het, want ek het ook al in die laatmiddag (wanneer jy dieselfde kombinasie van stof en die lae hoek van die son kry) daar gestop om foto’s te neem – dis waar die pad deur die Auobrivier loop.

Ja, dis lekker om leeus te sien en af te neem, maar maak gebruik van die dag se beste lig (vroegoggend en laatmiddag). Met goue lig maak dit amper nie saak wat jy afneem nie – die toneel sál mooi lyk!

Gooi so ’n bietjie stof by en jy wen dalk net ’n lekker kamerasak van Weg, soos Willem!


Louise Victor

IG: @louise.victorphotography Canon EOS 5D Mk. IV Canon 100-400 mm-lens

TOAST SÊ:

Dis verbasend moeilik om goeie foto’s van die Namib se woestynperde te kry.

Dikwels is jy daar op die regte tyd van die dag (vroeg of laat), maar sien g’n perd vir ’n dagreis in enige rigting nie. En wanneer jy wél daar verbyry en die perde sien, is dit dalk in die middel van die dag en die lig te skel.

Die perde kan ook te ver van die pad af wees, en dan lyk dit ook nie goed op jou foto nie. Louise kon laterig in die middag (dit was net ná vier) redelik na aan dié twee kom, en daarom was die lig reeds aan die sagte kant.

Wat die foto spesiaal maak, is die interaksie tussen die merrie en die vulletjie. Dis moeilik om emosie in dierefoto’s te wys. Die manier waarop die merrie haar neus liefderik teen die kleintjie druk, skep die indruk dat sy omgee vir haar vulletjie en sê ook iets van dié perde se stryd om oorlewing in ’n ongenaakbare landskap.

Hoe langer jy by diere vertoef, hoe groter jou kans om sulke oomblikke vas te vang – jy moet net geduldig wees, én gereed sit! 


Nic Samwell

Canon EOS 77D Canon 18-135 mm-lens

NIC SKRYF:

Ek kom van Kriel in Mpumalanga. Hierdie foto is in Julie 2018 geneem toe ons in die wintervakansie by my swaer in Oudtshoorn gekuier het.

Toe ons een oggend sien dat die Swartberg spierwit lê van die sneeu, het die hele gesin in die kar gespring en ons is reguit Swartbergpas toe. Op die berg was dit omtrent spitstyd – mense het van so ver as Mosselbaai gery om na die sneeu te kom kyk.

My verstellings: lensopening f14, sluiterspoed van 1/80ste van ’n sekonde en ISO 100.

TOAST SÊ:

Skielik kom die winter weer nader, en daarmee saam die kans op sneeufoto’s. Doen die moeite wanneer dit sneeu: Klim in die kar en ry!

Nic se mooi foto volg die reël van derdes, met die voertuig wat een derde van regs (en een derde van onder) in die raam verskyn. Ek hou baie van die pad wat blink van die nattigheid, en dan ook die kurwe wat die pas maak – dit lei jou oog dieper die foto in. Die paar blertse sonlig is belangrik, want anders sou die toneel selfs “kouer” gelyk het.

Nic se sluiterspoed van 1/80ste van ’n sekonde is effens stadig. Jy loop die gevaar dat – veral met die koue wat jou die ritteltits kan gee – die kamera skud of beweeg terwyl jy die knoppie druk, en die foto kan dan dalk effens uit fokus wees.

Die oplossing? Verhoog jou ISO tot 400 of 800 – dit sal jou toelaat om ’n vinnige sluiterspoed soos 1/125ste of 1/250ste van ’n sekonde te gebruik.


Derek Donkin

Panasonic Lumix DMC-FZ200

DEREK SKRYF:

Ek het een Saterdagmiddag ongeveer ’n uur lank in ’n stuk veld naby my huis in Tzaneen gesit. Dit het goed gereën en vlinders, bye en naaldekokers het in die blomme en groenigheid geboer. Daarby het die namiddaglig alles in mooi kleure getooi.

Ek het my kamera op “Intelligent Auto Mode” gestel wat ’n mens in staat stel om die beligting en versadiging aan te pas.

TOAST SÊ:

Dis ’n mooi foto! “Mense se Lense” wys gereeld groot, imposante diere, maar hierdie foto is ’n bewys dat kleiner gediertes ook ’n indrukwekkende foto kan maak.

Die Panasonic Lumix DMC-FZ200 is ’n veeldoelige brugkamera. Dit het ’n ingeboude 24x-zoemlens wat dieselfde is as ’n 25-600 mm-lens op ’n D-SLR-kamera.

Derek moes net effens inzoem om na aan die vlinder te kom. Dis gewoonlik beter om die “voorkant” eerder as die “agterkant” te gebruik.

Die “voorkant” van ’n lens soos hierdie sou byvoorbeeld 25-200 mm wees (Derek se fokusafstand was 100 mm vir hierdie foto). Gewoonlik, veral in ingeboude lense, gee lense ’n skerper beeld op hierdie afstand.

Wanneer ’n mens die “agterkant” van die lens gebruik, byvoorbeeld ’n 400-600 mm-afstand, raak dit moeiliker om skerp foto’s te neem. Met die gebruik van dié fokusafstand moet jy jou kamera stil hou vir duidelike foto’s. Derek se vlinder is duidelik en die sy-aansig maak van die foto ’n puik profielfoto.


Karen Edwards

Canon EOS 60D Sigma 150-500 mm-lens

KAREN SKRYF:

Ek is ’n toegewyde intekenaar en my gesin moedig my heeltyd aan om my foto’s van die Krugerwildtuin te stuur. Hoewel ek nog my kamera leer ken, is ek passievol oor natuurfoto’s en hoop om eendag die kuns van ’n fantastiese natuurfoto te bemeester.

Ek dink hierdie is een van my goeie foto’s. Dis in Oktober 2019 geneem op die H-10-pad net buite Onder-Sabie en die Sunsetdam. Hierdie twee mooi maanhare het padlangs gestap en die gebied met hulle reuk gemerk.

Ek is dol op die bokbaardjie van die prominente een – ’n mens wil sommer daaraan vat! My tegniek kan nog verbeter, maar ek dink hierdie is ’n mooi “Kruger-oomblik” en ek het die foto op seil laat druk vir my en my man se 39ste huweliksherdenking op 14 Februarie 2020.

TOAST SÊ:

Dis ’n spesiale manier om julle huweliksdag te gedenk.

Hierdie is ’n klassieke Kruger-toneel. Leeus is baie besoekers aan die Kruger se eerste prys, maar nie almal is gelukkig genoeg om hulle van so naby te sien nie. En dis boonop nog moeiliker om so ’n foto te neem!

Die leeus was na aan haar voertuig, dus het hulle Karen se lens volgemaak. Dit lyk asof dié twee ’n ruk lank oorsee was en nou die Afrika-grond uit dankbaarheid soen. Suid-Afrika is bevoorreg om die Kruger te hê. Volgende keer kan jy die grond soen, Karen, maar moet liefs nie aan die leeus vat nie. 


Nico Henning

Pentax K200D Sigma 50-500 mm-lens

NICO SKRYF:

Ek het hierdie rooijakkals in die Bergkwagga- nasionale park buite Cradock afgeneem. Dit was ’n bewolkte dag en die lig was redelik “plat” en “uitgewas” en dus was die kleur in die foto nie besonders nie.

Toe ek egter eksperimenteer en dit in náproduksie swart-wit maak, het dit myns insiens ’n dromerige eienskap gekry.

TOAST SÊ:

Nico, jy gaan nie sommer ’n Oos-Kaapse skaapboer oortuig dat jy ’n “dromerige” foto van ’n jakkals geneem het nie, maar dit daargelaat!

In Engels praat fotograwe dikwels van “flat” ligtoestande. Dis soos Nico hier noem veral op bewolkte dae die geval. Sonder direkte sonlig is daar nie duidelike skaduwees nie, en die mooi kleur van ’n jakkals se vel sal ook nie so goed vertoon nie. Die toneel lyk dus “vaal” of “uitgewas” (amper soos daai paar rooi sokkies van jou wat uit 2005 dateer en nou al amper wit gewas is) en het geen ooglopende visuele impak nie. Die kontras tussen lig en donker – tussen waar die lig val en waar die skaduwees lê – kan jou foto skop gee.

Speel gerus op jou rekenaar om te kyk hoe jy jou foto weer oemf kan gee. Swart-wit is dikwels die antwoord. Nico het dalk te veel rondgespeel – die gras hier voor die jakkals is nou effens “blown out” of “uitgebrand,” met ander woorde oorbelig omdat hy dalk die kontras te hoog gestel het.

Tog het die foto nou houding gekry met die gras wat soos vlamme om die jakkals brand, en dié staan uit met sy spits neus en ore. Netjies.


Isabella Hugo

Nikon D750 Nikon 70-300 mm-lens

ISABELLA SE MA, ANNELINE, SKRYF:

Ek het my kamera vir my dogter (8 jaar oud) gegee om haar besig te hou terwyl ons in die Jejane-privaatnatuurreservaat buite Hoedspruit rondgery het. Skielik doen die geleentheid hom voor om dié eekhoring af te neem.

Ek moes myself inhou om nie die kamera by Isabella te gryp en self die foto te neem nie! Die outjie het so mooi vir ons ge-“pose”. Ek moet bieg dat ek nie ’n beter job sou kon doen nie...

Ons is mal oor die “backlighting” wat selfs die outjie se stertjie duidelik wys. Ook die “bokeh”-effek in die agtergrond.

TOAST SÊ:

Dit smaak my Isabella moet meer met die kamera “speel,” of hoe? Dis ’n oulike foto van een van die bosveld se onbesonge bewoners, die boomeekhoring. Tog is hulle belangrike diere om dop te hou wanneer jy wild soek – hulle wekroep kan dikwels beteken dat daar iets soos ’n slang of roofdier in die omtrek is.

Wat bedoel Anneline met “backlighting”? Wanneer die son van agter op jou voorwerp val, kry jy dié effek: Dit kan die hare op ’n dier se buitelyn soos ’n goue ligsoom laat vertoon. Hier beklemtoon dit die lang hare op die stert. Nou sien ons, amper soos met ’n X-straal, die dun vleis-en-beendeel van die stert deur die hare.

En wat van “bokeh”? Hierdie Japannese woord verwys na die uitfokus deel van die foto, en hoe veral die ligkolle daar verwring word tot ronderige blertse deur die lens. Soms lyk bokeh mooi en soms nie, en dit wissel ook afhangend van watter soort lens jy gebruik.

Dis altyd meer sigbaar op foto’s met ’n vlak fokusdiepte soos hierdie.


Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

HOEKOM? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

WAT? Ons hou van omtrent énigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

HOE? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

DIE FYNSKRIF: Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Volg Weg op Instagram @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed? Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Wen met jou foto!
Wen met jou foto!