Elmar Venter

Canon EOS 1Dx; Canon 500 mm-lens met ’n 1.4x-omsetter

ELMAR SKRYF:

Ek het hierdie foto van ’n onvolwasse baardaasvoël  by Giant’s Castle se aasvoëlskuiling geneem. Ek het vier dae agtereenvolgend die skuiling besoek en gehoop dat een van dié besonderse voëls my met ’n landing sou bederf.

Op die laaste oggend het alles in plek geval. Ek hou veral van die simmetriese postuur van die voël op die foto.

TOAST SÊ:

Vier dae in ’n ry! Dís nou toewyding! Soms is daar geen ander manier nie. Jy weet presies watter foto jy soek. Jy is reeds op die regte plek. Nou moet jy geduldig wees, en wag...

Die baardaasvoël is nie sommer enige aasvoëlspesie nie – dis verreweg ons mees bedreigde aasvoël. Vir konteks: In 2019 se Wêreldbekerrugbybyeenkoms is in totaal 285 drieë gedruk.

Na raming is daar slegs sowat 320 baardaasvoëls (ook lammergeiers genoem) oor in Suid-Afrika en Lesotho, waar hulle in die pieke van die Drakensberg en Maluti hou.

Dié voël se gespreide vlerke is perfék; ikonies. Dis soos iets wat hoort op ’n landswapen (dalk vir een van die koninkryke in Game of Thrones?). Die lig val van voor, wat belangrik is omdat die voël donker van kleur is. Daar is nou detail sigbaar in alles van die kloue tot die gesig.

Geluk, Elmar, jy wen hierdie maand die Weg-kamerasak!


Diressh Parbhoo

IG: @diressh_parbhoo; Canon EOS 650D; Sigma 150-500 mm-lens

DIRESSH SKRYF:

Dié foto is geneem in die Krugerwildtuin, naby die Biyamiti-keerwal in die suide van die park.

Dié luiperdmannetjie het ’n warm dag in ’n boom verwyl toe hy ’n paar rooibokke die pad sien oorsteek. Ek het dié foto geneem toe hy teen die boom af hol.

My verstellings was: sluiterspoed 1/250ste van ’n sekonde; f5.6 en ISO 100.

TOAST SÊ:

Gereelde besoekers aan die Kruger weet jy kan tien keer agtereenvolgens die wildtuin besoek sonder om een keer ’n luiperd te sien. Dalk is jy die 20ste keer gelukkig om een in ’n boom te sien.

Dan wil jy natuurlik ’n goeie foto neem. En dis nie altyd maklik nie: Die boom is dalk te ver van die pad af, of ’n paar takke is in die pad en die dier beweeg vir twee uur glad nie en jy sit en wag en wag totdat jy die kleinhuisie móét soek... en later hoor jy daar was aksie net toe jy weg is.

Diressh was gelukkig om hierdie foto te kan neem. Nie net het hy ’n luiperd gesien nie, maar nogal een wat teen ’n boomstam af gly soos ’n brandweerman teen sy paal.

Ek hou baie van die syaansig: Dit wys die ikoniese profiel van die luiperd. Die blou agtergrond is skoon en trek nie jou aandag af nie. Die luiperd se kop en voorste poot is só perfek geraam dat dit lyk asof ’n kunstenaar ’n hand in die foto gehad het. Selfs die stert is mooi in die skoot!

Dis kuns in die natuur. 

Dieter Schwarz

IG: @poolcleaner82; Nikon D850; Nikon 14-24 mm-lens

DIETER SKRYF:

Ek het dié foto buite Sutherland geneem. Ek wou baie graag stersleepsels afneem. Eers moes ek die tegniese dinge onder die knie kry voordat ek aan die komposisie kon werk.

Die nag moes donker en wolkloos wees vir my foto. Dus sou die drie uur tussen maansondergang en sonsopkoms die beste wees. Buite die dorp, op pad na die Suid-Afrikaanse Groot Teleskoop, het ek ’n ou plaashuis gesien wat ’n mooi agtergrond vir my foto sou wees.

Daai nag het ek om 2 vm. opgestaan, maar dit was bewolk buite. Teen 3.30 vm. was die hemele oop! By die plaashuis het ek 150 foto’s geneem op “interval shooting.”

Ek het elke 30 sekondes belig en die lens was op f2.8. Ná die tyd het ek ’n bietjie redigering gedoen in Lightroom en verskeie foto’s bo-oor mekaar geplaas en Photoshop gebruik om dinge ligter te maak en die sterresleepsels te beklemtoon.

Ek hoop julle hou hiervan.

TOAST SÊ:

Ek hou sommer baie hiervan, Dieter! Jy het beslis jou huiswerk gedoen voordat jy jou foto geneem het.

Landskapfoto’s word baiekeer op die ingewing van die oomblik geneem wanneer jy iewers heen ry en iets sien wat jy wil afneem terwyl die lig op sy beste is.

Ander kere is die foto iets wat die fotograaf mooi beplan het... selfs maande vooruit!

Aan die onderkant van die raam is dinge effe knap aangesien die gebou baie na aan die rand van die foto is, maar andersins is Dieter se foto puik. Die sleepsels is asemrowend... dis tyd dat ek ook weer Sutherland toe gaan!

Demi Toontas

Canon EOS 7D Mk. II; Canon 300 mm-lens

TOAST SÊ:

Demi het hierdie foto in die Tuliblok, Botswana, geneem. Ek neem aan hierdie breëkoparend versamel bougoed vir ’n nes. Demi het die voël afgeneem terwyl hy doenig is; gewoonlik word hulle afgeneem waar hulle op ’n telefoonpaal sit of sierlik deur die lug sweef.

Sodra ’n dier iets doen, raak hy summier ’n meer interessante voorwerp om af te neem. Dink maar aan ’n dik krokodil wat lui op ’n sandbank lê teenoor ’n krok wat uit die water bars om ’n rooibok wat water soek onkant te vang. Die aksie hoef ook nie eens so dramaties te wees nie – enige dagtakie is interessant, selfs al soek ’n hadida in jou tuin net na ’n wurmhappie.

Die lig val mooi op die arend se gesig – van voor én van agter – en die kop is goed belig. Daai geel oog gloei soos ’n geel diamant!

Ek hou ook van hoe die vorm van die vlerke deur die vorm van die takke weerspieël word, byna asof die arend saam met ’n stokbeeld van homself vlieg! 

Nick Greville

Samsung A50

TOAST SÊ:

Nick het hierdie kleurryke landskapfoto geneem op die Bergview-privaatlandgoed in die Sentraal-Drakensberg.

Selfoonkameras werk goed vir tonele met baie lig en sonskyn, maar ook vir sekere donkerder omgewings. Slimfone het ingeboude HDR- (High Dynamic Range) sagteware wat outomaties baie ligte en baie donker dele “uitstryk” en ’n goed beligte foto neem.

Ek hou van die vier lae: Eerstens is die blomme en gras op die voorgrond; dan volg die teerpad (’n mens of fietsryer hier sou die foto nog meer laat uitstaan); dan is daar die groen vallei wat oorspoel in die sonbeligte boonste hange van die berg voordat die laaste laag – die blou lug – die raam volmaak.

Dié foto is so vredig dat dit reeds soos vakansie voel as jy 30 sekondes lank daarna kyk.

Jandré Verster

IG: @the_sa_birder; Canon EOS 90D; Sigma 100-400 mm-lens

JANDRÉ VERTEL:

Ek is 15 jaar oud en ’n toegewyde voëlkyker en fotograaf. In Desember 2019 was ek op ’n twitch in die soeke na ’n rooikeelreier by die Gnu Valley Farm naby Lanseria.

Ek was daar van sowat 8 vm. en het die omgewing te voet verken. Ek was gelukkig genoeg om vinnig my teikenvoël op te spoor (no. 407 op my life list) in ’n rietbedding by een van die damme.

Ek is ook lid van BirdLife Northern Gauteng se voëlberingers en kry tans opleiding – ek is geklassifiseer as ’n C-beringer. Ek geniet dit om in die natuur te wees en my passie uit te leef. 

TOAST SÊ:

Dis inspirerend om Jandré se kommentaar te lees. Om op só ’n jong ouderdom al betrokke te wees by voëlberingingsprojekte – en al 407 van ons voëlspesies te gesien het! – wil gedoen wees.

’n Belangstelling in voëls is iets wat jou lewe verryk. Baie mense ken ’n visarend en ’n volstruis, maar als tussenin is sommer net nog ’n voël. Maar sodra jy een vinkspesie van ’n volgende kan onderskei, reik jou oog verder as bloot die oppervlak wanneer jy deur iets soos ’n vleiland beweeg.

Voëlskyk kan ’n stokperdjie bly, of jy kan dit kombineer met fotografie, en een of albei hiervan kan selfs ook jou loopbaan word (of juis nodige afleiding van ’n loopbaan wat dalk ver verwyder is van die natuur).

Jandré se foto tref die kol met die reier wat een derde van regs in die raam staan. Nou ’s daar spasie na links (soos ons daarna kyk) waarin die voël kan beweeg. Die beligting was moeilik met die helder sonlig wat van bo en van ágter die reier blyk te val. Jandré kon steeds daarin slaag om die skadukant van die reier goed genoeg te belig om detail te behou. Goeie werk!


Jy kan volgende maand ’n Weg-kamerasak ter waarde van R520 wen! 

Wen met jou foto
Wen met jou foto

Enige fotograaf wat sy sout werd is, sorg dat sy toerusting beskerm word. Jy kan jou kamera en lense veilig hou in hierdie sak van seil met ’n sagte binnevoering. Een gelukkige Weg-leser kan volgende maand só ’n sak wen.

Hoe? Stuur eenvoudig jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – ons kies die wenner, wat dan in “Mense se lense” gepubliseer word.

Dié produk is beskikbaar by winkel.weg.co.za

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za