Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – dalk bespreek  Toast Coetzer jóú foto! 


Renier le Roux

Nikon D750 Nikon 70-200 mm-lens

RENIER SKRYF:

Ek het hierdie trekduikers in Januarie by die Strand afgeneem. Gewoonlik neem ek net landskapfoto’s; dus was die kameraverstellings vir my vreemd.

Ek het wel geweet ek moet ’n vinnige sluiterspoed gebruik – in dié geval is ’n 2 000ste van ’n sekonde gebruik. Die enigste lensopening wat daarby gewerk het, was f4 (teen ISO 100).

Ek het agterna besef dit sou makliker wees as ek eerder op “Aperture Priority” as “Manual” geskiet het.

Ek weet ook nie of die foto’s skerper sou wees met ’n driepoot nie, want die voëls was die hele tyd aan’t vroetel.

TOAST SÊ:

’n Driepoot sou nie die foto skerper gemaak het nie – die vinnige sluiterspoed is jou vriend hier. Dis ’n ongewone foto, maar dis juis hoekom ek so baie daarvan hou.

Trekduikers is moeilik om af te neem. Hulle is donker van kleur, en daarom is dit moeilik om detail in hulle vere te sien – dis hoekom jy meer gereeld ’n silhoeëtfoto van trekduikers in vlug sal sien.

Renier se foto is op ’n gryserige dag geneem – te vaal, sal party ouens seker mor.

Maar die bewolktheid het gehelp om ’n sekere gemoedstoestand vas te vang. Daardie souterige wêreld waar die trekduikers hou, gedurig aan die beweeg, dikwels laag oor die see in lang slierte soos hulle van een vreetplek na die volgende vlieg. Dis wat Renier se foto vir my wys.

Dis jammer ’n mens kan nie die oë duideliker sien nie (helder sonlig sou hulle dalk effens laat vonkel het), maar die geel keelvel verskaf net-net genoeg kleur om die voëls ’n bietjie karakter te gee (anders lyk hulle darem alte veel na lykbesorgers...).

Ek hou van die spatsels water en dat die raam vól voëls is – van hier voor tot verder agter, en van links na regs. Dit gee jou die persepsie van ’n groot swerm trekduikers, selfs al sien ons net vyf.

Geluk, Renier, jy wen die Weg-kamerasak hierdie maand!

Gareth Pinnock

Canon EOS 80D Tamron; 150-400 mm-lens

GARETH SKRYF:

Ek is van Johannesburg en het dié foto in die Dinokeng-wildreservaat geneem.

Die digte gras aan weerskante van die pad het geen uitkomkans vir die arme volstruisies gebied nie. Ek het hulle vir ’n kilometer of twee gevolg en ’n goeie volgafstand handhaaf, maar Ma en Pa het my goed dopgehou. Ek het maar my zoemlens ingespan.

TOAST SÊ:

Dis oulik! Volstruiskuikens is so onweerstaanbaar soos bobbejaanbabas en klein vlakvarkies. Ag wat, alle dierebabas is oulik!

Gareth kon uit ’n lae hoek skiet en die kuikens kon mooi teen die agtergrond uitstaan. Fokus was natuurlik ’n probleem, maar dit help dat die kuikens die naaste aan die lens in fokus is. ’n Bonus is dat een van die kuikens wat in fokus is, na die kant kyk – soos die een hier voor links... ’n Mens sien dus die kuiken in profiel, en nie net die agterkant van sy kop nie.

Ek hou van die vorms van die kuikens, en hulle skadu’s op die grond. Dit verskaf ’n patroon in die foto wat, as ek reg tel, sewe keer herhaal word.

Goeie werk, Gareth! 

Elardus Senekal

Canon EOS M100; Tamron 70-300 mm-lens

ELARDUS VERTEL:

Ek woon in Lynnwood, Pretoria, teen die Moreletaspruit. Dié oulike muskeljaatkat kom kuier so nou en dan vir ons – sy moet wel versigtig wees vir ons honde!

Sy kom skuil in ’n baie ou, hoë palmboom wat in ons erf staan. Daarvandaan loer sy net vir ons.

TOAST SÊ:

Dit lyk vir my soos ’n grootkolmuskeljaatkat hierdie, maar ek mag verkeerd wees. Dit help as jy die stertpunt kan sien, want die grootkolmuskeljaatkat se stertpunt is gewoonlik swart, en die kleinkolmuskeljaatkat s’n is gewoonlik wit. Nou weet jy – kyk eerste na die stert...

Dis glad nie ongewoon vir ’n muskeljaatkat om ’n voorstedelike tuin deel van sy habitat te maak nie. ’n Palm- of sipresboom is ’n goeie muskeljaatkat-motel.

Elardus het sy kameraflits gebruik – dit kan ons duidelik sien in hoe goed verlig die toneel is, en natuurlik die wit strepie wat in die oog van die muskeljaatkat weerkaats. Sy lens was op 135 mm, en hy het ’n sluiterspoed van 1/60ste van ’n sekonde gebruik, met sy ISO op 800 en lensopening f4.5.

Ek hou daarvan dat ’n deel van die kop van die dier afgeëts is teen die donker nag verder na agter, met die buitelyn van die kop – veral daai oulike ore! – wat baie goed vertoon.

Netjiese werk!

Malcolm Russel

Nikon D7000; Nikon VR 16-85 mm-lens

MALCOLM SKRYF:

Ek het ’n ruk gelede na Antarktika gevaar op ’n 101 jaar oue skip genaamd STS (Sail Training Ship) Europa.

Ek het by Punta Arenas, Chili, aan boord gegaan en ons het wes gevaar deur die Straat Van Magellaan en langs die weskus van Terra Del Fuego. Ons het by Kaap Hoorn aangekom, en is van daar af met die Drake-deurgang na die Antarktiese Skiereiland. Toe het ons teruggedraai en gevaar na Ushuaia in Argentinië, waar my reis tot ’n einde gekom het. Ek het 3 500 foto’s op die vaart geneem.

Hierdie is ’n witoorpikkewyn. Ek het foto’s geneem van stukke ys wat tot interessante formasies gesmelt het, toe ek die pikkewyn langs ’n “yshoender” sien staan.

TOAST SÊ:

Ek hou sommer baie hiervan! ’n Fotograaf is gedurig aan die soek... Na die regte ligging, die regte lig, dalk ’n bietjie aksie, of bloot ’n oomblik wat ’n storie vertel. En hoe meer jy kyk, hoe meer sien jy. Jy ontwikkel ’n visuele geletterdheid en saam met gereeld foto’s neem, ontwikkel elke fotograaf sy styl.

Fotograwe “sien” ook nie noodwendig ’n beeld dieselfde nie. Dink maar aan ’n groep mense wat na wolke kyk: Een persoon sien dalk ’n wolk wat soos ’n kruiwa lyk, maar vir iemand anders lyk dit kompleet soos ’n worshondjie.

Malcolm het die yshoender gesien en met die pikkewyn langsaan kon hy ’n snaakse kiekie neem. Humor kan ’n lekker rol in natuurfoto’s speel. ’n Trop bobbejane kan maklik tot ’n snaakse foto lei, maar nie juis ’n hartbees met ’n lang gesig nie... maar hoe meer jy kyk, hoe meer geleenthede sal jy sien.

Ek hou van die kleurflits van die pikkewyn se oranje snawel en voete, asook die klippies wat ’n anderwêreldse agtergrond skep. Dit lyk soos ’n see van grys borrels. 

Gerhard Thysse

Canon EOS 7D Mk. II Canon; 24-70 mm-lens

TOAST SÊ:

Gerhard het hierdie mooi sonsopkomsfoto naby Onder-Sabie geneem. ’n Goeie landskapfoto moet jou op reis neem. Dit moet jou dadelik aangryp.

Hier wil jy langer kyk na die klassieke vroegdagkleure – die oranje van die son en die lug, maar ook die sagter perse en pienk wat uit die wolke vloei en op die rivier kom lê.

Nou wil jy langer bly, jy wil deur die foto “beweeg”. Kyk hoe lekker vat Gerhard se foto jou oog rond, van die son tot hier voor tussen die riete en weer terug horison toe.

Padlangs laat dit jou lekker diep asemhaal... in, en uit. Dankie, Gerhard, nou voel dit of ons ook daar was. Tyd vir koffie uit die fles?

Hoekom nie?

Susan van Dorp

Fujifilm FinePix S4300

SUSAN VERTEL:

Ek wik en weeg al lank om hierdie foto te stuur en het vanoggend gedink: dis nou of nooit! Ek is ’n amateurfotograaf wat besonder lief is vir diere- en natuurtonele.

In Augustus 2016 was ek en my man vir ons 26ste huweliksherdenking na die Kgalagadi-oorgrenspark. Een middag met die aantog na Auchterlonie het ons ’n klompie motors gesien staan en gewéét dat daar íets moet wees...

Ons was derde in die “ry” en toe dit ons beurt is, sien ons ’n leeuwyfie wat by ’n waterpunt drink! Ek het met my arm op die afgerolde ruit gestut en foto’s begin neem met ’n hengse gezoem. 

Omdat ons nie geweet het wanneer die wyfie gaan wegloop nie, moes ek letterlik mik en druk! Net daarna het sy ongeveer 8 m voor ons verbygeloop, al roepend... dit was besonders mooi.

Ek is supertrots op dié foto!

TOAST SÊ:

Daar is sekere oomblikke in die natuur wat jy eenvoudig nooit sal vergeet nie, en ek vermoed Susan se leeu-oomblik gaan haar nog lank bybly!

Vir die meeste van ons is ’n besoek aan die Kgalagadi iets wat jy net een keer elke hoeveel jaar kan bekostig. Dis spesiaal. En ja, jy gaan soontoe omdat jy weet daar’s leeus om te sien – maar dis ook nie al wat saakmaak nie. Maak vroeg vrede met die feit dat die enigste leeu wat jy in ’n week gaan sien, dalk die een op jou Simba-tjips gaan wees...

Maar tog... tog droom jy. En dan, wanneer als in plek val, klop jou hart vinniger, jy mik en druk dat dit bars, kry jou foto en dan, wanneer daai leeu brul, dan vóél jy dit diep, diep binne jou.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent énigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif: Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Volg Weg op Instagram @MENSESELENSE – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrif go! is @GOMAGSA

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed? Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Weg-kamerasak
Weg-kamerasak
Jy kan volgende maand ’n Weg- kamerasak ter waarde van R520 wen!

Enige fotograaf wat sy sout werd is, sorg dat sy toerusting beskerm word. Jy kan jou kamera en lense veilig hou in hierdie sak van seil met ’n sagte binnevoering.

Een gelukkige Weg-leser kan volgende maand só ’n sak wen. Hoe? Stuur eenvoudig jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – ons kies die wenner, wat dan in “Mense se lense” gepubliseer word. Dié produk is beskikbaar by winkel.weg.co.za