René Krüger

 René Krüger
Foto: René Krüger

IG: @kruger_fleur; Canon EOS 600D; Canon EF-S 18-55 mm-lens

RENÉ VERTEL:

Dié foto is geneem op die plaas Blaauwskop in die Hofmeyr-distrik, Oos-Kaap. My kleinsus het speel-speel vir Pote, die hond, ’n klip gegooi toe ek die oomblik vasvang waar hy in ’n poeletjie plons. 

Die foto is vroeër vanjaar geneem ná goeie reën. Ek het nog nooit die Karoo so groen gesien nie!

Pote se energie straal iets uit van die lewenslus wat vars plaaslug ’n mens gee. Die plaashek is vir my simbolies: dis my hart se plek.

TOAST SÊ:

Kyk mooi daar by Pote se kop – dis sy stert wat net links van sy bek uitsteek, en so half óp die stert kan jy die klippie sien wat hy probeer vang.

René se sluiterspoed was blitsig – 1/1 000ste van ’n sekonde – en dis hoekom sy die aksie netjies kon vries.

Ek hou baie van die water wat rondom Pote se pote plas.

Onthou, indien jy jou sluiterspoed vinniger wil maak in laatmiddaglig soos dié, kan jy jou ISO verhoog tot 800 of selfs meer. Deur die ISO hoër te stel maak jy jou kamerasensor meer ligsensitief en dit stel jou in staat om ’n vinniger sluiterspoed te gebruik.

Ek stem saam met jou, René, ’n ou plaashek soos hierdie maak my hart ook ’n bietjie sag. Die Karoo is ’n spesiale plek, en jou foto bring hulde daaraan. Dankie.

Chrismari
Foto: Chrismari van der Westhuizen

Chrismari van der Westhuizen

IG: @xmaryv; Sony A77V; Sony 50 mm-lens

CHRISMARI SKRYF:

Ons boer in die Boesmanland, in die Loeriesfontein-omgewing. Skeertyd is een van my gunstelingtye op die plaas, veral as die skeerders met die hand skeer.

Skeertyd bring rustigheid in ’n mens se gemoed. Daar is iets omtrent die reuk van die wol, die flitsende skêre in bekwame hande, die geselsies van die skeerders, die geluid van skêre wat geslyp word...

Die beligting in die skeerstoor is dikwels uitdagend met natuurlike lig wat uit verskillende rigtings kom.

Ek neem gewoonlik die foto eerder te donker as te lig, anders raak van die detail verlore. Daar is ’n fyn balans tussen ’n sluiterspoed wat vinnig genoeg is om die aksie vas te vang, maar steeds genoeg lig inlaat sodat die foto se skaduwees nie te “greinerig” raak nie. 

TOAST SÊ:

Ek het self op ’n skaapplaas grootgeword en dié sielvolle foto voer my dadelik terug na die reuke, klanke en teksture wat Chrismari beskryf. Dis goed om hierdie soort toneel vas te vang.

Handskeerspanne raak skaars – die meeste skeerders gebruik deesdae elektriese skeerders. As jy weer sien, is dit weg. Die platteland verander gedurig, en dis hartseer wanneer hierdie ouer manier van dinge doen verdwyn.

Chrismari se sluiterspoed was 1/80ste van ’n sekonde en haar lensopening f2.5.

Die lens wat sy gebruik het, se lensopening kon selfs f1.8 gewees het. Dis wat ’n mens ’n “vinnige” lens noem, want die groot lensopening beteken jy kan in redelik donker toestande steeds ’n relatief vinnige sluiterspoed gebruik.

Fokus raak baie sensitief wanneer jou fokusdiepte so vlak word (met ’n f1.8-lens), maar Chrismari s’n is perfek – op die skeerder eerder as op die skaap. Geluk, jy wen die Weg-kamerasak hierdie maand! 

Janine
Foto: Janine Glennie

Janine Glennie

IG: @stockdale_living; Canon EOS 450D; Canon EF 70-300 mm-lens

JANINE SKRYF:

Die plaas waar ek woon, Stockdale, lê in die Swaers-hoekvallei tussen Somerset-Oos, Cradock en Pearston, in die Oos-Kaap. Dis al vyf geslagte lank in die familie, en my man, David, en sy pa, Richard Glennie, boer tans op die grond.

Dié foto is geneem in die Coet-zeesberg, waar die kranse wegval en jy die dorpie Pearston in die verte kan sien, onder op die Karoo-vlaktes. Ons noem hierdie plek “The Edge of the World”.

TOAST SÊ:

Ek hou baie van die skuins lyn wat die steil helling maak na regs, met die skape wat styf teen mekaar staan – dit lyk soos ’n woltapyt! Janine en haar familie is dalk gewoond aan hierdie toneel, maar dis ongewoon.

Elke Weg-leser weet hoe lyk die Brandwag by Golden Gate, of Kaapstad se Leeukop, of Namibië se Dooievlei. Ons vasteland het geen tekort aan ikoniese landskappe nie – maar terselfdertyd is dié dan landskappe wat duisende mense elke jaar afneem.

Veral landskapfotograwe hou daarvan om unieke plekke af te neem en sal die ligging van sulke plekke geheim hou. Ek weet van ’n fotograaf wat gereeld ’n perfekte kameeldoring-op-’n-rooiduin afneem iewers in die Kalahari, maar die plek nooit sal verklap nie.

Plase is nie nasionale parke of openbare plekke nie, en daarom kom daar minder mense – en fotograwe – en is jou kans beter om unieke landskappe teë te kom. Die goeie nuus? Stockdale is ook ’n gasteplaas – gaan kuier en vra vir Janine om jou na The Edge of the World te neem.

Niemann
Foto: Neil Niemann

Neil Niemann

IG: @neilwizard; Fujifilm X-T1; Fujifilm 18-55 mm-lens

TOAST SÊ:

Neil het hierdie aalwyne tussen Somerset-Oos en Graaff-Reinet afgeneem.

Daar is só ’n kol tussen Graaff-Reinet en Aberdeen ook, en as jy die N10 tussen Cradock en Port Elizabeth ry, sal jy ook ’n paar plekke kry wat in die laatwinter soms oranjerooi staan van die blomme.

Dis moeilik om aalwyne af te neem. Wil jy net een afneem, of wil jy ’n hele groep wys wat saam staan en blom? Neil het ’n middeweg gevind deur op die een die naaste aan die kamera te fokus en die fokusdiepte “vlak” te maak.

Wat bedoel ons daarmee? Jy maak jou f-stop iets soos f3.5 of f5.6 – dan behoort jou agtergrond effens uit fokus te wees, wat sorg dat jou hoofaalwyn mooi uitstaan.

Die teenoorgestelde hiervan is wanneer jy als in jou landskap – van voorgrond tot agtergrond – in fokus wil hou. Dan sal jy tipies jou f-stop opskuif tot f8, f11 of hoër. Dit maak jou fokusdiepte “wyd”.

Neil s’n behou iets van albei, met die voorste aalwyn wat die kollig steel, maar daar is genoeg detail in die agtergrond dat ons steeds die gevoel kry van ’n massa aalwyne wat hier op een plek staan en blom.

Ook belangrik: ’n deel van die voorste aalwyn staan uit bo die horison, wat dit selfs meer prominent maak. Netjies.

Zanmari Crous

IG: @affieplaasfotografie; Canon EOS 2000D; Canon EF-S 18-55 mm-lens 

Zanmari
Foto: Zanmari Crous

ZANMARI VERTEL:

Ek en my man boer met merino’s, bons-maras en sonneblomme en mielies tussen Edenville en Steynsrus in die Vrystaat.

Ek het een aand huis toe gery en sien toe dié ramme langs die pad met die mooie volmaan daaragter. Die skape was almal baie nuuskierig toe ek uitklim om hulle af te neem.

Fotografie is vir my ’n heerlike stokperdjie, want dit laat my anders kyk na dinge op die plaas. Ek sien die mooi raak in elke oomblik en wil dit vasvang om met ander te deel – deur Instagram en Facebook (soek “AffiePlaas Fotografie”).

Ek geniet dit om die nuuskierige lammers en verse af te neem – jy moet net geduldig wees!

Planttyd en strooptyd is ’n besige tyd op die plaas, en met die fotografie kan ek die kleiner detail van die proses vasvang. Om die sonsondergange ná ’n besige dag te kan afneem maak al die harde werk die moeite werd. 

TOAST SÊ:

Wraggies ’n paar nuuskierige skapies! Zanmari se ISO was op 400 gestel, wat ’n sluiterspoed van 1/60ste van ’n sekonde moontlik gemaak het met ’n lensopening van f5.

Met f5 gaan jou fokusdiepte nie baie wyd wees nie (die agtergrond is uit fokus), maar dit maak nie hier saak nie – solank die voorste linie skape in fokus is, soos Zanmari gedoen het.

’n Platform soos Instagram maak dit deesdae moontlik vir ons almal om fotograwe van reg oor die wêreld se foto’s te sien – op jou slimfoon, wat byderhand is. Nie almal op Instagram is beroepsfotograwe nie, maar ’n boer (en ’n veldwagter of dalk ’n skeepskaptein – selfs die ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie is op Instagram!) kan mooi foto’s neem.

Op dié manier sien jy die visuele dagboek van ander mense wat jy dalk nooit sal ontmoet nie, maar wie se visuele wêreld jy interessant vind. Dankie, Zanmari, ek sien uit na nóg foto’s uit jou Vrystaat-dagboek!

Monya
Foto: Monya Prinsloo

Monya Prinsloo

IG: @prinslooproductions; Canon EOS 750D; Canon EF 70-300 mm-lens

MONYA VERTEL:

Dié foto is geneem op my oupa en ouma se plaas, Luterloh, tussen Lichtenburg en Coligny in Noordwes. Ek dink ’n reier is ’n baie elegante voël. Met dun beentjies en al staan dié een trots op die hoogste paal: Vreesloos en min gepla met dit wat “onder” hom aangaan.

Vir my is die plaas altyd mooi, dit maak nie saak watter seisoen dit is nie. Die natuur verras my elke dag. Die plaas is anders as ’n wildreservaat. Daar is tonele op ’n plaas wat jy nie in ’n reservaat sal teëkom nie.

TOAST SÊ:

Hierdie reier is ’n perfekte model vir ’n sterk silhoeëtfoto. Monya se reier is nie hééltemal ’n silhoeët nie, maar hier gaan dit steeds oor die buitelyne – van die twee prominente pale en dan die reier.

Die foto wys hoekom dit só belangrik is om altyd bewus te wees van waar die horison lê in jou foto. Selfs al is dit iewers uit fokus in die agtergrond – dit speel áltyd ’n rol in jou komposisie. Deur haar hoofvoorwerp – die reier – bo die horison te laat uitstaan het Monya se foto soveel meer trefkrag gekry. (Dis ook die rede hoekom jy dikwels ’n standbeeld op ’n groot voetstuk sal sien staan – sodat dit bo die landskap en mense uittoring.)

Ek hou ook van die oranje gloed wat van regs by die raam insypel. Sy moes skuins in die rigting van die son geskiet het, maar nie direk ín die rigting van die son nie (wees versigtig hiervoor, jy kan jou oë beskadig).

Hierdie gloed is soms moeilik om in jou foto te beheer – dit kan te erg wees, of net reg. Verander jou komposisie effens en daar is dalk skielik te veel van ’n gloed. Eksperimenteer en kyk waar lê die “sweet spot”.


Weg-kamerasak
Weg-kamerasak

Jy kan volgende maand ’n Weg-kamerasak ter waarde van R520 wen!

Enige fotograaf wat sy sout werd is, sorg dat sy toerusting beskerm word. Jy kan jou kamera en lense veilig hou in hierdie sak van seil met ’n sagte binnevoering.

Een gelukkige Weg-leser kan volgende maand só ’n sak wen. Hoe? Stuur eenvoudig jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – ons kies die wenner, wat dan in “Mense se lense” gepubliseer word. Dié produk is beskikbaar by winkel.weg.co.za

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent énigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif: Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Volg Weg op Instagram @MENSESELENSE – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrif go! is @GOMAGSA

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed? Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.