Andries
Foto: Andries Janse van Rensburg

Andries Janse van Rensburg

Canon EOS 5D Mk. III; Canon 300 mm-lens met ’n 2x-omsetter

ANDRIES VERTEL: Ons woon tans in Durbanville in die Wes-Kaap, maar het ’n paar jaar gelede op Newcastle in die noorde van KwaZulu-Natal gebly. In daardie tyd het ek een middag uitgery na die Chelmsford-natuurreservaat net buite Newcastle.

Daar kom ek toe af op ’n silwervos met vier kleintjies! Die son was besig om te sak en ek kon dié twee afneem wat lekker speel.

TOAST SÊ: Die onvoorspelbaarheid van die natuur sorg dat daar altyd ’n verrassing op jou wag – iewers, een of ander tyd. Jy kan hoeveel keer deur ’n reservaat soos Chelmsford ry en dalk nooit eens ’n silwervos (ook bekend as ’n “draaijakkals” in die volksmond) gewaar nie, maar dan kom die geluk een middag na jou kant toe.

Dís wat met Andries gebeur het, want hy het ook sy kamera gereed gehad, met die regte lens én die lig het saamgespeel.

Die goue laatmiddaglig laat die twee vosse soos skoon labradortjies op ’n almanak lyk – jy wil hulle dik lyfies opraap en ’n drukkie gee (moenie: Mamma gaan waarskynlik ’n hap uit jou kuit vat...).

Die vosse se oë glinster, wat dadelik ékstra lewe gee aan enige dierefoto. Ek hou van die groen agtergrond, geel voorgrond en die blomme wat ’n sin van skaal gee in die foto.

Elke ding perfek op sy plek!


Braeme Holland

Vandeesmaand se wenfoto
Vandeesmaand se wenfoto

Canon EOS 5D Mk. IV; Canon 100-400 mm-lens

BRAEME SKRYF: Ek het hierdie kolhaas in die eerste week van Januarie in die Addo-olifant- nasionale park afgeneem.

Ek het heelwat foto’s geneem en gewag totdat hy na my kyk. My lensopening was f5.6, sluiterspoed 1/640ste van ’n sekonde en ISO 640. Ek het oorkant hom geparkeer om ’n goeie hoek te kry en die foto uit my kar geneem.

Dit was ons gesin se eerste besoek aan Addo en die hele gesin het dit geniet. Ek hou veral van die Hapoordam waar baie olifante (en oulike babas!) kom drink.

TOAST SÊ: ’n Kolhaas is glad nie maklik om af te neem nie... veral nie as ’n mens te voet is nie. Hulle is kamoefleermeesters en jy sien een eers as jy amper op hom trap. En as hy dan bewus is van jou, hol hy soos Cheslin Kolbe na die doellyn. Dan staan jy verstar en wonder of jy ’n kolhaas of ’n vlakhaas gesien het en besef skielik jou kamera is nooit aangeskakel nie.

Dié een is die rustigheid self... dalk is dit daai blare wat hy geëet het? Braeme het dus genoeg tyd gehad om die foto te neem. Dit help ook dat diere in natuurreservate gewoond is aan motors en nie summier die hasepad vat nie.

Die hoek waaruit Braeme die foto geneem het, maak die foto. Die ooghoogte waarteen die foto geneem is, gee aan die kyker ’n intieme blik.

Die vlak fokusdiepte toon die haas se glinsterende oog, die fyn haartjies op die gesig en selfs die delikate aartjies op die ore.

Dis ’n fantastiese dierefoto en ’n waardige wenner van die Weg-kamerasak!

Welgedaan, Braeme! 


Marie Loots

Nikon D3200; Nikon 50-200 mm-lens

MARIE VERTEL: Ek was in die Krugerwildtuin by die Sunsetdam net buite Onder-Sabie se ruskamp toe ek dié foto geneem het.

Ons was reeds vroegoggend by die dam en het gereed gesit vir iets om te gebeur – wetend dat daar áltyd aksie is by Sunset. Dit was toe ook so: Dié krok het sy vis sonder tjips geniet!

TOAST SÊ: Ek verkies my vis mét tjips, dankie, en met baie sout en asyn daarby – maar met ’n krokodil gaan ek nie stry nie! Hierdie kurpertjie lyk hoeka soos niks meer as ’n voorgereggie nie...

Marie het die regte idee. Gaan sit vroegdag by ’n dam of watergat en iets sál gebeur. Moet net nie aan die slaap raak wanneer die sonnetjie jou hier teen elfuur lomerig maak nie...

Sit gereed, kamera aangeskakel en op jou skoot, en probeer voorspel waar die aksie gaan gebeur. As daar ’n beroering in die water is, rig jou kamera daarop: Dalk verskyn die rubberoortjies van ’n seekoei, of die rasperrug van ’n krokodil, of dalk selfs die slanke nek van ’n slanghalsvoël. Daar’sy, kiek!


Johan Roos

Canon PowerShot SX70 HS

JOHAN SKRYF: Hierdie foto is geneem by Mpayathutwa in die Botswana-kant van die Kgalagadi-oorgrenspark. My kamera is ’n eenvoudige Canon PowerShot SX 70 HS – die foto is uit die kar geneem. Dié twee saalbekooievaars het stadig na mekaar beweeg en kort daarna weer weggevlieg. Die gehalte is dalk nie goed nie, maar dis vir my ’n “lekker” foto.

TOAST SÊ: Vir seker! Soms is dit al wat saak maak: Dis jóú foto en dit moet vir jóú mooi lyk. Wel, dit lyk ook “lekker” genoeg vir my, en dis hoekom dit vandeesmaand hier verskyn.

Dis nie ’n alledaagse foto nie, want hoewel ’n mens gereeld twee saalbekke saam sal sien, is die kans skraal dat jy hulle gaan afneem wanneer albei só staan met oopgespreide vlerke. Die regterkantste een is beslis ’n wyfie – die geel rondom die oog is kenmerkend. Dis moeiliker om die ander een se oog te sien, maar dit lyk swart, en is daarom moontlik ’n mannetjie.

Dit kan wees dat hulle besig was met ’n paringsdans – en dan het jy wraggies iets unieks afgeneem, Johan! ’n Boer soek ’n vrou in die Kgalagadi!


Helgardt Pretorius

Canon EOS 7D Mk. II; Canon 100-400 mm-lens

HELGARDT VERTEL: Ek het hierdie mooi gemsbokke uit ’n helikopter afgeneem bo die Makgadikgadipanne in Botswana.

My lensopening was f7.1, die sluiterspoed 1/2 500ste van ’n sekonde en ISO 500.

Ek was bevoorreg om ’n paar dae rond te vlieg saam met Helicopter Horizons wat in Maun gebaseer is. Ons het oornag by Natural Selection se Camp Kalahari wat op die rand van die Makgadikgadipanne geleë is.

TOAST SÊ: Die Makgadikgadipanne is een van Botswana se topbestemmings.

Daar is toeganklike dele soos die Nata Bird Sanctuary aan die oostekant van die panne, maar ook 4x4-bestemmings soos Kubu-eiland, wat een van Afrika se mees spesiale fotoneemplekke is.

Botswana is pannekoekplat, en as jy nou al ooit ’n goeie verskoning nodig gehad het om ekstra geld uit te gee op ’n vliegtuig- of helikopterrit, is Bots die plek hiervoor. Wanneer jy byvoorbeeld oor die Okavangodelta vlieg, sien jy binne 45 minute die wye omvang van dié watermassa – iets wat haas onmoontlik is om op grondvlak te vermag wanneer jy in jou kar rondry.

Net so met die Makgadikgadi – uit die lug kry jy ’n idee van hoe groot die panne is, én jy sien wild waarskynlik kilometers ver in die ooptes. Boonop kon Helgardt dadelik ’n ongewone perspektief op die gemsbokke kry – tipies sou jy hulle op ooghoogte uit jou voertuig afneem.

Nou kom die lieflike skaduwees van die gemsbokke ook in die prentjie, en dis iets wat jy nie van die grond af kon vasvang nie. Pragtig!


Stephen Kenny

Nikon D7200; Nikon 18-140 mm-lens

STEPHEN SKRYF: Ek het die voorreg gehad om in Oktober 2019 deel te neem aan ’n wildtelling in die Khaudum- nasionale park in die noordooste van Namibië. Ons groepie moes onder meer drie dae by ’n spesifieke watergat sit en al die diere tel wat daar kom draai.

Hierdie luislang was een van die besoekers. Ek het nog nooit só na aan ’n luislang in sy natuurlike habitat gekom nie. Die slang was ongeveer ’n meter en ’n half lank en het gesond gelyk.

Die foto is geneem met ’n lens-opening van f.11, ’n sluiterspoed van 1/500ste van ’n sekonde en ISO 400.

TOAST SÊ: Slange laat mos party ouens die braaitang eenkant toe gooi en op draadstoele spring.

Daar’s altyd iewers ’n slang in die ronde wanneer jy in die veld is, maar hulle verkies hulle eie geselskap en jy sien hulle gewoonlik net as jy te na aan een begin dawer met jou voete.

Ek hou daarvan dat Stephen die ganse raam met slang gevul het, van een hoek na die ander, en van voor tot agter. Hoewel hy deels in die skaduwee lê, is dit oukei, want sy kop is in die son. Die kop (en die oë) is natuurlik gewoonlik wat jy in goeie lig wil sien en in fokus wil hê in ’n diereportret soos hierdie.

Gepraat van fokus, dis baie maklik vir jou kamera om hier ’n flater te maak en die fokus nie op die kop nie, maar op deel van die slang verder af met die lyf te vat. Dan sit jy met sagte fokus op die kop en oë, en dít gaan jou dag bederf wanneer jy later die foto op jou rekenaar se groter skerm oopmaak. Maak altyd 100% seker jou fokus is reg daar en dan wanneer die foto geneem word – zoem in op die klein skermpie agterop jou kamera – moenie net aanneem dis reg nie.

Wat sou lekker gewees het hier? Ja, ’n stukkie sssssslangtong wat uitsteek!


Mandy Mitchell

Canon EOS 70D; Canon 100-400 mm-lens

MANDY SKRYF: Ons woon op ’n doringveldplaas buite Ixopo in KwaZulu- Natal. Ek was baie opgewonde toe ’n gesin rooibekrenostervoëls hulle intrek in ’n naboom in ons tuin neem, en hulle kleintjies daar grootmaak. Ons woon al 15 jaar hier, en dis die eerste keer dat ons hulle in die omgewing sien.

Die voëls is ons nou gewoond, en gee nie om dat ek foto’s van hulle neem nie. Hulle sit gereeld op vee en wild en peusel. Ons gebruik net veedip wat hulle nie sal verjaag nie.

TOAST SÊ: Ek hou van Mandy se storie, en haar foto! ’n Mens verwag om rooibekrenostervoëls net in wildreservate te sien, maar hulle sal hulle op jou plaas tuismaak as die omstandighede vir hulle gunstig is.

Die kleure op die foto is baie mooi: Die groen van die boom, die bruine van die voël en die blou van die lugruim. Die foto lyk byna grafies ontwerp met die skoon lyne en helder kleure... Byna soos ’n interessante visitekaartjie of ’n mooi nasionale vlag soos Kenia of Zimbabwe s’n.

Maar dis natuurlik die rooi snawel, en die rooi ogie binne die geel oogring wat aan die foto lewe gee. As hierdie ’n visitekaartjie was, was die voël se kop die logo!

Ek hou ook daarvan dat die voël aan die bopunt van die tak sit en ’n mens se oog na dié deel van die komposisie gelei word.

Dankie dat jy hierdie met ons gedeel het, Mandy!


WEN MET JOU FOTO!

Jy kan volgende maand ’n Weg- kamerasak ter waarde van R650 wen! Enige fotograaf wat sy sout werd is, sorg dat sy toerusting beskerm word. Jy kan jou kamera en lense veilig hou in hierdie sak van seil met ’n sagte binnevoering. Een gelukkige Weg-leser kan volgende maand só ’n sak wen.

Hoe? Stuur eenvoudig jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – ons kies die wenner, wat dan in “Mense se lense” gepubliseer word.

Dié produk is beskikbaar by winkel.weg.co.za

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent énigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif: Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Volg Weg op Instagram @MENSESELENSE – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrif go! is @GOMAGSA

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed? Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook