Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – dalk bespreek Toast Coetzer jóú foto!

Alta Pretorius

IG: @altap.2; Nikon D5300; Nikon 200-500 mm-lens

ALTA SKRYF: Hierdie foto is geneem by Otterbrug in die Rietvlei-natuurreservaat, Gauteng. Die rustigheid is skielik versteur deur dié twee grootwaterhoenders wat duidelik ’n appeltjie met mekaar te skil gehad het!

Dalk het dit gegaan oor die dame in die voorgrond. Sy was hoogs ontsteld en het lawaaierig rondom hulle geswem.

Die twee mannetjies het mekaar met hulle lang kloue bygekom en onder die water probeer indruk, maar net so vinnig as wat die onderonsie begin het, was dit verby.

Dit was vroegoggend en die lig swak, daarom het ek my ISO na 640 verhoog. Teen dié verstelling is die foto’s nog nie te greinterig nie. Ek wou die aksie vries en die sluiterspoed gestel op 1/1 250 van ’n sekonde teen ’n lensopening van f5.6.

Die foto was egter steeds donker en ek moes dit agterna ’n bietjie ligter maak in Lightroom.

TOAST SÊ: Dit lyk omtrent soos ’n toneel uit Game of Thrones waarin twee ouens mekaar probeer bloedneus gee! Drama in die diereryk kan groot of klein wees, soos hier. Jy is nie aldag in die Kruger waar jy die kans kry om leeus om ’n karkas te sien stoei nie.

Ons kleiner reservate bied nét soveel aksie, jy moet net met ’n ander blik na die wêreld om jou kyk.

Twee skoorsteenveërs wat oor ’n kriesel stry, kan vir hoëimpakfoto’s sorg, en veral onder voëls kan territoriale bitsigheid in ’n oogwink ontaard in iets wat jou ’n wenfoto kan besorg.

Alta se hoek is perfek met die twee grootwaterhoenders wat in kantprofiel afgeneem is – én die wyfie wat hier voor rondswem, lyk amper asof sy die skeidsregter in hierdie geveerde watersoemogeveg is!

Moenie bang wees vir redigeringsagteware nie. Soms red dit jou bas. Soos Alta hier skryf, het sy die foto later ligter gemaak omdat dit onderbelig geneem was. Sy het ’n kans gevat, maar dit het vrugte afgewerp.

Dit was hier belangriker om die aksie teen ’n vinnige sluiterspoed te vries. Sy het vertrou dat sy later die foto sou kon “red” deur dit ligter te maak.

Baie geluk, Alta, jy wen ’n duursame Weg-kamerasak!

Andries Combrinck

IG: @andrieswildlife; Nikon D500; Nikon 200-400 mm-lens

ANDRIES VERTEL: In Augustus 2019 het ek ’n reis meegemaak na die Noordpoolsirkel, spesifiek die eiland Svalbard, noord van Noorweë.

Ons groep van 12 fotograwe het tien dae op die kleinerige MV Origo vertoef. Die meeste foto’s is geneem van rubberbootjies af na aan die kus. Dit was nogal ’n uitdaging aangesien die bootjies – en die see – gedurig aan die beweeg is. Dit was dus belangrik om ’n redelike hoë sluiterspoed te gebruik.

Augustus is die laaste maand van die Noordpoolsirkel-somer, en ons het elke dag 24 uur lank ’n mate van sonskyn gehad. Die lig was dus vir lang periodes mooi en sag.

Hierdie twee Arktiese vosse het heerlik gespeel en mekaar al langs die strand rondgejaag.

My lens was op f4, en die sluiterspoed 1/4 000ste van ’n sekonde teen ISO 1 600.

TOAST SÊ: Jislaaik, dis mooi! Onder omstandighede het Andries baie goed gevaar, want dis moeilik om so in die “ry” foto’s te neem. Die boot beweeg heen en weer, maar ook op en af – plús die vossies hol rond. Jy gebruik dus jou vinnigste sluiterspoed moontlik en plaas jou vertroue in outofokus.

Jy kan later op die rekenaar weer na komposisie kyk en die foto anders sny en raam. Neem net eers die foto!

Die spelerige houding van die vossies is duidelik (veral daai sterte wat so in die lug hang), en ek hou daarvan dat ons die een se gesig mooi sien. Dit gee persoonlikheid aan die dier. Die sagte, goue lig doen wondere en Andries se beligting is perfek. Met daardie helder agtergrond kon hierdie maklik soos ’n silhoeëtfoto gelyk het.

’n Sterk komposisielyn word gevorm deur die boggel van die groot rots waarop die vossies staan – dit lei jou na die aksie, soos dit hoort.

Goeie werk!

Helgardt Pretorius

IG: @hbadgerphotography; Canon EOS 7D Mk. II; Canon 100-400 mm-lens

TOAST SÊ: So groot en grof as wat olifante lyk, het hulle ook ’n sagte kant, en nêrens kom dit so sterk na vore as wanneer dit by moederskap kom nie. ’n Klein olifantjie het ’n lang lewe voor hom en word soos goud opgepas deur sy ma, én die res van die trop.

Helgardt se foto (geneem in Pilanesberg) is gestroop van kleur om die klem selfs sterker op die broosheid van die kalf te plaas.

Die komposisie is perfek – die portret is styf geraam sodat ons net die kalf se kop sien. Die ma se been help om die raam te versterk en ook om ’n “holte” te skep waarin die krul van die kleintjie se slurp lê.

Deur jou foto na swart-wit om te skakel tree tekstuur altyd sterker na vore – en Helgardt se keuse van olifant as voorwerp is uiters geskik hiervoor, want min diere het ’n meer karaktervolle vel as ’n olifant.

Francois Meyer

IG: @francoisdmeyer; Canon EOS 70D; Canon 50 mm-lens

TOAST SÊ: As jy al ooit gewonder het hoekom hulle dié outjie ’n grootlangtoon noem – kyk net daai groot, lang tone! Francois het hom by Lake Panic by Skukuza in die Kruger afgeneem. Hy sê dis een van sy gunsteling-skuilings in die Kruger vir foto’s neem. Daar’s gewoonlik baie aksie, maar op dié betrokke oggend was dit vir ’n wyle net die grootlangtoon wat van een lelieblaar na die volgende gestap het.

Die voël was digby die skuiling en daarom het hy nie eens sy zoemlens nodig gehad nie. Ons is geneig om “verslaaf” te raak aan ons zoemlense wanneer ons diere en voëls afneem, want jy voel later jy móét eenvoudig die dier so groot as moontlik in jou raam hê. Maar soms is die beter foto eerder ’n wyer raam waarin die dier steeds jou hoofvoorwerp kan wees, maar die landskap en agtergrond ’n sterker rol begin speel.

Deur wyer te raam het Francois nou ’n tiental komposisiemoontlikhede. Hy kan besluit of hy die grootlangtoon in die middel van die raam wil plaas, of hy kan die reël van derdes toepas. Hy kan vier foto’s kort ná mekaar neem en in elkeen sy hoofvoorwerp na ’n ander hoek skuif – links onder, links bo, regs bo, regs onder. Daarna kan hy sy kamera draai en dieselfde doen terwyl hy dit vertikaal hou en portretformaatfoto’s neem. Skielik het hy agt, of tien (as hy die sentrale komposisie bytel), opsies om van te kies.

Die groot, ronde fatsoene van die lelieblare – met hulle kartelrande vir ekstra tekstuur – speel goed saam hier. Dis asof elkeen ’n oop handpalm is waarop die grootlangtoon kan trap.

Dankie vir hierdie foto, Francois!

Charmaine Joubert

IG: @charmainelindhorstjoubert; Canon EOS 550D; Canon 55-250 mm-lens

CHARMAINE SKRYF: Ek het hierdie foto in 2011 geneem met wat toe my eerste digitale SLR-kamera was. Ons was in die Kruger en het by een van ons gunstelingwatergate sit en wag.

Die lig was geskik vir laatmiddagfotografie, en dit het teen ’n lae hoek op die watergat geval.

Die toneel was perfek – en toe raak dit selfs beter toe vyf witrenosters verskyn en na die water stap. Ja, výf! Ons het sedertdien nog nooit weer soveel renosters saam in die wildtuin gesien nie. Ek wou al vyf in die foto insluit, maar die een het nie mooi in gelid gestaan nie. Ek kon wel dié vier saam afneem.

Die sonsonderganglig was intens en het eintlik die aandag van die renosters afgetrek. Daarom het ek dit omgeskakel na swart-wit, wat gepas het by die gevoel van die toneel, en ook die kontraste tussen die verligte dele en skadudele van die toneel beklemtoon het.

TOAST SÊ: Elke keer wanneer jy ’n park soos die Kruger besoek, leer jy iets. Jy leer dalk waar ’n sekere luiperd hou, of watter stuk rivierpad goed is vir vroegdagfoto’s van bobbejane. Jy leer ook watergate ken, en weet later watter is meer geskik vir oggendfoto’s en watter skitter weer teen laatmiddag.

Jy wil hê dat die lig van voor op die diere val (op hulle gesigte) soos hulle kom drink, daarom moet die son van agter jou skyn waar jy in die kar sit. (Ons noem doelbewus nie die naam van dié watergat nie, net ingeval ’n renosterstroper hierdie maand Weg lees...)

Soos met Helgardt se olifant-foto hiernaas het Charmaine haar voorwerp goed gekies vir ’n omskakeling na swart-wit, want ’n renoster is nie juis die kleurrykste vent in die diereryk nie.

Ek hou veral van hoe die horings van twee van die renosters (tweede van links en die een heel regs) uitstaan omdat hulle teen ’n byna pikswart agtergrond geplaas is. Klein dingetjies kan soms ’n groot verskil maak.

Dit klink vreemd, maar ’n mens kan soms te veel van ’n goeie ding – soos goue lig teen sonsondergang – hê. Dit kan te oranje begin raak, en die diere onnatuurlik laat “gloei”. Daarom was Charmaine se omskakeling na swart-wit slim op meer as een manier.

Die “goue” lig is nou bloot helder – helder soos ’n kollig wat val op akteurs wanneer hulle die verhoog betree. Jy hoor amper die applous van die mense uit die ander karre wat ook hierna sit en kyk!

Dis tyd om die bottel Amarula uit die kampkrat te grawe wanneer jy terug is by die kamp vanaand... 

Jehan White

Canon EOS 7D; Mk. II; Canon 70-200 mm-lens

JEHAN VERTEL: Ek en my verloofde woon in Doebai, maar hierdie foto is by die Botlierskop-privaatwildreservaat naby Mosselbaai geneem toe ons in Suid-Afrika by familie gekuier het.

Op pad terug na die lodge ná ons wildrit het ons dié waterbokkoei en haar kalf in die laatmiddagson sien staan. Die lig was perfek en ek het op die kalfie gefokus. Met die f-stop van 2.8 het ek geweet die voorgrond gaan uit fokus wees, wat sal maak dat die kalfie prominent is op die foto.

Ek het later op my rekenaar die agtergrond selfs donkerder gemaak sodat die diere beter daarteen uitstaan.

TOAST SÊ: Dis moeilik om ’n totáál swart agtergrond te kry terwyl jou voorwerp in die son staan. Maar dis moontlik indien jy rondkyk – veral laatmiddag – en jou beligting korrek beheer. Natuurlik moet jy belig vir die helderste deel van jou foto, wat hier die sonverligte dele van die waterbokke is. Die skadukant is nie nou belangrik nie, dit moet donker bly vir jou effek om mooi te werk.

Jehan was slim deur die voorste bok te gebruik as uitfokuselement wat help om die aandag sterker op die agterste bok te fokus. Selfs al is dit uit fokus, weet ons ook steeds wat dit is. Al kan jy dalk nie sien dis spesifiek ’n waterbok nie, eien jy tog die fatsoen daarvan as dié van ’n boksoort.

Probeer ’n agtergrond kry wat reeds in skadu gehul is, dan is jou “swart” agtergrond halfpad daar. Jehan het die effek later op sy rekenaar aangehelp deur die agtergrond kunsmatig nog donkerder te maak sodat dit byna swart is.

Jy hoef natuurlik nie so ver te gaan nie, want die foto het heel moontlik steeds goed gelyk sónder die verdere redigering. Elke fotograaf sal dit na voorkeur doen.

Uiteindelik is dit die komposisie wat die foto laat werk. Jy kry die idee dat albei bokke vir jou kyk, selfs die een uit fokus waarvan ons die oë nie regtig kan uitmaak nie (kyk egter fyn: daar’s ’n “glinster” effens uit fokus waar die oog is).

Jehan se foto wys dat jy ’n treffende foto kan neem met bittermin tot jou beskikking. Die ander mense op die wildrit het tien teen een gewonder wat op dees aarde Jehan in dié toneel sien.

Dink kreatief oor komposisie, en kyk dan later op jou rekenaar of jy jou effek kan versterk deur slim te werk met jou redigeringsagteware.

Riaan Hammond

IG: @jrhammond8; Canon EOS 5D Mk. IV; Canon 24-105 mm-lens

RIAAN SKRYF: Ek is dol op “Mense se lense”, en leer baie uit die wenke! Hierdie silhoeëtfoto is in Desember 2019 geneem tussen Pienaarstrand en Grootbrakrivier naby Mosselbaai. Dis ’n stil strand waar ek en my gesin aan die einde van elke jaar – wanneer dit laagwater én die weer reg is – teen sononder gaan stap en foto’s neem nadat almal ’n sekere hoë duin uitgeklim het.

Teen die goue uur is dit ’n perfekte plek om mense af te neem. My verstellings was: sluiterspoed van 1/200ste van ’n sekonde, lensopening van f5.6 en ISO 100.

TOAST SÊ: Riaan se foto laat jou wens dis jý wat hier hand aan hand stap, of met jou hond speel. Die hond is teen die donkerder deel van die sand – kyk mooi of jy hom sien. Met ’n foto soos hierdie moet jy geduldig wees, want die mense (en hulle honde) is gedurig aan die beweeg. Soms moet jy behoorlik op ’n drafstap wees om by te hou by die vinnige stappers!

Wees ook bewus van waar die beste deel van jou raam is. Kyk hier na die helder stuk strand links in die voorgrond. As die hond in dié deel rondgespring het, sou dit die foto selfs sterker gemaak het. En as die paartjie effens na links stap óp die nat sand wat sou blink, sou Riaan dalk selfs meer van hulle weerkaatsing vasgevang het, wat óók goed is vir die foto.

Die goue strand vorm ’n snelweg deur die foto. Dit lei jou deur die raam na waar die mense verskyn, en dan verder na waar die bal van die son vir oulaas hang. Dankie vir ’n pragtige foto, Riaan!

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za 

Volg Weg op Instagram 

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

WEN MET JOU FOTO!

Jy kan volgende maand ’n Weg-kamerasak ter waarde van R650 wen! Enige fotograaf wat sy sout werd is, sorg dat sy toerusting beskerm word.

Jy kan jou kamera en lense veilig hou in hierdie sak van seil met ’n sagte binnevoering. Een gelukkige Weg-leser kan volgende maand só ’n sak wen.

Hoe? Stuur eenvoudig jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – ons kies die wenner, wat dan in “Mense se lense” gepubliseer word. Dié produk is beskikbaar by winkel.weg.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook