Wenfoto: Tony Cronjé

Tony Cronjé

Canon EOS 650D Canon 75-300 mm-lens

TONY VERTEL: Ek het hierdie foto by die Addo-olifant- nasionale park se Gwarriepan-watergat geneem.

Dit was Januariemaand en warm. Heelwat olifante het in die water kom afkoel. Ek het hierdie drietjies waarskynlik ’n halfuur lank dopgehou in die hoop dat hulle vir my ’n goeie fotogeleentheid sou gee. Hulle het my laat dink aan ’n speletjie uit my jeug: Bok-bok, staan styf!

Ek woon in Morganbaai en kom nie veel in Addo nie, maar die lekker ding van die park is dat jy kans kry om goeie olifantfoto’s te neem. Dis asof hulle rustiger is in Addo as in byvoorbeeld Etosha of die Kruger, selfs met kleintjies in die omtrek.

TOAST SÊ: Dis ’n prettige foto! Tony se geduld was die wag werd, want hierdie is ’n besonderse oomblik. Jy sal soms een kleintjie só sien staan teen ’n ander, maar om dan nóg een te kry wat lyk of hy ook geabba wil word – dis iets wat jy selde sien. Jy kan jou amper verbeel hulle is in ’n sirkus – en goed afgerig!

Hoe meer gereeld jy in ’n spesifieke park kom (al is dit ’n klein provinsiale reservaat naby jou tuisdorp) hoe beter gaan jy die gedrag van die diere leer ken. Jy sal ook begin agterkom watter watergate bied die beste fotoneemgeleenthede (die diere wat kom drink, die gehalte van die lig) teen watter tye van die dag. Hierdie oulike foto wen vandeesmaand ’n Stevenson Hamilton-hoed. Dra hom met trots wanneer jy weer by Gwarriepan inskuif, Tony!


Bruce Allen

Canon 5D Mk. III Canon 100-400 mm-lens

BRUCE SKRYF: Ek het dié foto laatmiddag in die Khama Rhino Sanctuary naby Serowe in Botswana geneem.

Daar was stof in die lug nadat ’n paar renosters rondgehol het. Ek het met ’n hoë ISO van 2 000 geskiet sodat ek my sluiterspoed vinnig kon hou (1/2 500ste van ’n sekonde) terwyl ek steeds goeie fokusdiepte kon handhaaf teen f/14.

TOAST SÊ: Khama Rhino Sanctuary is een van Botswana se minder bekende reservate, maar dis die beste plek om na hulle renosters te soek. Daar is ander wild ook, en Bruce se rooibokfoto wys dat jy met ’n bietjie kreatiwiteit sterk foto’s daar kan neem.

Veral wanneer die invalshoek van die son laag is – vroegoggend of laatmiddag – tel die strale enige stofdeeltjies duidelik op, en dís wat Bruce se foto so ’n unieke gevoelswaarde gee. Rook, ’n wolk muggies, humiditeit (soos mistigheid of stuifreën) of dalk selfs grassaadjies wat deur die wind opgetel is, kan dieselfde effek gee – wees dus op die uitkyk daarvoor.

Omdat die son van agter die bok skyn, is daar nou fyn randbeligting te bespeur, wat die silhoeët daarvan ’n skerp, byna ingebrande voorkoms gee. Kyk ook na die spasie na regs, voor die bok se neus. Dis belangrik om jou (veral bewegende) voorwerp beweegruimte te gee dat die komposisie nie te beknop voel nie.


Sue Parry

Canon Powershot A460

SUE VERTEL: Hierdie foto is in die Greytondistrik geneem op ’n naweek op ’n plaas daar.

Ek het gehou van hoe die sonlig die perd byna omring, en dat die weerkaatsing ook sigbaar is. Ek is tevrede met hoe hierdie foto uitgekom het!

Daar is ooreenkomste tussen Sue se foto en Bruce se rooibokfoto hierbo. Sue se perd het dieselfde randbeligting.

Weerkaatsing is altyd goed vir enige foto: dikwels verdubbel dit die mooiheid daarvan. Fotografie gaan daaroor om ’n spesifieke oomblik vas te vang. Iets spesiaals wat jou oog getref het, en waarop jy nou met jou kamera fokus. Jy raam daardie oomblik, en druk die knoppie. Dis soos toorkuns: Nou kan Sue dié oomblik van plesier (kyk net hoe geniet die perd daai water!) vir altyd met haar saamdra. 


Nicolé Maré

iPhone 6s

NICOLÉ SE MAN, HUGO, SKRYF: Ons bly in Sandton en was op pad Kaapstad toe vir vakansie, maar wou met agterpaaie deur die Noord-Kaap langs ry om die hoofroetes te vermy. Selfs al was dit ’n paar uur langer om te ry, het die uitsigte dit die moeite werd gemaak!

Dit was ons eerste keer in hierdie deel van die Noord-Kaap – hierdie foto is in die Botterkloofpas suidwes van Calvinia geneem. Ons het hier gestop omdat ’n mens kon sien tot waar die pad oor die horison wegraak. Die beste vir my (seker omdat ek van die stad af kom) was om geen ander mens, huis of kar te sien nie. 

Ek geniet spesifiek selfoon-fotografie omdat dit baie gevorderd geraak het oor die laaste paar jare. Jy kan nou verstellings maak om byna professionele foto’s te neem.

TOAST SÊ: Ja, die Noord-Kaap (en die Karoo in die algemeen) is Suid-Afrika se geheime agterpadwapen. Vir elke hoofweg wat hierdie geweste deurkruis, is daar drie ompad-opsies wat jy ook kan vat. Hulle mag jou dalk langer neem om te ry, maar hulle gaan jou gemoed goed doen.

Met ’n (slim) selfoon in jou hand het jy deesdae sommer ’n sak vol truuks by jou ook. Hou dit op die outomodus en 95% van jou foto’s gaan goed uitkom. Maar bring ’n bietjie tyd daarmee deur en raak vertroud met jou foon se volle spektrum van vernuftighede. Leer hoe jy op ’n deel van die skerm kan raak om die fokus te hou, of die beligting daar te neem. Leer hoe jy die flits kan aan- of afskakel, of hoe jy High Dynamic Range (HDR) kan aktiveer of afsit, soos dit jou pas.

Die pad wat hier so na die horison verdwyn, vorm ’n klassieke lyn vir ’n landskapfoto. Kyk hoe dit op natuurlike wyse jou aandag lei van die voorgrond na die verte. Dis waarna jy soek met jou foto’s: iets vir die oog in elke hoek. Op dié foto kan ’n mens amper die stilte aanvoel.


Jacobus de Beer

Canon EOS 200D Canon 18-55 mm-lens

JACOBUS SKRYF: Ek het hierdie verkleurmannetjie in die Krugerwildtuin by een van die piekniekplekke afgeneem.

Ons het net klaar geëet, en soos ek weer ons kosmaakgoed in die kar loop bêre het, het ek ’n klomp kinders in die parkeerterrein sien speel. Hulle wou die arme verkleurmannetjie vang. Hy het later weggekom en in die boom gaan sit.

TOAST SÊ: Ek is bly die vlugvoetige verkleurmannetjie kon van die kinderbende ontsnap! Omdat jy nie in die Kruger uit jou kar mag klim nie (om goeie redes soos leeus, buffels...), is dit dikwels onmoontlik om klein goedjies soos verkleurmannetjies af te neem – of selfs raak te sien. Uit ’n kar is jy geneig om verder bos in te soek na groot katte, bokke of dinge soos olifante. Jy mis dus dalk ’n insek of verkleurmannetjie wat op ’n tak sit. Dis waar die kampterreine en piekniekplekke belangrik raak. Hier mág jy rondstap en rondsoek na goeie fotogeleenthede.

Die kleurkontras tussen die Blitsbokgroen van die verkleurmannetjie en die grys agtergrond van die takkies werk goed. Ek hou ook van die skuins lyne soos geskep deur die takkies, en die lyf en bene van die verkleurmannetjie. Al dié elemente sorg vir ’n foto waarna ’n mens twee keer kyk.


Elmar Venter

Canon EOS-1D X Canon 500 mm-lens met 1.4x-omsetter

ELMAR VERTEL: Ek het hierdie groenrugreier in die Loskopdam-natuurreservaat in Mpumalanga afgeneem. Die reier was besig om sy vere skoon te maak. Die unieke postuur van die reier tesame met die sagte oggendlig het die kleure van die vere mooi laat vertoon.

TOAST SÊ: Oggendlig beteken vir ’n natuurfotograaf wat ’n vroeë drie vir jou gunstelingrugbyspan beteken. Met sagte lig aan jou kant, is jy reeds op die voorvoet.

Let veral op die afwesigheid van skerp kontras tussen die ligte en donker dele van Elmar se foto. As hy die foto in die middel van die dag geneem het, sou daar donker skaduwees iewers gewees het. Maar nou is die lig meer eweredig, wat help dat die fynste detail in die vere perfek uitstaan, en dat hy nie gesukkel het met die wit (of ligter) dele van die voël nie.

Dis moeilik om jou beligting reg te kry wanneer die son “harder” is later in die dag – veral met iets soos ’n visarend waarvan byna die helfte wit is. Die wit kan te helder lyk op jou foto, veral as jy nie jou beligting reg meet nie.

Elmar se foto is sterk omdat die reier uit ’n ongewone hoek afgeneem is. Boonop is hy besig om iets te doen – altyd meer interessant as wanneer ’n voël net daar sit en swyg. Kyk na die lyne in die foto, almal gevorm deur die reier: Die pote wat teen ’n hoek na bo lei, dan die onderlyf waarvan die vere soos pyltjies in ’n rigting wys, dan die nek wat soos ’n slap koeksister krul en dan die kop wat ánderkant toe krap met die snawel.

Die geel in die pote, snawel en oog laat die reier verder uitstaan – soos ’n kar met kaatsstroke. Baie netjies gedoen, Elmar! 


Michelle Needham

Sony Cybershot DSC-HX400V

MICHELLE SKRYF: Hierdie foto is ’n paar jaar gelede by die Mabuasehube-natuurreservaat in Botswana se Mpayathutlwa-kamp geneem.

Drie leeumannetjies het oor die pan aangestryk gekom en een het in die stort gaan water drink – dit was seker 50 °C en een kraan in die stort het gelek. Ek het dié foto geneem toe hy uitkom.

Ongelukkig eindig hierdie storie nie goed nie... Ons het die mannetjies gevolg. Later het hulle op ’n wyfie en haar twee welpies afgekom. Dinge het lelik geraak: ’n Mannetjie het een van die welpies doodgebyt en die leeuwyfie het met hom baklei.

TOAST SÊ: Al is dit nie lekker om sulke dinge te sien nie, is dit tog ’n besonderse voorreg om leeus bloot te sien leeus wees in ’n wildernis soos die Kgalagadi. Dit herinner jou daaraan dat die plek nog ongetem en ordentlik wild is.

Michelle se foto tref die oog omdat die (wilde) leeu in jukstaposisie staan teenoor die (mensgemaakte) badkamergeboutjie. Dit betrap jou onkant: Jy sou eerder iemand met ’n handdoek om die lyf en stortsakkie oor die skouer verwag wat hier uit die bosstort stap, nie ’n maanhaar met moorddadige gedagtes nie...

Die lig op die foto is mooi, en van die regte kant af. Neem duidelike foto’s van jou voorwerp só: Probeer met jou rug na die son staan sodat die son oor jou kop direk op die voorwerp val.


Henriette Biesenbach

Canon 6D Mk. II Canon 16-35 mm-lens

HENRIETTE VERTEL: Ek het dié outjie op my daaglikse stappie in Fernkloof buite Hermanus gewaar. Gelukkig het hy sy eie weerkaatsing in my lens gesien en sommer flink nader gestap.

Fernkloof is wonderlik vir fotografie omdat daar soveel veilige staproetes is. Die fotogeleenthede strek van ’n uitsig oor die see met die wyehoeklens tot suikervoëls en suikerbekkies met die telefotolens en dan die fynbosblommetjies met die makrolens. Voorwaar ’n voorreg om hier te bly – kom kuier gerus!

TOAST SÊ: Dit lyk my ons sal moet kom kuier, Henriette! Hermanus is mooi wêreld, maar dit bied soveel meer as net ’n interessante kuslyn. Die berge agter die dorp – waar Fernkloof lê – is die inwoners se speelplek.

Dit is g’n maklik om ’n goeie skilpadfoto te neem nie. Jy het gewillige knieë en sterk heupe nodig, want jy moet óf op jou knieë gaan of sommer plat op jou maag lê. Dis belangrik om die skilpad uit ’n lae hoek af te neem – probeer op oogvlak met hom kom. Dis die enigste manier hoe jy die kop en nek persoonlikheid kan gee. As jy staan, is die kanse goed dat jy die kop direk van bo af neem en dus nie oogkontak kan maak nie.

Jy verloor ook die driedimensionaliteit van die skillie se huishobbel. Van bo af lyk die dop “plat”, maar op grondvlak troon dit uit bo voetsoolvlak tot iets imposants. Olie daai skarniere en gaan kuier doer onder vir ’n skilpad.


Stu Bowie

Canon EOS 50D Canon 24-105 mm-lens

STU SKRYF: Verlede Desembervakansie het ons in die Bloubergstrandomgewing tuisgegaan – seker een van die beste plekke vir sonsondergangfoto’s.

Ek het later eerder op die seeumeeue begin fokus en vir een gewag om voor my lens verby te vlieg. Die dieporanje kleur is direk soos dit vasgevang is deur my kamera. Ek verander die “White Balance” op my kamera na die “Cloudy”-verstelling; dit maak die sonsondergangkleure “warmer”.

TOAST SÊ: Dié tipiese foto van Bloubergstrand af sluit gewoonlik Tafelberg in – maar hoekom altyd die trop volg? As jy tyd het, neem ’n toneel uit elke hoek af. Begin dalk met die “klassieke” foto: Tafelberg in die verte, die see en strand voor.

Goed, wat trek nog jou aandag? Dalk is ’n branderplankvlieër besig om truuks te draai – sluit hom of haar in. Dalk stap mense met honde verby – gaan lê op jou maag op die sand en kry ’n lae hoek. Elke toneel bied vele opsies vir foto’s.

Stu was skerp: Pleks van fokus op dit wat op die horison gebeur (wat jy gewoonlik sou doen met ’n sonsondergang), het hy gemerk dat die seemeeue hier naby interessant is.

Die volgende stap was om een in fokus te kry – makliker gesê as gedaan! Maak seker jou sluiterspoed is lekker vinnig (Stu s’n was 1/500ste van ’n sekonde), en hoop dat jou outofokus wakker is.

Jy gaan dalk 20 foto’s moet neem voordat jy die fokus en posisionering van die voël regkry. Ek hou ook van die vae silhoeët van die boot in die agtergrond. Netjiese werk, Stu!

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansie-foto’s of goggas en blomme in jou tuin.

HOE? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za

Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Volg Weg op Instagram @MENSESELENSE
– merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar! Ons sustertydskrif go! is @GOMAGSA