Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Karien Krüger

Karien Krüger

Nikon D7200

Sigma 150-500 mm-lens

KARIEN VERTEL: My man het in sy jonger jare gereeld die Kgalagadi-oorgrenspark (destyds sommer net genoem “die Gemsbokpark”) besoek, maar ek was nog nooit daar nie.

Ons woon nou in Pretoria en het die afgelope drie jaar probeer om plek te kry, maar was altyd teleurgesteld omdat dit so gou volbespreek word. Maar ons was onlangs gelukkig en het vir ses aande plek gekry.

Ek het ’n dorre woestyn verwag, maar toe reën dit op drie van die dae! Die vierde nag het ons in die noorde van die park in die Gharagab-wilderniskamp geslaap.

Ek het ’n dorre woestyn verwag, maar toe reën dit op drie van die dae!

Dit het dwarsdeur die nag gereën, maar dit het gelukkig teen rytyd ophou drup. Die pad was omtrent onder water en by tye het ek gevoel ons het eintlik ’n boot nodig. Op die 112 km van Gharagab na Nossob moes ons deur 113 poele water ry – ja, ek het getel! Halfpad Nossob toe sien ons dié jakkals in die pad aangedraf kom.

My man het die voertuig effens skuins gedraai om vir my ’n beter hoek te gee. Die jakkals het eers gaan staan, toe besef dat ons hom niks gaan aandoen nie, en daarna na die poel gestap en begin drink – maar ons steeds uit die hoek van sy oog dopgehou. Tot ons jou weer sien, Kgalagadi!

TOAST SÊ: Dis besonders om ons droë parke in die reënseisoen te sien – ’n transformasie vind voor jou oë plaas. Uit ’n fotograaf se oogpunt is dit ook lekker, want jy kry die geleentheid om ongewone foto’s te neem.

Die diere se gedrag is ook anders. Hulle doen dinge wat hulle nie ander tye van die jaar kan doen nie – soos water in die pad drink! Karien se lang zoemlens sorg dat die voor- en agtergrond redelik uit fokus gegooi is.

Jy soek dit gewoonlik by dierefoto’s, want jy wil hê die hoofvoorwerp (die jakkals) moet uitstaan. Tog is die voorgrond soms belangrik. Kyk hier na die weerkaatsing: daarsonder is Karien se foto steeds mooi, maar sonder die X-faktor.

Mét die weerkaatsing is dit sommer ons wenfoto hierdie maand! Gelukkig was die weerkaatsing nog sigbaar genoeg in die voorgrond. Jy wil tog steeds die spieëlbeeld duidelik kan uitmaak. Die lae hoek waaruit sy die foto kon neem – danksy haar man wat die kar so mooi vir haar gedraai het – was ook belangrik.

Goeie werk, Karien! 


Koos Botha

Nikon CoolPix P900

TOAST SÊ: Koos het dié swartreier afgeneem by die Marievale-vleiland net buite Nigel. Sy Nikon CoolPix P900 is ’n superzoem-kamera met ’n ingeboude zoem van 83x – meer as genoeg vir voëlfoto’s, veral as die lig goed is.

Hierdie soort kamera werk beter in sterk daglig. Koos het sy P900 op een van die voorafingestelde spesialismodusse gesit – die voëlmodus.

Die spesialismodusse word gewoonlik aangedui met een of ander ikoon op ’n draaiwieletjie op jou kamera, soos die makromodus, of die een vir landskappe, portrette, aksie of selfs vir sonsondergang, of kunsmatige beligting (soos byvoorbeeld vir ’n vuurwerkvertoning).

Hierdie spesialismodusse sorg dat die kamera outomaties die werk vir jou doen binne sekere omstandighede. Wanneer jy voëls afneem, wil jy tipies inzoem, daarom het jy ’n hoë sluiterspoed nodig om kameraskud te beperk. Nog ’n rede waarom jy ’n vinnige sluiterspoed soek, is ingeval die voël aan die beweeg is.

Wanneer ek die “File Info” van Koos se foto bekyk, kan ek sien dat die kamera die sluiterspoed (vanself) 1/500ste van ’n sekonde gemaak het. Netjies, nè? Maar wat régtig netjies is, is Koos se foto!

Ek is gek oor die weerkaatsing in die water – simmetrie is altyd goed vir ’n foto, want dit verdubbel die mooigeit!


Walter Pretorius

Leica M8

Voightlander 21 mm-lens

WALTER SKRYF: Ek het hierdie foto geneem in Van Reenenspas langs die N3 op die grens van die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Dis deel van die gedenkmuur agter die kerk waar geliefdes hulle naasbestaandes se name aanbring – dikwels mense wat op Van Reenenspas gesterf het.

Daar was vir my iets simbolies omtrent die oop hekkie en engeltjie. My verstellings was: sluiterspoed 1/125ste van ’n sekonde, lensopening f7.7 en ISO 160. Ek is ’n groot aanhanger van Leica-kameras.

Ek het ’n klein besigheid waar ek oogstukke vir Leicas vervaardig. My kliënte is hoofsaaklik oorsee en ek het al heelwat onderhoude met fotograwe gedoen waarvan daar ’n paar op my webtuiste is (walterleica.com).

Al my lense kom uit die 1950’s, die dae toe lense nog met die hand geslyp is. Ek hou van swart-wit-foto’s: Ek voel sekere voorwerpe word beter blootgestel daarmee. Dit laat jou gedagtes meer vryheid toe – kleur beperk dit. Dis amper soos om ’n storie oor die radio te hoor.

Al my lense kom uit die 1950’s, die dae toe lense nog met die hand geslyp is.

TOAST SÊ: Walter het ’n punt beet. Swart-wit-foto’s wys jou op die nuanse van ’n toneel. Kyk hoe jou oog nou geboei word deur die verskillende skakerings grys, veral sigbaar in die blare (wat andersins groen of bruin sou wees).

Die ander aspek wat dikwels versterk word in ’n swart-wit foto, is tekstuur. Die blare, boombas, klipmuur en die kartels van die hekkie sorg dat daar g’n “dooie” hoek in dié raam te bespeur is nie.

Onthou dat jy met sommige D-SLR-kameras ook ou lense uit die filmera kan gebruik. Jy sal harder moet werk en self die f-stop en sluiterspoed moet stel, want die kontakpunte tussen ’n ou lens en ’n nuwe kamera “praat” nie altyd met mekaar nie. Jy sal dus die beligting self moet interpreteer, of ’n afsonderlike ligmeter moet inspan.

Jy kan ook ’n tweede kamera (moderne D-SLR of soortgelyk) gebruik om die lig te meet, en dan met die handmodus die beligting dienooreenkomstig verstel op die kamera waarop jy met die ou lens skiet. Daai sak vol ou lense in jou oupa se hangkas kan ’n skatkis wees! Gaan eksperimenteer gerus. ’n Puik foto, Walter, en dankie dat jy die vlag swaai vir swart-wit-fotografie!


Linda-Mari Pocsi

Nikon D7100

Nikon 55-200 mm-lens

LINDA-MARI VERTEL: Daar was dié dag duisende van hierdie krappies op die strand by Bilene, Mosambiek, maar elke slag wanneer ek nader beweeg het, het hulle na hulle gaatjie laat spaander.

Ek het toe maar een van die gaatjies gekies en plat op my maag naby gaan lê... Uiteindelik het hierdie outjie kom koekeloer wat buite aangaan.

TOAST SÊ: Als gaan hier oor perspektief en fokusdiepte. Linda-Mari sou nooit dieselfde effek kon kry deur die foto uit ’n staande posisie te neem nie: Deur plat te gaan lê het sy op dieselfde vlak as die krap gekom en dís wat die foto karakter gee.

Linda-Mari sou nooit dieselfde effek kon kry deur die foto uit ’n staande posisie te neem nie

Dit voel nou asof ons by die krap aan huis is. (Gaan ons dalk binnegenooi word vir ’n koppie tee?) Die fokusdiepte versterk hierdie effek, want die fokus is nét op die krap se ogies (en so ’n halwe been wat aan die kant uitsteek).

Die agtergrond is uit fokus gegooi (Linda-Mari se lensopening was f4.8) en die krap – wat dieselfde kleur as die sand is – sal nie in die agtergrond “verdwyn” nie. Wat eet jy vir aandete, Krap? Oorskiet dalk?


Zelda van Staden

@zelda_zeee

Canon EOS 1300D

Canon 50 mm-lens

ZELDA SKRYF: Dit het als begin toe ek en my kêrel foto’s wou neem in ’n veld vol geel blommetjies. Ons het gedink die blommeseisoen is verby, maar ná ’n bietjie navorsing het ons besluit dat die Caledon-distrik dalk iets kan bied.

Ons het ’n vriendin, wat ’n danseres is, oorreed om vir ons model te speel vir die dag. Ná ’n hele rukkie se gesoek na ’n mooi stuk veld vol blomme het ons hierdie plek opgespoor. Ons het die vriendin gevra om in die veld te dans, maar dis natuurlik nie die maklikste ding om te doen nie.

Ek dink toe dat ’n kreatiewe oplossing sal wees om eerder haar voete in die lug af te neem. Iets ouliks wat mense sal laat glimlag – dit was my idee!

TOAST SÊ: Mense praat baie daarvan dat jy “uit die boks” moet dink, maar dis moeilik wanneer dit kom by fotografie. Ek weet ek val self gou terug in gevestigde gewoontes – ek neem nou al 25 jaar lank foto’s en doen dinge byna op refleks. Maar dan sit ek met foto’s wat dieselfde begin lyk.

Instagram is ’n puik app (maar pasop, dis verslawend!) waar jy ander fotograwe se werk van reg oor die wêreld kan volg. Soek inspirasie by ander mense wat nes jy probeer om hulle fotografie-vaardighede te verbeter.

Soms is jou “uit die boks” ’n ander ou se “doodgewoon,” maar sorg dat jy nie as fotograaf stagneer nie – of jy nou 14 of 64 jaar oud is... Zelda hét “uit die boks” gedink. Sy en haar kêrel het vooraf ’n visie met hulle foto-ekskursie gehad, maar hulle moes dit aanpas toe Plan A nie uitgewerk het nie. Plan B was toe beter!

Deur net op die persoon se voete te fokus word hierdie nou iets aweregs wat bo ander foto’s uitstaan. Almal neem iemand af in ’n see van blomme – maar wie neem net die voete af? Zelda! 


Clint Ralph

@clintralph_sa

Canon EOS 1DX Mk. II

Canon f4-600 mm-lens

CLINT VERTEL: Ek en ’n vriend was by ’n watergat in die Etosha- nasionale park en het opgelet dat ’n grootjagarend heen en weer vlieg. Ek sê toe vir my vriend ons moet ’n ogie op die arend hou, want dit lyk asof hy besig is om te jag.

My woorde was skaars koud of die arend duik af en vang hierdie duif. Alles was letterlik binne sekondes verby. Ek het skote gekry soos die arend ingekom, die duif gevang en weer weggevlieg het: 10 foto’s in een sekonde!

My woorde was skaars koud of die arend duik af en vang hierdie duif

Jy kan soms nie glo hoe vinnig dinge in die natuur gebeur nie...

TOAST SÊ: Jissie, Clint, wat ’n goeie aksiefoto! Kyk, dit help dat Clint die regte toerusting het (sy kamera én lens is van die beste wat jy kan kry), maar foto’s soos hierdie word nie net deur toerusting geneem nie.

Clint is ’n gesoute watergatsitter en kon met die eerste oogopslag sien die grootjagarend is waarskynlik hier om besigheid te doen. Hy was dus gereed.

’n Goeie natuurfotograaf moet ook ’n student van die natuur wees. Jy moet na die groter prentjie kyk. Hoekom raas die voëltjies in ’n spesifieke boom? Dalk is daar ’n slang of tierboskat verskuil.

Hoekom kyk al die rooibokke heeltyd sóóntoe? Dalk lê ’n luiperd laag in die lang gras. ’n Roofvoël soos die grootroofarend is nie iets wat vir kwaadgeld bo ’n watergat rondvlieg nie. As hy net kom drink of bad het, sou hy gekom en gegaan het.

Deur op die voël se gedrag te let kon Clint voorspel dat iets gaan gebeur. Dit het beteken dat hy slaggereed was vir die oomblik toe dit wél kom. ’n Puik foto, Clint!


Fred Keijzer

iPhone 7

TOAST SÊ: Fred is van Nederland en het hierdie mooi foto by Namibië se Visriviercanyon geneem. Hy het deelgeneem aan ’n fietstoer deur die omgewing.

Party landskapfotograwe hou nie van mense op hulle foto’s nie, maar ek dink dit werk goed hier. Dis ook meer as net ’n landskapfoto – dis ’n reisfoto.

’n Goeie reisfoto plaas die kyker dáár. Jy voel deel van die aksie. Deur die persoon op die rand van die afgrond af te neem slaag Fred daarin om jou te laat voel asof dit jý is wat so in die dieptes in aftuur.

Die teenwoordigheid van ’n mens bring ook ’n bietjie gevoel na die toneel. ’n Mens dink wye gedagtes by só ’n natuurwonder, en wanneer ek na Fred se foto kyk, is dit asof ek ook vir ’n oomblik dieper oor die lewe wil dink.

Die foto is ook suksesvol omdat Fred enkele basiese goedjies reg gedoen het. Die reël van derdes is gevolg, met die persoon wat sowat een derde van links in die raam staan. Hy kon die derdes verder gevoer en minder lug ingesluit het sodat die lug een derde van die raam uitmaak, en die landskap twee derdes (op die oomblik vul elk omtrent helfte van die raam).

Die persoon staan ook baie goed uit bo die horison, wat belangrik is as jy ’n sterk silhoeët soek.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

HOE? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za

Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za