Foto's: Sanette Jonker

Een van die voordele daarvan om in Port Elizabeth te bly is dat die Addo-olifant- nasionale park op jou voorstoep is. Vir my is dit net 30 minute se ry tot by die park se suidelike ingang. Ek gaan gereeld soontoe vir alleentyd en ook om my passie vir fotografie uit te leef.

In Augustus 2018 het ek gereël om Simnikiwe Nogaya, Addo se saamrygids, daar te kry. Die saamrygidsstelsel is wonderlik, want dit beteken jy het jou eie natuurkenner in die motor – dis asof jy op ’n private begeleide wildrit gaan.

Simnikiwe het my meegedeel dat twee jong leeus – ’n broer en suster genaamd Jack en Jill – laat die vorige middag ’n vlakvark by die Hapoordam gevang het. Ons het net ná 7 vm. daar aangekom en heel eerste ’n trop van sowat tien hiënas gesien. Toe sien ons ook dié twee jong leeus langs die pad lê.

Ek het ’n paar foto’s geneem van die leeus wat in ons rigting kyk, en ’n paar van die hiënas – hulle was aan ’t baklei oor ’n vlakvarkskedel. Daar was hiënas reg rondom ons – die meeste het ’n halwe sirkel om die leeus gevorm (1) terwyl ander in die dam geswem het (2). Die hiënas het roepgeluide gemaak, maar nie op hulle gewone manier nie; daar was iets vreemds aan die geluid.

Die volgende oomblik het ons ’n beweging heel agter in die bosse gesien – nog nege hiënas (3) het hulle by die ander aangesluit. Daar was nou 19 van hulle... die hiënas moet hulp ingeroep het!

My hart het tot in my skoene gesak. Ek het gewens die jong leeus is nie so alleen en weerloos nie.

Hulle was net twee jaar oud, en hulle ma is ’n maand voor dit dood nadat sy beseer is terwyl sy Jack en Jill teen ’n nuwe leeumannetjiekoalisie beskerm het.

Die hiënas het ’n kleiner sirkel om die leeus begin vorm (4). Op daardie oomblik het ek en Simnikiwe geweet ons gaan ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring hê. Ek het nie my selfoon naby gehad om video’s te neem nie. Ek het my Nikon D500 met Tamron 150-600 mm-lens en Nikon D7000 met Nikkor 18-55 mm-lens gebruik. Alles het so vinnig gebeur dat ek nie eens die regte verstellings op my kameras gebruik het nie.

Toe bars ’n algehele chaos los...

Die leeus was bewus van die situasie. Jack het opgestaan omdat hy kon aanvoel die hiënas is gereed om aan te val. Hy het hulle aanval voorgespring met een van sy eie, en die hiënas op sy linkerkant uitmekaar laat spat (5,6). Terselfdertyd het Jill haar broer se agterste flank beskerm met ’n paar lae stormlopies.

Daar was ’n luide gebrul en roepgeluide terwyl die twee groepe om die beurt aangeval en teruggeval het. Skaars 25 minute nadat ons by Hapoordam aangekom het, was alles verby.

Die meeste van die hiënas het begin retireer – hulle het besef hulle gaan nie dié ronde wen nie.

Jack en Jill het paraat in verskillende rigtings gekyk. Strale van die vroegoggendson het Jack gevang nes hy gegaap en gespog het met sy mooi tande (7). Toe het ek geweet hulle gaan oukei wees. Die hiënas het weer begin roep. Dié keer hulle gewone roep, die een wat ek ken en van hou, en binne sekondes het hulle almal weer verdwyn in dieselfde rigting as waaruit hulle verskyn het.

Meteens was die Hapoordam stil. Ek en Simnikiwe het mekaar ’n vatvyf gegee: Addo, jou lekker ding!

Sanette Jonker
Sanette Jonker

Port Elizabeth Ek was nog altyd dol op die natuur en wou van jongs af ’n bewaarder word. Die lewe het ’n ander loop geneem, maar ek het nooit my liefde vir die bos verloor nie.

In 2017 het ek my lewe goed bekyk. Ek het besluit om nie meer net te eet, slaap en werk (en herhaal) nie. Ek het my fotografie ernstiger opgeneem en meer begin geniet. Kort daarna het ek my eerste DSLR-kamera en -lense gekoop. Ek het nou weer ’n balans tussen my werklewe (ek is ’n sagtewarespesialis), sosiale lewe en “boslewe”. Soms gaan ek alleen bos toe, ander kere saam met my vriende.

Op die oomblik bring ek die meeste van my vrye tyd in die Addo-olifant- nasionale park deur, waar ek die wye verskeidenheid fauna en flora afneem en hopelik deur my foto’s meer mense bewus maak van dié wonderlike park.

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za