Ons het vir koffie gestop in die bos, en die rooibokke was naby; dus kon ons gaan ondersoek instel. Ek het gehoop ons sien ’n luiperd. Ons het vinnig in die voertuig gespring. Toe ons daar aankom, was die rooibokke baie gespanne en hulle het in ’n spesifieke rigting gekyk. Dit het my laat dink dat daar ’n roofdier in die omtrek is.

Ek het nader gery, maar ons kon niks sien nie, want die gras was baie lank. Ek het omgedraai om aan die ander kant te kyk toe iets blinks my oog vang. ’n Luislang het ’n rooibok gevang.

Die rooibok het nog geleef; hy het geskop en van die slang af probeer wegkom. Die gespartel het hom baie moeg gemaak, wat die slang in staat gestel het om ’n stewiger houvas te kry.

Foto: Mrisho Lugenge
Foto: Mrisho Lugenge
Foto: Mrisho Lugenge
Foto: Mrisho Lugenge

My gaste was verstom deur die skielike wending. Ek het darem ’n paar foto’s geneem. Skielik het ons aasvoëls in die lug bo ons gesien. Hulle het in ’n boom naby die toneel geland wat die aandag van ’n maanhaar getrek het. Die luislang het padgegee toe hy die leeu sien en eerder sy lewe bo sy vangs gekies.

Foto: Mrisho Lugenge
Foto: Mrisho Lugenge
Foto: Mrisho Lugenge
Foto: Mrisho Lugenge

Die leeu het blitsvinnig beweeg, die rooibok gegryp en na ’n skadukol gedra... ’n lekker gratis middagete!

Dis die eerste keer dat ek so iets sien, en ek twyfel of dit weer sal gebeur. Ek was bevoorreg.

Mrisho Lugenge

Ek is oorspronklik van Iringa in Tanzanië, en werk al drie jaar by Londolozi. My werk is lekker, want daar is elke dag iets om na uit te sien. Geen twee wildritte is ooit dieselfde nie. Ek leer elke dag nuwe dinge. Ek leer oor die diere, oor myself en oor ander mense.

Londolozi is ’n fantastiese plek om verskeie dierespesies te sien, want hier is verskillende soorte habitatte.

Die voertuig kan die pad verlaat en in die veld ry; dus maak dit nie saak watse soort kamera en lens jy gebruik nie – ’n goeie foto is gewaarborg.

Instagram: @mrisholuge

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za