Johan Jansen van Vuuren skryf:

Ek en my vrou, Leoni, het die eerste week van 2020 in die Kruger se Satara-ruskamp deurgebring. Laatmiddag op 2 Januarie het ons na die Ngotso-gebied (noord van Satara, in die rigting van Olifants) gery aangesien dit bekend is vir luiperds sien.

Volgens ons inligting was daar ’n mannetjie, wyfie én jonge in die gebied. Blouwildebeeste het in Desember begin kalf en dus was daar g’n tekort aan prooi nie.

Ons het die jong luiperd opgespoor en dopgehou hoe sy probeer om ’n wildebeeskalf te vang. Die wyfie was onder die pad in ’n dreineringspyp waar sy gerus het. Die mannetjie was blykbaar ook in die omgewing, maar ons het hom nie gesien nie. Die kalf het onder ’n boom gelê, ongeveer 200 m van die jong luiperd af. Dit was op die S147, ’n nuwerige eenrigting-grondpad wat van die H1-4-hoofteerpad af draai.

Die jonge het die kalf bekruip. Die kalfie het egter nie weggehardloop nie, en die luiperd het sowat 3 m verder gaan lê en die kalf dopgehou. Die twee het mekaar vir ’n rukkie net beloer.

Ek kon ongelukkig nie ’n duidelike foto hiervan kry nie. Dit was toe tyd vir ry om betyds terug te wees in die kamp en ek kon ongelukkig nie die einde van die episode sien nie.

Die volgende oggend is ons vroeg weer na dieselfde omgewing. ’n Wildebeeskalfkarkas het in ’n groot appelblaarboom gehang. Ons het vermoed dis die kalf van die vorige dag. Die luiperdmannetjie was ook in die boom, maar van die jonge en die wyfie was daar geen teken nie.

Omtrent ’n uur en ’n half nadat ons opgedaag het, het ’n trop blouwildebeeste met kalwers by ’n watergat in die spruit kom drink. Die mannetjie is dadelik uit die boom en die blouwildebeeste het uit die ruigtes begin bekruip. Oomblikke later was dit net wildebeeste wat spat! Ná omtrent vyf minute kom die luiperd uit die bosse gestap met ’n kalfie in die bek.

By die boom gekom, het hy eers gestop om te rus en dra toe met brute krag die karkas teen die boom op. Daar hang hy sy prooi veilig in ’n mik.

Johan Janse van Vuuren
Foto: Johan Janse van Vuuren
Johan Janse van Vuuren
Foto: Johan Janse van Vuuren
Johan Janse van Vuuren
Foto: Johan Janse van Vuuren
Johan Janse van Vuuren
Foto: Johan Janse van Vuuren

Skaars ’n uur later is dit weer sulke tyd: Die wildebeeste kom drink, en die mannetjie vang nóg ’n kalf. Dié word onder ’n digte bos langs die pad ingetrek.

Teen 11 vm. ry ons terug kamp toe en los ’n hele klomp mense met lang lense by die sighting. Toe ons na middagete weer soontoe ry, het daar drie kalfkarkasse in die boom gehang!

’n Paar dae later was ons weer in die omgewing en gesien hoe een leeuwyfie binne twee uur twee wildebeeskalfies én ’n rooibokram vang. Ongelukkig kon ons nie foto’s hiervan kry nie, want dit was aan die ander kant van die spruit waar ons motor geparkeer was. Alles het blitsvinnig gebeur.

Ons gaan gereeld wildtuin toe, maar hierdie sightings was vir ons buitengewoon. Dit was een van ons beste besoeke nóg!


Johan en Leoni Janse van Vuuren, Polokwane: Ons is nie lief vir die kus en sy winde nie. Vir vakansie hou ons van die bos se rustigheid, die dieretonele en die naggeluide. Die Kruger bied dít alles én ons kry die kans om ons stokperdjie – fotografie – uit te leef. As jy dan boonop elke dag met ’n braai kan afsluit én dalk ’n leeu in die verte hoor brul, is dit die kersie op die koek!

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.