Vat die spoor!

’n Mens dra gewoonlik jou selfoon by jou, maar dis nie altyd vir bel nie, sê Rentia Lombard van Pretoria.

“Ons het vir ons vierde huweliksherdenking ’n vakansie in die KwaZulu-Natalse kus gaan geniet en sommer ook my man, Jaco, se verjaardag gevier. Jaco wou gaan kyk of hy ’n vis kan uittrek en ons is strand toe waar hy ingegooi het. Ek het sy spore in die sand gesien en besef dit sal ’n mooi foto maak.”

Foto’s van voetspore op die strand is niks nuuts nie, maar die uitdaging is eerder om dit só af te neem dat dit ’n mens se aandag opnuut trek. Hier slaag Rentia met lof, want haar eenvoudige en slimgeplaaste detail sorg vir ’n wenfoto.

Die enkele voetspoor voor in die raampie is heelwat groter as die ander spore, en buiten dat dit die eerste spoor op die foto is – en boonop in die middel – beslaan dié spoor en sy direkte negatiewe spasie amper die helfte van die hele beeld. Dit is dus die fokuspunt van die foto, en as ’n mens nader kyk, is dit propvol fyner detail.

By die eerste spoor kan ’n mens sien hoe ’n paar los sandkorrels voor die spoor lê, en ’n mens weet dis sand wat Jaco opgeskop het toe hy die volgende tree gegee het. Dit gee die foto lewe.

Wanneer ’n mens verder van die foto af staan, sien jy Jaco se figuur eerste raak. Dis wanneer jy nader kom dat die spore oorneem en jou neem tot by sy arm wat hy krom hou. As jy dan nóg nader kyk, sien jy die visstok se punt.

’n Volgende pluspunt is dat die foto van die voorste sandkorreltjie af tot by die horison skerp is. Gewoonlik sal die skewe horison steurend wees, maar al die ander elemente op die foto is sterk genoeg dat ’n mens dit oorsien.


iPhone SE; 4,15 mm (29 mm in 35 mm-formaat); 1/1 1250ste van ’n sekonde; f2,2; ISO 50

Blaargeraamte

Grassny is nie net om die gras in toom te hou nie, sê Peter Wille van Witrivier, wat inderhaas na sy foon gegryp het.

“Ek was besig om gras te sny toe ’n halfverrotte blaar my oog tref. ’n Oranjerooierige liewenheersbesie het op die een kant gesit en die lig op die blaar was van só ’n aard dat ’n mens hom duidelik kon sien. Ek het net my ou iPhone by my gehad en ’n foto geneem. Ek het die finale foto op my skootrekenaar gesny soos ek daarvan hou.”

Net soos met Rentia se foto het die foto detail wat ’n mens se oog ’n hele ruk lank besig hou. Uiteraard is die rooi besie die fokuspunt, en saam met die groen die anker van die samestelling.

Maar die foto sou nie tot sy reg kon kom sonder die res van die detail nie. Al is die besie die fokuspunt, haak ’n mens se oog nie hier vas nie. Die oorblyfsels van die blaar met sy ingewikkelde patrone trek vinnig jou aandag en laat ’n mens dink aan ’n padnetwerk op ’n landkaart.


Nikon D3300; 200 mm-lens; 1/400ste van ’n sekonde; f5,6; ISO 3 200

Die aap is uit die mou

Die een manier om naby aan wilde diere te kom is deur jou lang lens, soos Laura Beukes van Thabazimbi kan getuig.

“Ons het vir die dag in die bos gaan stap en teen skemer het twee nagapies voor ons in die takke begin speel. Dis toe dat ek sien regs van ons is twee ander apies op ’n boomstomp. Ek het hulle afgeneem, maar die flits van die kamera het hulle oë rooi gemaak op die foto. Ek het die flits afgesit en gelukkig het een apie bly sit vir my foto.”

’n Vierkantige foto met die fokuspunt in die middel – soos Laura s’n – kan maklik vir ’n vervelige foto sorg. Laura versteur egter die vervelige elemente met die skuins takke links agter en regs voor op die foto.

Dit is dít wat subtiel jou aandag trek voor jy die twee ogies raaksien. Die regterkantse tak is ’n ent voor die boomstomp en uit fokus – dit laat jou voel of jy ook vir die apie loer.

Die apie kyk ’n mens stip in die oë en jy sien sy een pootjie wat vasklou aan die boom... en dan sien jy ook dat hy effens skuins in die holte van die boom sit. Dit gee die foto weer ’n effense ongemak – nét wat jy nodig het om dié oulike toneel te waardeer.

Stuur jou foto vir ons ... en ons plaas dit dalk hier.

Enige foto’s is welkom: van modderbesmeerde kinders in die kampplek, ’n kleurryke toneel van ’n straatsmous se handdoeke tot ’n eensame vetplantjie in die woestyn.

Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, as dit in jou familiealbum pas, is die saak reg.

  • Rentia Lombard wen ’n Camp Cover-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk!

Stuur jou foto’s en besonderhede na  leon.botha@media24.com