1. Verander jou perspektief

Probeer om ’n ander perspektief te kry. Hoogte werk goed om ’n veld vol blomme  te wys. As daar nie ’n heuwel naby is om maklik hoogte te kry nie, wees kreatief en staan op ’n boomstomp, stoel of enigiets wat jou ’n bietjie hoogte kan gee. Ek het al ’n keer of wat op ’n motor gestaan!

Om van oogvlak af foto’s te neem, en die meeste mense te só – hoekom probeer jy iets anders nie? Lê op die grond en sit die foto’s teen die agtergrond van ’n helder blou lug om dit mooi te laat uitstaan. 

2. Gebruik beligtingskompensasie 

Onder- of oorbelig jou foto’s met die “exposure compensation”-knoppie. Om wit blomme teen ’n donkerder agtergrond aft e neem en met een stop te onderverlig, sal die foto’s selfs nog meer laat uitstaan.

3. Kom lekker naby

As jou kamera ’n makroverstelling het, probeer dit gebruik vir ’n paar nabyfoto’s. Outofokus is ’n goeie hulpmiddel, maar probeer ook om self (“manual”) te fokus as jy ’n nabyfoto neem. 

4. Speel met die son

Skep ’n “starburst”-effek deur die foto te neem met die son agter die blom. Jou kamera sal aan die grond moet raak vir hierdie foto – dis tyd om ’n bietjie vuil te word!

Speel met verskillende hoeke, beweeg jou kamera rond en sien watter uitwerking die son op jou foto het. Lensfraksie kan ook goed werk as dit kreatief gebruik word. 

5. Hoe eenvoudiger hoe beter

Kies ’n blom en probeer dit isoleer. Jy kan jou lensopeniing so wyd as moontlik stel (f2.8/f4.5): Dit sal die agtergrond verdof en die kollig mooi op jou onderwerp plaas. As jy nie ’n goeie lensopening kan kry nie, probeer om jou ISO tot 100 te verlaag.

Stel jou kamera op AV- of A-modus en neem ’n foto op die laagste syfer (wydste lensopening) en dan op die hoogste syfer (kleinste lensopening) en vergelyk die twee wanneer jy weer by jou rekenaar is. Die foto’s wat met die laer syfers soos f5.6 geneem is, behoort ’n dowwer agtergrond te hê as dié wat met f22 geneem is. 

Geniet dit en onthou om nie in beskermde gebiede te loop nie!

Shelley Christians