Misgesig

Samsung Note 7; 4,3mm (28mm in ’n 35m-kamera); 1/13 van ’n sekonde; f1,9; ISO 1000

Of hy nou by die huis is, of met vakansie teen die Choberivier in Botswana, Roy Moore van Grabouw maak altyd seker hy is voor die hoenders uit die vere.

“Ons het by die Thebe-rivierlodge in Kasane tuisgegaan, en hierdie foto het ek vroegoggend geneem terwyl die mis nog oor die Chobe hang. Die waters lyk soos een groot stoombad, en al lyk die natuur en omgewing stil, hoor ’n mens die seekoeie in die verte. Die donker water en die mis gee my siel stilte en kalmte; dit maak my tevrede en gee my ook ’n dankbaarheid in my binneste.”

’n Mens kan die foto nie beter beskryf as Roy self nie. Jy ervaar alles net so – jy kan selfs as ’t ware daai seekoeie hoor.

In die ouer dae, die dae van film, was dié soort foto nie sommer moontlik nie, veral vir amateurs. Jy sou nie spesiaal ’n 1 000 ISO-filmrolletjie saam met jou dra om so ’n foto te neem nie. Hoe hoër die ISO, hoe meer ligsensitief is dit; jy kan dus foto’s in swakker lig neem.

Sedert die digitale tegnologie fotografie oorgeneem het, was die ISO vir fotograwe een van die grootste spronge vorentoe. ’n Foto met ’n 1 000 ISO-film wys heelwat grein (die fyn spikkels op die foto), terwyl dit met die digitale era vir dié soort lesing bykans heeltemal verdwyn.

Vandag se selfoonkameras is wat flou lig betref, uitstekend en gee ’n mens die kans om bykans alles af te neem wat jy kan sien.

Kyk ’n mens na die foto se komposisie, kan dit skaars beter, want al die elemente balanseer netjies. Maar skaal help wanneer ’n mens iets groots (soos die boot op die water) afneem. Was dit nie vir die stoele nie, sou ’n mens nooit die grootte van die boot kon skat nie.

Die figuur van ’n mens is een van die beste oplossings hiervoor, maar as Roy nog vir iemand moes wag, was die stilte versteur en die mis daarmee heen.


As jy die reëls rég verbreek

iPhone 7 Plus; 3,99 mm (28mm in ’n 35mm-kamera); 1/1 400 van ’n sekonde; f1,8; ISO 20

Die Krugerwildtuin is nie net vir Groot Vyf kyk nie. Vra maar vir Corrie Calitz van Ballito, wat dié besonderse foto geneem het terwyl hy en sy vrou skemerkelkies geniet het.

“Ek het hierdie foto by die Sunsetdam naby Onder-Sabie in die Kruger geneem. Alles was doodstil en daar was geen wind nie. Ek en my vrou, Cornelia, het besluit om die dag met ’n skemerkelkie af te sluit toe ’n nimmersat heel rustig kom en in die water kos soek.

Ek het die foto in swart-en-wit geneem om die kontras tussen die wolke en die voël uit te lig. Ek het die weerkaatsing van die boom met die neste ook probeer vasvang.”

’n Goeie foto bestaan meestal uit eenvoudige elemente en het ook ’n spesifieke fokuspunt. Corrie slaag in die eerste geval, maar sy foto het twéé fokuspunte: Die nimmersat en die boom. Dis ’n geval van die reëls wat verbreek word.

Al spring ’n mens se oog van die een na die ander, is daar niks anders wat jou aandag van die twee punte aflei nie. Trouens, terwyl die boom bloot ’n silhoeët is, kan ’n mens van die detail rondom die nimmersat sien.

Jou oog loer dus ’n bietjie langer hier rond terwyl jy sy oop bek in die water – én sy weerkaatsing – sien.

Corrie breek nóg reël, en dit is om die horison presies in die middel van die foto te plaas. Boonop staan die boom soos ’n anker in die middel van die foto (en die horison), maar die slim plasing van die voël in die raam versteur al hierdie ewewigelemente, wat dit eerder omswaai in goeie komposisie.

Niks van dié elemente kan saam werk vir ’n goeie foto as daar nie ook groot oop ruimtes – op hierdie foto die lug en die dam – is nie. Hierdie ruimtes, die sogenaamde negatiewe spasie, balanseer 100% met die voël en die boom. Goeie foto!


Ligkristalle

Huawei P10 Lite; 3,83mm (26mm op ’n 35mm-kamera); 1/9 000 van ’n sekonde; f2,2; ISO 50

’n Mens moet altyd jou oë oophou vir ’n moontlike goeie foto. Dís presies wat die gr. 10-leerder Kobus van Eck van Hopetown gedoen het terwyl hy op pad was skool toe.

“Dit het die aand saggies gereën en die volgende oggend was ons weer op pad skool toe. Ek kyk na die bakkie se ruit langs my en sien die druppels op die venster kan ’n mooi foto maak. Dis toe dat ek my ma, Jacqueline, vra om stil te hou sodat ek die foto kan neem. Vir my versinnebeeld die foto die verligting en geluk wat reën bring.”

Dié foto van Kobus is ’n tipiese voorbeeld van ’n abstrakte foto, maar nie soveel dat jy nie mooi weet waarna jy kyk nie. Dis juis die geheim: om dít waarna jy kyk te herken.

Dit geld vir die druppels op die ruit, maar jy het ook nie veel leidrade nodig om te besef dis die son wat opkom op die horison nie. As jy die foto van nader bekyk, het elkeen van die druppeltjies ’n eie wêreld binne hulle – en dié wissel van die donkerder deeltjies op die foto tot by die son wat die druppels laat “verdamp”. Al kan ’n mens dus baie van die detail op die foto geniet, leun dit oor na ’n kunswerk.

Al die kleure en tekstuur op die foto werk mooi saam en skep ’n prentjie waarna jy weer en weer wil kyk.

STUUR JOU FOTO
Jou foto kan met enige kamera geneem wees – van gróót kameras regdeur tot jou selfoon. Corrie Caltiz wen ’n Camp Cover-kamerasak ter waarde van R595 met sy foto – veels geluk! Stuur jou foto’s en besonderhede na leon.botha@media24.com