Dit was langs die boonste Duinepad (wat die Nossob- en Auobrivierbedding van wes na oos oor die duineveld verbind) nie ver van Vaalpan af nie.

Ons het eers die twee jakkalse gesien, en dit lyk toe asof hulle iets agtervolg. Ons het gestop om fyner te kyk en sien toe dat hulle ’n ratel volg , wat kort daarna blyk twéé ratels te wees .

Met my eie oë
Foto's: Anton en Shelli Campbell-Harris

Saam met die jakkalse was daar ook ’n jong bleeksingvalk.

Met my eie oë
Foto's: Anton en Shelli Campbell-Harris

Die ratels sou stop en grawe, met die jakkalse en bleeksingvalk wat skynbaar wag om te kyk of moontlike prooi sou skrik en uit die bossies verskyn.

Ons het lank dopgehou hoe die groepie stelselmatig deur die duine beweeg – ongelukkig kon ons nie altyd sien wat hulle doen nie omdat hulle plek-plek agter struike was. Ons was verstom – sou dit unieke gedrag wees?

Maar toe, vyf dae later, op dieselfde pad maar hierdie keer nader aan die Kamqua-piekniekplek, sien ons wéér ’n ratel met twee jakkalse. Toe wonder ons – sou dit meer as gereeld gebeur, en kon dit dieselfde groepie wees wat weer “saamwerk”?

Met my eie oë
Foto's: Anton en Shelli Campbell-Harris
Met my eie oë
Foto's: Anton en Shelli Campbell-Harris
Met my eie oë
Foto's: Anton en Shelli Campbell-Harris

WAT SÊ ’N KENNER?

Lukas Niemand, ekoloog: Dié interaksie tussen ratels, jakkalse en bleeksingvalke is nie ongewoon nie. Daar is heelwat aangetekende gevalle waar bleeksingvalke roofdiere soos ratels en jakkalse op hulle jagsessies volg.

Die idee is dat die ratels kleiner soogdiere en insekte sal verjaag en hopelik het die singvalk sodoende ’n beter geleentheid om prooi te vang wat wegvlug van die roofdiere af.

Hoewel die interaksie dui op slim, opportunistiese gedrag, is dit wel aangeleerde gedrag – die singvalk moet in die verlede per toeval geleer het dat dit voordelig kan wees om roofdiere te volg op hulle ekskursies.

Ratels is uitnemende grawers, wat dit weer moontlik maak om ’n onbereikbare bron van voedsel (soos termiete) vir ander diere toeganklik te maak.

Shelli en Anton Campbell-Harris, Somerset-Wes

Ons het maar ’n paar jaar gelede die eerste keer die Kgalagadi besoek, maar sedertdien gaan ons twee of drie keer per jaar, en bly gewoonlik ’n week op ’n slag. Ons is nogal spyt dat ons nie al lankal die park besoek het nie, maar ongelukkig het ’n mens net soveel dae verlof per jaar... Die uitgestrektheid van die park – en die feit dat dit so afgesonder is – maak dit besonders.

Saans skyn die Melkweg só helder – niks klop dit nie. Vroegoggend is baie spesiaal as jy dalk wakker word met ’n leeu wat brul, of die jakkalse wat jodel. Daar is oral fotogeleenthede, van die mooi landskappe, tot voëls (veral roofvoëls), die majestueuse leeus, die opwinding van ’n jagluiperd op volle spoed, die oulike meerkatte, bakoortjie-besigheid – hoe meer jy kyk, hoe meer sal jy raaksien in hierdie dor wêreld.

Ons raad is: As jy nog nie in die Kgalagadi was nie, bespreek dadelik – jy gaan nie spyt wees nie!