Kameraskud gebeur wanneer effense kamerabeweging ’n dowwe (“blurry”) foto veroorsaak. Dis ’n algemene probleem maar redelik maklik om reg te stel. 

As jou foto’s effe buite fokus is, of “sag”, soos die fotograwe sê, word dit dalk deur kameraskud veroorsaak. Dit gebeur wanneer jy die kamera per ongeluk beweeg terwyl jy die sluiterknoppie druk – die beweging veroorsaak die “blur”.

Kameraskud kom veral voor wanneer daar min lig is, soos vroegoggend of teen skemer, en dit gebeur gewoonlik omdat die sluiterspoed wat jy gekies het, te stadig is vir wanneer jy die kamera met die hand vashou. 

Die maklikste manier om kameraskud te voorkom, is om ’n flits te gebruik vir meer lig, of ’n driepoot om jou kamera te stabiliseer. Maar ’n flits kan ’n foto dikwels koud laat lyk en dis nie altyd moontlik om ’n driepoot saam te piekel nie. Wat anders is daar wat jy kan doen?

Maak jou sluiterspoed vinniger

Jip, dis tyd om die Auto-modus te groet. In die algemeen benodig jy ’n sluiterspoed wat vinniger is as 1/60ste van ’n sekonde as jy die kamera in jou hand vashou. (As jy bewerige hande het of pas jou vierde koppie koffie gedrink het, moet dit selfs nog vinniger wees.) Stel jou kamera op die sluiterspoed-voorkeurmodus (“S” op ’n Nikon; “Tv” op ’n Canon) en maak die sluiterspoed vinniger. Jou kamera sal die lensopening en ISO dienooreenkomstig aanpas. 

Verhoog die ISO

Nog ’n opsie is om die ISO te verhoog – dit verwys na hoe sensitief jou kamerasensor vir lig is. Die meeste moderne langlenskameras kan foto’s neem teen ISO-spoede van 1 600 en hoër. ’n Goeie verstelling om te gebruik is die lensopeningvoorkeurmodus (“A” op ’n Nikon; “Av” op ’n Canon). Stel jou lensopening so wyd as moontlik (Onthou: wye lensopening = lae syfer, soos f2 of f 3,5) en stel jou ISO op 1 000 of hoër. Dit beteken jy het die lens oopgemaak om soveel lig moontlik binne te laat en jou kamera so sensitief moontlik vir daai lig gemaak. Jy sal sien jou sluiterspoed is baie vinniger as ’n resultaat hiervan. 

Word self ’n driepoot 

Die laaste manier waarop jy kameraskud kan voorkom is om net bewus te wees daarvan. Staan met jou bene wyd uit mekaar wanneer jy ’n foto neem en hou jou elmboë styf teen jou lyf. Asem in en druk dan die knoppie terwyl jy uitasem. Hierdie eenvoudige truuks help om jou kamera so stabiel moontlik te hou wanneer jy die knoppie druk. As die lig regtig min is, leun teen ’n boom of ’n muur, of lê plat en stut jou elmboë op die grond. 



Skryf in vir ons aanlyn-fotokursus

Skryf hier in

Wil jy weet wat elke knoppie op die kamera beteken, en soek jy nóg wenke?

Ons is almal mal oor mooi foto’s, maar het nie noodwendig ure se tyd om daai dik kamera-handleiding te probeer ontsyfer nie.

Weg bied al ’n paar jaar lank fotografieslypskole reg oor die land aan, waar lesers by een van ons kenners leer hoe om hulle eie kameras beter te verstaan en beter foto’s te neem.

Met dié aanlyn-fotokursus wil ons dit vir amateurfotograwe nóg makliker beter foto's te leer neem. Nou hoef jy nêrens heen te reis nie, jy kan die lesse in jou eie huis (en teen jou eie pas!) onder die knie kry én dis heelwat goedkoper as om ’n slypskool by te woon.

Koste: R950 (eenmalig) 

Lees meer hier