Graskoppie

Reën is skaars op Sutherland. Ons was seker so ’n jaar op die dorp toe dié donker wolke oortrek. Ek en my dogter, Xanté, was op pad winkel toe, en toe ek by die stopstraat stilhou en kant toe kyk, het die windpomp se blink lemme my oog getref. Ek het my foon uitgekry, die lens afgevee en begin foto’s neem.”

Die slim komposisie trek dadelik ’n mens se aandag, en buiten dat die windpomp se lemme duidelik uitstaan, lei die komposisielyne jou oog tot by die fokuspunt: Die drie boomtoppe links van die windpomp vorm ’n diagonale lyn tot by die lemme; die gras (wat yl regs begin) loop in die rigting van die windpomp; en die donker bossies op die voorgrond lyk of dit so gepak is om jou aandag tot by die windpomp te lei.

Hierdie drie elemente werk goed saam terwyl die donker wolke in die agtergrond die helder voorgrond laat uitstaan.

Die wolke verleen boonop aan die foto ’n dramatiese gevoel.

Die foto het nie regtig veel kleur nie. Indien jy dit dus na swart-en-wit verander, kry dit selfs groter trefkrag. En as jy dan die kontras verhoog, voel dit of daar enige oomblik ’n donderstorm gaan losbars.

Omdat die gras nou die ligste element op die foto is, trek dit eerste jou aandag – en dit word saam met die windpomp die fokuspunt. Die gras herinner ’n mens aan swart-en-wit weergawes van infrarooi foto’s waar alles wat fotosinteer, wit vertoon.

Die bousel op die agtergrond is effens steurend, maar die foto bly nietemin ’n wenner.

Ysland

Op 11 Junie vanjaar was alles spierwit buite. Ek wou uitgaan om foto’s van my kar te neem wat toe was onder die sneeu, maar by die hek sien ek toe ek is behoorlik ingegrendel. Ek moes dadelik ’n foto neem om te wys hoe koud dit is, want ek moes die ysige slot met my vingers oopkry. Daardie oggend was dit -5 °C op Sutherland.”

Niks gee beter bewys van die werklikheid as ’n foto nie, en dit geld ook vir dié een wat Chantél geneem het. Maar buiten die ooglopende waarde daarvan sorg dit ook vir ’n interessante foto. Omdat die kar in die agtergrond is, voel dit of ’n mens self agter die hekkie staan.

Dit verleen dus diepte aan die foto, maar omdat die fokusvlak ook op die hekkie is, is die kar effens uit fokus. Daarom meng die sterk lyne van die voertuig nie in met die voorgrond nie en ’n mens weet dadelik waar om te kyk.

Die vorm van die ryding is duidelik genoeg dat jy weet waarna jy kyk. Die foto het basies geen kleur nie, maar danksy die lig van agter sien ’n mens meer detail op die foto – dinge soos die ys op die drade regs en op die ogiesdraad in die hekkie.

Laaste lig

Die foto is tipies Sutherland in die winter. Wanneer dit so koud is met die oop hemelruim, sien ’n mens net sterre. Dan is min dinge so lekker as om ’n groot vuur te maak. Hierdie is vir ons ’n stukkie van die hemel in Suid-Afrika.”

Hierdie is ’n merkwaardige foto, veral op ’n tegniese vlak. Hier is twee ligbronne: Die vuur en dan die laaste bietjie lig van die sonsondergang.

Om hierdie twee in een foto te balanseer is nie maklik nie, veral met ’n kamera waarop jy self die verstellings moet kies. Hierdie is dus ’n goeie voorbeeld van hoe goed selfone se ligmeters moeilike ligomstandighede hanteer.

En dan sien ’n mens selfs ’n ster of twee asook die warm asgedeeltes van die vuur wat die lug intrek.

Die foto bestaan uit twee dele: die vuur en die agtergrond. Hoewel hulle los van mekaar staan, maak dit saam ’n mooi foto.

Die vuur se vlamme wat boontoe lek, trek jou aandag saam boontoe, waar jy die duidelike buitelyne van die watertenk en windpomp herken. Die geboë naggedeelte bring dan jou aandag terug na die foto.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier.

Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie; net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas.

Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie. CHANTÉLFOURIE wen ’n Ry & Sleep-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk! Stuur jou foto’s na  leon.botha@media24.com


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook