JOHAN VERMAAK van Somerset-Wes skryf:

Ons het op dié toneel afgekom by die Sunsetdam naby die Onder-Sabie-ruskamp in die Krugerwildtuin. Eers het dit gelyk asof die krokodil ’n kleintjie in sy bek vashou, maar toe hy omdraai, sien ons die agterlyf is weggevreet.

Ek het nog nooit so iets gesien nie. Is dit normaal dat krokodille mekaar vreet?

Die reptielkenner NICK EVANS antwoord:

Wat ’n gelukskoot! Dis voorwaar nie iets wat ’n mens gereeld sien nie. Dit is bekend dat krokodille ander krokodille sal vreet, veral kleineres. Hulle is kannibale.

Dis moeilik om presies te weet wat hier gebeur het, maar ek vermoed die krokodil probeer sy prooi wegkry van ander krokodille af. Die krokodil het waarskynlik die kleiner een in die water doodgemaak en toe wil die ander krokodille saam vreet, sonder dat hulle genooi is.

Daar was waarskynlik ‘n toutrekkery waarna die krokodil die water verlaat het om in vrede te kan vreet.


Lees nog vrae en antwoorde uit ons Julie-uitgawe hier.