JOHAN HAMMAN van Middelburg skryf:

Ek en my vrou, Marita, het ’n uur lank dié petalje aanskou by die laagwaterbrug naby die Onder-Sabie-ruskamp in die Kruger. ’n Krokodil het die sebra gevang en versuip.

Twee van die seekoeie het die sebra met hulle bekke na vlakker water gestoot en toe probeer om hom op te lig. Hulle het versigtig gebyt en het geensins die vel beskadig nie. Ná ’n ruk het hulle opgegee en na dieper water beweeg.

Toe die seekoeie padgee, het die babers dadelik aan die agterstewe begin vreet. Die krokodil het vinnig maar slu nader beweeg.

Twee van die seekoeie het die sebra met hulle bekke na vlakker water gestoot en toe probeer om hom op te lig.

Toe die seekoeie die krokodil gewaar, het een op hom afgepyl. Die krokodil het eenkant gaan wag. Weer is probeer om die sebra op te help. Ons het later gery om plek te maak vir ander nuuskieriges. Ons is die volgende dag terug – maar daar was niks oor van die karkas nie.

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Ons kan natuurlik nie presies weet wat in ’n dier se kop aangaan nie, maar ongelukkig is diere nie vreeslik altruïsties nie. Die seekoei probeer waarskynlik om die sebra te byt!

Seekoeie het indrukwekkende tande, maar dis nie ontwerp om vleis te skeur nie. Nietemin is dit al goed aangeteken dat seekoeie van karkasse af sal aas. Daar is selfs gevalle waar seekoeie diere doodmaak en vreet, karkasse van leeus steel én van kannibalisme.

Hulle jaag ook waarskynlik die krokodil weg om hulle vleisbron te beskerm en nie om die sebra se onthalwe nie. Dis onseker waarom hulle soms vleis vreet bo en behalwe hulle grasdieet.

Daar word vermoed dat kosskaarste gedurende ’n droogte of mineraaltekorte, veral yster, ’n rol kan speel, óf dis bloot opportunistiese gedrag om proteïen aan te vul.