Onthou die akroniem “B.O.K.S.” 

1. Banddruk: 

Wanneer jy grondpad ry, is dit belangrik om jou voertuig se banddruk te verlaag. Daar is twee redes daarvoor. Eerstens gee dit jou ’n gemakliker rit oor sinkplaatpad en tweedens gee die langer kontakarea van die sagter band jou beter bandgreep. Dit sal jou help om nie net vinniger te rem nie, maar ook sodat jou voertuig meer greep om draaie en sinkplaatpaaie het.

Hoe laag is laer? As jou voertuig leeg is en die handleiding sê 2,2 bar, stel ons so 1,8 bar voor, m.a.w. omtrent 20% sagter as normaal. Jy kan hierdie beginsel toepas ongeag die gewig van jou vrag.

2. Oppervlak: 

Anders as ’n teerpad, verander die oppervlak van ’n grondpad voortdurend. Wat nou hard en plat is, kan binne ’n paar sekondes verander in iets met slaggate of los gruis met baie min bandgreep. Kombineer dit met ’n pad met ’n effense skuinste na die kante – wat al hoe skuinser raak hoe nader jy aan die rand beweeg – en jy het eintlik ’n smal stuk pad waarop jy veilig kan ry. As jy te ver na die kant toe beweeg en oorkorrigeer, kan jou voertuig gly of rol.

Onthou ook dat jou voertuig baie anders op harde grondpaaie sal hanteer as in diep sand op dik gruis. Wanneer die oppervlak dus skielik verander moet jy daarop bedag wees.

Terwyl jy bestuur moet jy ook voortdurend die pad voor jou dophou vir skerp klippe en ander gevare. Menige reisiger het al ’n pap wiel (of nog erger, twee pap wiele) vrygespring omdat hy of sy betyds ’n baie skerp klip of ander voorwerp in die pad raakgesien het.

3. Konsentrasie: 

Hierdie kan nie genoeg beklemtoon word nie. As jy nie heeltyd op die padoppervlak en omstandighede konsentreer nie, kan jy die beste voertuig met die beste bande teen die regte banddruk ry, maar as jy jou oë uitvee, gaan jy weldra deur ’n baie skerp draai of ander verrassing gekonfronteer word.

Boonop is die kanse dat jy vee of wilde diere op grondpaaie gaan teëkom, ook baie groot. Maak ook seker dat jy oor blinde hoogtes en in dik stof links op die pad hou. Baie mense is geneig om in die middel van ’n grondpad te ry, ongeag die omstandighede. Al wat nodig is vir ’n tragiese ongeluk is twee mense met daardie gewoonte om op dieselfde tyd op die selfde stuk pad te ry.

So los uit die karradio, selfoon en vra eerder een van die passasiers om jou gekookte eier vir jou te skil as jy agter die stuur is. Jou job is om die pad voor jou met valkoë dop te hou.

4. Spoed: 

Daar is ’n baie goeie rede waarom die amptelike snelheidsperk op ons grondpaaie 80 km/h is. Die minder greep wat bande op grondpaaie het, lei tot langer remafstande en minder beheer oor jou voertuig. 

Moderne 4x4’s is baie kragtig en luuks en heelwat bestuurders kry ’n vals gevoel van sekerheid agter die stuurwiel. Onthou ook dat jou volgelaaide ryding heeltemal anders hanteer as ’n leë een op ’n snelweg naby die huis. 

Onthou ook om seker te maak dat jou hoofligte aan is sodat aankomende verkeer en voetgangers jou kan sien, veral as daar stof van ander voertuie is. En onthou ook om hoflikheidshalwe effens stadiger te ry as ’n ander voertuig van voor af kom. Sodoende maak jy nie net minder stof nie, maar die kanse is ook kleiner dat jou voertuig se bande ’n klip sal opskiet wat sy voorruit kan kraak.

Wenk: Ry altyd met jou voertuig se hoofligte aan. Dit maak dit jou meer sigbaar vir ander voertuie – nie net op die teerpad nie, maar ook op stowwerige grondpaaie wanneer iemand dalk ’n aankomende voertuig wil verbysteek. As jou ligte aan is, sal daardie bestuurder jou makliker deur die stof kan sien.