Foto’s Verskaf

Skurweberg is ’n werkende skaapplaas in die Roggeveld, sowat 45 km buite Sutherland. Die plaas lê in ’n vallei weerskante van die Visrivier, skaars ’n hanetree van die Oubergpas wat teen die platorand af tot in die Tankwa-Karoo kronkel. Jy kan in ’n selfsorghuis kom oorslaap óf kamp langs die rivier.

Doendinge is hier oorgenoeg: stap, bergfietsry, in die rivier swem, sterrekyk of bloot die plaaslewe saam met Witjan en Elsa van der Merwe ervaar.

Maar Skurweberg is eintlik meer bekend vir sy 4x4-roete al langs die platorand, met uitdagende kliphindernisse en besonderse uitsigte oor die Tankwa.

Hoe lyk dit, sien jy kans vir Granny’s Bum, Broekskeur en Banggat?

Só ry jy

Die roete begin en eindig by die plaashuis. Die pad begin dadelik teen Kameelkop uitklim en jy ry effens wipplank oor ’n aantal reënwalle wat dwars oor die pad loop. Hierdie eerste paar kilo’s is nog nie té klipperig nie, maar van Red Rock af begin die pad ordentlik vol klippe raak.

Duskant Red Rock is ’n lus wat lei na ’n klipbank met twee ronde knoppe – dit word Granny’s Bum genoem. As jy lus voel, kan jy jou bakkie se klipkloutervermoë hier toets óf by twee ander klipbanke, die SS en Hot Rock. Wees gewaarsku: Vir hierdie steiltes het jy hare op jou tande nodig.

’n Ent verder kan jy afdraai om te gaan kyk na ’n witkruisarendnes op ’n skerp rotspunt wat soos ’n skewe tand van ’n krans af uitstaan. As jy gelukkig is, sien jy dalk een van die arende.

Kort daarna bereik jy Ysterkop met ’n pragtige panoramiese uitsig oor die Ceresvallei en die Tankwa dóér onder. Jy volg die pad al langs die rand na Karoopunt, en kort voor lank kners jy op jou tande by Broekskeur, ’n kort maar steil kliptrap wat sy naam gestand doen.

Hoe lyk dit, sien jy kans vir Granny’s Bum, Broekskeur en Banggat?

Maar die eintlike senuweetoets kom by Banggat, ’n steilte met los klippe wat jou verder met die Skuinsvoetpad bergaf lei. Jy kan wel kies om hier om te draai, maar hou in gedagte dat jy sy naam saam met jou gaan dra.

Skuinsvoetpad is ’n skaaproete uit toeka se dae waarmee die Van der Merwes die skaap in die winter laat aftrek. Al is die pad vandag darem ’n tweespoor, is dit steeds redelik steil met baie los gruis; dus sal laestrek of afdraandebeheer handig te pas kom.

Die pad loop verby Winteroord, die Van Der Merwes se winterhuis, en sluit mettertyd by die Oubergpas aan. Jy ry teen dié pas op terug plaas toe.

Wat jy moet weet

Maksimum getal voertuie ’n Minimum van 6 voertuie en ’n maksimum van 12 word op die roete toegelaat.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Waarskynlik nie, want hier is bittermin doringbome.

Moet ek ’n kompressor saamneem? As jy een het, ja, maar daar is ook een op die plaas.

Kan ons langs die pad braai? Nee, net in die kampplek.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Daar is net ’n bietjie MTN-sein hier en daar op die roete.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? In die somer, want in die wintermaande (Mei tot September) kan dit sneeu.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? As jy op Sutherland bly, kan jy vir die dag kom, maar andersins maak dit meer sin om vir ’n naweek te kom.

Is daar ablusiegeriewe? Sowat 18 km die roete in, by Winteroord, is ’n toilet vir noodgevalle.

Aanwysings By Matjiesfontein draai jy van die N1 af op die R354 en mik vir Sutherland.

Draai 2 km voor die dorp af (kyk vir die Ouberg-bord), en 43 km later sal jy die Skurweberg-afdraai kry.

GPS S32.289474 E20.374343

Wat kos dit? R250 per voertuig.

Kontak  023 571 2728 of 023 004 0012;  skurweberg@roggeveld.co.za