Francois Rossouw, wat RSG se 4x4-toere behartig en al vir 21 jaar sneeutoere doen, het vir ons ’n paar wenke gegee: “Swart ys lyk nes ’n nat pad maar hy’s so glad soos ’n politikus se mond. Ek het dit eendag getref teen Motengpas. Die pad het normaal gelyk, maar toe ek weer sien begin my voertuig spin.”

Sneeu, sê hy, kan ook gevaarlik wees. “Dis bitter glibberig en jou rem- en stuurvermoë is baie min. Jy moet beslis goeie oordeel gebruik as jy in Lesotho in die sneeuseisoen wil ry.” 

Die omstandighede verander ongelooflik vinnig as dit eers begin sneeu, sê hy. “Jy kan sommer gou vasval of van die pad af gly. Daarom sê ek altyd, as jy sien dit begin sneeu, moenie nog kuier of eens verder dink nie. Gebruik jou goeie oordeel.”


Francois se raad is eenvoudig:


1. Hou koers. Soek vir spore wat voor jou gery is en bly in hulle.

2. Vat dit rustig. Ry stadig, in 4x4, en laestrek as jy het. 

3. Suinig met die lockers. Gebruik die agterste ewenaarslot net in uiterste gevalle. 

4. Verminder jou banddruk. Papper bande kom verder in sneeu. Francois beveel 1.6 bar aan.

5. Hang terug. Verdubbel jou volgafstand. 

6. Wees ’n McGyver. Francois het al in die verlede ’n staalpaal langs die pad en ’n sleeptou gebruik om voertuie te anker terwyl hulle oor ys ry. 

7. Bly regop. Moet nóóit op ys teen ’n sywaartse helling ry nie. 

8. En bly hoog. As die sneeu aan jou onderstel begin stamp, moenie verder ry nie. Sneeu kompakteer, veral op ’n middelmannetjie, en word ’n klipharde blok ys waarop jou voertuig kan hang.



Sien swart ys só:

Swart ys vorm op nat paaie en word gewoonlik voorafgegaan deur ’n stuk nat pad. As jy dus sien die pad is nat en die temperatuur baie laag, wees wakker – 

• kyk of die pad ongewoon baie blink in die son; 
• kyk teen die kante van die pad – jy sien soms wit stukkies waar die water gevries het;
• inspekteer die oppervlak te voet as dit moet.